Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaners moet ‘middelgrond’ kry
Krisisse lê in ekstreme standpunte
As Afrikaners hulle in die toekoms steeds sterker tot ’n gemeenskapsbenadering verbind, is belangrike lewensbeskoulike voorwaardes daaraan verbonde, het prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, in Bloemfontein gesê met die toekenning van die NP van Wyk Louw-eerbewys vir die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis aan die skrywer Karel Schoeman.
Prof. Danie Goosen

Afrikaners sal met die oog op ’n suksesvolle gemeenskapstrategie ’n middelgrond moet opsoek vanwaar hulle vir hulle as kultuurgemeenskap kan intree.

Afrikaners is nie ekstreme mense nie. Ons hou nie van uiterstes nie. Inteendeel, verreweg die meeste Afrikaners vind hulle eerder in ’n lewensbeskoulike middelgrond tuis.

Om ons in so ’n middelgrond tuis te maak is nie ’n teken van swakheid nie. Inteendeel, ons as Afrikaners is nog altyd die sterkste wanneer ons vanuit so ’n middelgrond dink en handel. Tegelyk is ons op ons swakste wanneer ons deur ekstreme standpunte uitmekaar gedryf word.

Die verlammende twiste tussen Afrikaners in die groot oorgang in die vroeë jare negentig is die beste getuienis hiervan. In plaas daarvan dat ons toe eenheid rondom ’n middelgrond opgesoek het, was ons hopeloos verdeel. In menige opsigte is die krisisse waarmee Afrikaners vandag te doen het die gevolg hiervan, naamlik die gebrek aan ’n middelgrond.

NP van Wyk Louw het dié krisis bykans profeties geantisipeer toe hy reeds dekades voor die jare negentig gepleit het ons moet oënskynlik uiteenlopende standpunte in hul samehang raaksien.

“Ek glo . . . aan die nugter oordeel en die gematigdheid van die meerderheid van ons volk”, het hy geskryf (aangehaal uit J.C. Steyn 1998: 991). Louw se destydse voorbeeld was natuurlik die oënskynlik uitsluitende begrippe “liberaal” en “nasionaal”. Destyds wou hy hê ons moes ’n middelgrond in die “liberale nasionalisme” vind. Daarmee wou hy voorkom dat ons in ekstreme standpunte uiteenval.

Vandag sal ons nie noodwendig soos Louw vir die liberale nasionalisme pleit nie, maar eerder vir die samehang tussen individu en gemeenskap; vir die samehang tussen ’n beskerming van die eie gemeenskap en samewerking met ander gemeenskappe; vir die samehang tussen ons tradisie en die moderne wêreld, verlede en hede; vir die samehang tussen ons eie gemeenskaplike strewe na die goeie en die grondwetlike klem op menseregte, ensovoorts.

Maar hoe ons ook al die middelgrond formuleer, ten grondslag hiervan lê, soos by Louw, die soeke na daardie kragtige versamelpunt van waar ons met selfvertroue, ewewig en ’n gesonde toekomsvisie kan handel.

Vryheid

In die hart van ’n kultuurstrategie wat op die gemeenskapsgedagte gegrond is, staan die idee van vryheid. Die vryheid wat ons tans binne die grondwetlike orde het (en wat teoreties gesproke deur die staat beskerm moet word), is die vryheid van keuse. Afrikaners se aandrang op hul vryheid van keuse is belangrik. Dit moet telkens weer deur ons opgeneem en – indien dit moet – in die howe verdedig word.

Maar vir gemeenskappe is daar ook ’n ander, en selfs belangriker, vryheid wat nagestrewe moet word. Ons kan dit die vryheid van verwerkliking noem. Dit is ’n vryheid wat nie in en deur staatlike strukture tot sy reg kom nie, maar in en deur gemeenskapsinstansies, dit wil sê van onder af, van die gemeenskap self. Wat word daarmee bedoel?

