Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
70 jaar van Navo

Navo is hierdie week 70 jaar oud, maar hoe lank gaan die organisasie steeds ’n stabiliserende rol in Europa speel, wonder Leopold Scholtz.

Leiers van Navo-lidlande, insluitend die VSA se pres. Dwight D. Eisenhower (heel regs) en die Britse premier Harold Macmillan (2de van regs), op ’n spitsberaad in Parys in 1960. Foto: Getty

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is op 4 April 1949 gestig met die ondertekening van die Noord-Atlantiese Handves deur 12 lande. Die kern van die handves is art. 5, wat daarop neerkom dat ’n aanval op enige lidland as ’n aanval op álmal beskou word.

Dit is dus ’n bondgenootskap van lande wat beloof om mekaar militêr te hulp te snel. Die handves is geteken in historiese omstandighede wat toe gekenmerk is deur die gevaar van Josef Stalin se Sowjetunie.

Stalin het die gebiede waar sy weermag die Duitse Wehrmacht in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog verdryf het, in ’n steeds knellender ystergreep vasgevat.

Regerings van nasionale eenheid – blote rookskerms – is toenemend vervang met kommunistiese diktature waarvan hý die leiers uitgekies het. Net enkele maande vantevore, vanaf Junie 1948, het Stalin alle toegangsweë tot Wes-Berlyn geblokkeer en die Westerse moondhede gedwing om dié stad met ’n lugbrug bevoorraad te hou.

Dat Stalin Wes-Europa destyds nié binnegeval het nie, was minstens deels aan die gespierde Westerse militêr-politieke antwoord te danke.

Die bedreiging het om ’n militêre oplossing geskreeu, en Navo was die antwoord. Dat Stalin Wes-Europa destyds nié binnegeval het nie, was minstens deels aan die gespierde Westerse militêr-politieke antwoord te danke. Die USSR se antwoord was sy eie militêre bondgenootskap, die Warschau-verdrag, wat in 1955 tot stand gekom het.

Dié magsewewig het regdeur die Koue Oorlog voortbestaan. Verskeie kere het die wêreld op die randjie van ’n afgrond – ’n allesverwoestende kernoorlog wat alle lewe op aarde sou uitgewis het – gestaan, maar Navo se vasbeslote antwoord, versterk deur die enorme militêre en ekonomiese krag van Amerika, het bygedra tot die behoud van vrede.

Maar toe die Warschau-verdrag in 1990 ná die val van die Berlynse Muur ontbind word, het dié Navo-oorwinning die potensiaal gehad om terselfdertyd die organisasie se grootste krisis te word. Wat sou sy bestaansrede in die afwesigheid van ’n bedreiging wees?

Dit het ’n tyd geduur voordat ’n antwoord gevind is. Dié antwoord was hoofsaaklik dat Navo ’n stabiliserende faktor sou wees in ’n wêreld wat sy weg in ongekarteerde waters probeer vind het.

Dus het Navo ’n rol gespeel om Serwiese aggressie in die Balkan en die Islamities-fundamentalistiese gevaar in Afganistan hok te slaan. Trouens, ná die terreuraanvalle van 9/11 is art. 5 van die Navo-handves die eerste keer formeel in werking gestel deurdat die organisasie Amerika te hulp gesnel het.

Terselfdertyd het die internasionale politiek ’n merkwaardige vreedsame geopolitieke herskikking beleef deurdat verskeie voormalige lidlande van die Warschau-verdrag – Hongarye, Pole, Tsjeggië, die Baltiese state, asook Montenegro – hulle by Navo aangesluit het. Bowendien staan Bosnië-Herzegowina en Noord-Macedonië in die tou om ook aan te sluit, terwyl Oekraïne en Georgië ook sulke voornemens het.

Maar Navo moes ’n prys hiervoor betaal. Deur die vergroting is Rusland onder pres. Wladimir Poetin in ’n verbitterde vyand omskep.

Waarnemers verskil oor of Navo die regte ding gedoen het.

Die een skool meen as Navo ná sy Koue Oorlog-sege meer beskeie was, sou hy Rusland in ’n vriend kon omskep het. Ander meen Rusland se belange is só teenstrydig met dié van die Weste dat enige “vriendskap” vroeër of later op die rotse van die werklikheid sou gestrand het.