Indien ek as onderwyser op ’n voortreflike wyse klasgee, word ek as onderwyser verwerklik. Dieselfde geld ons musici, huisvroue, prokureurs, boere, dominees, skrywers, sportmense, ensovoorts. Indien ons die dinge op ’n voortreflike wyse binne die veelheid van gemeenskapsforums doen, word ons verwerklik. En wanneer dit gebeur, so leer ons eeue oue Westers-Christelike tradisie, kan geluk ons as gemeenskap te beurt val.

Vryheid van keuse is belangrik. Daarmee kan ons nee vir onnodige inmenging in ons lewe sê. Maar die vryheid van verwerkliking is eweneens belangrik. Daarmee kan ons vir geluk ja sê – nie net van ons as individue nie, maar ook vir ons as gemeenskap. Oor ons tradisie heen is dié geluk as ’n hoë doelwit van die gemeenskapslewe ervaar. In en deur dié geluk kan ons as gemeenskappe gedy, ook ons as Afrikaners.

’n Gemeenskap se plekke

State regeer oor groot ruimtes. Kyk maar na die landskaarte. Moderne state trek kaarte en gooi kunsmatige ruitpatrone oor groot en omvattende gebiede.

Gemeenskappe, daarteenoor, kom nie tot hul reg in groot ruimtes nie. Gemeenskappe soek eerder plekke op waar hulle veilig kan wees, kan handel en geluk kan ervaar.

Plekke is dinge soos gemeenskapsinstansies (soos gesinne, skole, universiteite, kultuurorganisasies, kunsterade, teaters, sakeondernemings ensovoorts), maar ook historiese terreine, woonbuurtes, dorpe, plaaslike gebiede en selfs enkele stede met hul pleine, strate, restaurante en teaters.

Hierin lê een van ons grootste uitdagings. Ons het nie groot staatlike ruimtes nodig nie. Trouens, wat wil Afrikaners met groot staatlike ruimtes doen? Ons het eerder konkrete plekke nodig waar ’n gemeenskaplike lewe tot haar reg kan kom.

Om ons plekke op te eis is nie ’n onmoontlike opgawe wat – soos met onmoontlike eise – ons in ’n spiraal van teleurgestelde verwagtinge vasgevang hou nie. Dit is moontlik, uitvoerbaar, haalbaar. Trouens, Afrikaners gee reeds op ’n suksesvolle wyse konkrete beslag aan sodanige instellings en plekke. Dit moet steeds verder uitgebou word.

In God geanker

Moderne state gaan dikwels van die standpunt uit dat hulle godsdienstig gesproke neutraal moet wees. In plaas daarvan om in God geanker te wees verkies hulle dikwels om vanuit ’n soort neutrale niks te vertrek. ’n Voorbeeld hiervan is die stille gebed wat op staatsgeleenthede gebruik word. Ten diepste rus dit op die gedagte van ’n neutrale werklikheid van waar verhoudings tussen verskillende godsdienstige tradisies onderling gereguleer word.

’n Gemeenskap soos die Afrikaners daarenteen het nog nooit anders gedoen as om hulle in die lewende God van die Bybel te anker nie. Wanneer ons vandag oor die toekoms van ons as gemeenskap nadink, kan dit ook nie anders wees nie. Ons kan dink, verbeel en handel soos ons wil, maar indien dit nie in dié ewige Waarheid gegrond is nie, is dit alles tot niks gedoem.

NP van Wyk Louw het dit geglo. Ons sluit met ’n aanhaling uit sy werk af. Hy skryf die Afrikaners moet in die ewige waarheid van die geloof geanker bly. In sy eie woorde: “Daar word ’n hoër standpunt vereis. Dit klink dapper om te roep: Vertrou op God, en loop jou pad met eer! Maar dit is nie ons pad wat geloop en ons eer wat behou moet word nie. Dis God s’n . . . Laat ons in ons krisis vandag eerder dink aan die grootste gebod: Jy moet God liefhê, en jou naaste soos jouself. Let op: nie ‘jou naaste méér as jouself nie’ . . . Jy moet hom liefhê soos jy deur ’n goddelike gebod jou durf liefhê, maar nié minder nie” (Steyn 1998:973).

Daarmee het Louw, reeds dekades gelede, op ’n kernagtige wyse saamgevat wat nodig is om ’n gemeenskaplike toekoms te verwesenlik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.