Bowendien, word gesê, die nuwe Navo-state het tog ’n reg om self daaroor te besluit. As Navo hulle gekeer het, sou hy Rusland se voortgesette heerskappy oor Sentraal- en Oos-Europa bevestig het.

Hoe ook al, dis ’n feit dat die Russiese houding die laaste jare deur ’n hernieude gewapende vrede gekenmerk word. Poetin is soos ’n skaakspeler: Hy kyk waar hy ’n gaping sien en val dan daar aan.

In 2008 was dit die geval in Georgië, waar hy ’n gebied eenvoudig hardhandig beset het. In 2014 het hy dit op die Krim en in Oos-Oekraïne herhaal. Navo het geblaak van woede en gespierde verklarings uitgereik, maar kon nie veel doen nie.

Maar Poetin betaal nou sy eie prys vir dié suksesse. Sy optrede in die Krim en in Oos-Oekraïne het die organisasie wakker geskud. In 2015 het die regeringsleiers op ’n spitsberaad onderneem om hul verdedigingsuitgawes teen 2024 tot 2% van hul bruto binnelandse produk te vermeerder en op beduidende skaal te herbewapen.

Dit beteken dat Poetin waarskynlik nie so maklik weer ’n gaping sal vind nie. As hy byvoorbeeld die Oosseestate sou probeer aanval, sal hy kragtens art. 5 met die hele organisasie te make kry.

Altans – dít is die teorie. In die praktyk is daar twyfel hieroor.

In Washington waai naamlik ’n koue wind sedert Januarie 2017, toe pres. Donald Trump sy koffers in die Withuis uitgepak het. Reeds tydens die verkiesingsveldtog het Trump geluide gemaak wat daarop gedui het dat hy nie veel ooghare vir Navo het nie.

Luidens sy eie uitsprake benader Trump die internasionale politiek soos ’n sakeman met ’n middelgrootte maatskappy. Hy sien twee kolomme: inkomste en uitgawes, en as die uitgawes groter as die inkomste is, wil hy dit besnoei.

Dus het hy verskeie kere gevra hoekom Amerika duur moet betaal vir militêre hulp aan Navo, Suid-Korea en Japan terwyl daardie lande lekker knus agter die breë Amerikaanse skouers skuil en te min aan hul eie verdediging bestee. Trouens, hy het verskeie kere al te kenne gegee Navo is “verouderd” en twyfel gesaai oor sy verbintenis tot art. 5.

Kragtens die Navo-besluit van 2015 het alle lidlande hul verdedigingsbegrotings begin verhoog, maar sommige sal teen 2024 nog nie die beloofde 2% haal nie.

Onder hulle is Duitsland ongetwyfeld die belangrikste. Onlangs het die invloedryke nuustydskrif Der Spiegel die regering van bondskanselier Angela Merkel in ’n verwoestende hoofartikel aangekla dat hy die land se veiligheid verwaarloos.

Tans bestee slegs sewe van die 28 lidlande 2% of meer. As Poetin êrens na ’n gaping soek, sal hy dit moontlik hiér kry.

Maar ’n nuwe bedreiging is verder ooswaarts aan die opdoem: China se skouspelagtige ekonomiese ontwikkeling bied die fondament vir ’n taamlik kragdadige buitelandse beleid.

Trump se voorganger, pres. Barack Obama, het reeds die Chinese gevaar ingesien en ’n “skarnier” op militêre gebied weg van Europa en die Midde-Ooste na die Stille Oseaan voorgestaan. Trump maak op handelsterrein kwaai rusie met China en eis van Navo om ook stappe teen die Chinese “bedreiging” te doen.

Dit sal bietjie moeilik wees, aangesien die volledige naam van Navo dit al te kenne gee – die geografiese gebied waarvoor hy verantwoordelik is, is die Noord-Atlantiese omgewing. Met ander woorde, Noord-Amerika en Europa, nie die Stille Oseaan nie.

Navo se 70ste verjaardag word vandeesweek met ’n spitsberaad by sy hoofkwartier in Brussel gevier. Maar die politieke leiers hou hul hart al vas uit vrees dat die onvoorspelbare Trump opnuut moles kan maak.

Trump het beslis ’n punt beet met sy ontevredenheid oor gebrekkige verdedigingsuitgawes, sê die meeste waarnemers. Maar daar is dalk beter maniere om dit aan te pak as sy gereelde vloermoere.

* Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Navo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.