Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AKTUEEL
Akademia moet versigtig wees vir laer trek
As die voorstanders van die nuwe Afrikaanse universiteit, Akademia, ’n ‘volksuniversiteit’ vir ‘Afrikaner- Christene’ in gedagte het, sien hy probleme, sê Wannie Carstens.
Hierdie woorde sluit uit, en nie in nie.

Die Afrikaanse universiteit Akademia – die geesteskind van Solidariteit – moet ’n “gemeenskaps­universiteit wees wat inklusief is, met ’n Christelike karakter”. So argumenteer ​prof. Danie Goosen verlede week in Weekliks.

Elders word daar gesê dié universiteit moet ’n “Afrikaanse Harvard” wees, met ander woorde dit moet ’n instelling wees waarvan sy studente kan meeding met die beste ter wêreld.

Voordat Akademia egter ’n “Harvard” kan word (of selfs gereken kan word op die vlak van topuniversiteite in Suid-Afrika), is daar ’n aantal vereistes wat nagekom moet word:

 Die gehalte van die opleiding en die navorsing van die studente en personeel moet uitstaande wees;

 Die waarde van die kwalifikasies (voorgraads en nagraads) moet gesog wees in die arbeidsmark;

 Die universiteit moet ’n gesogte plek wees waarheen mense wíl kom vir hul opleiding; en

 Die universiteit moet deeglik gefinansier wees. (Die bogenoemde drie faktore bepaal die sukses van hierdie faktor.)

Voldoen Akademia hieraan? Nee, nog nie, en waarskynlik op lang termyn ook nie. Maar: Dit moet ’n stréwe wees, nie net van Akademia nie, maar van elke ander universiteit in die land.

Goosen argumenteer verder Akademia behoort ’n gemeenskapsuniversiteit te wees. Hiermee bedoel hy, soos ek dit aflei, dat dit ’n universiteit kan wees wat ’n spesifieke gemeenskap wil bedien. Daarmee is daar geen fout te vind nie.

Ek dink die dilemma lê hier in hoe jy presies definieer wat verstaan word onder die gemeenskap wat bedien moet word.

Tydens ’n onlangse gesprek oor Akademia by die Voortrekkermonument het ek woorde gehoor wat my bekommer, soos “volk”, “die Afrikaner” en “Christen”.

As dit die geval is, is die idee van Akademia onder groot druk. Hierdie woorde sluit uit, en nie in nie. Of mense dit wil hoor of nie.

As ons eerder praat van die “Afrikaanssprekende gemeenskap”, het ons ’n beter kans op sukses. Dit kan ook ’n nis skep vir die Afrikaanse gemeenskap wat elders in die land ervaar dat hulle opleiding in hul moedertaal in gevaar is.

Aan die Universiteit van die Vrystaat is Afrikaans se rol beduidend afgeskaal, soos aan die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria, asook aan die Universiteit Stellenbosch (waar Afrikaans nie meer ’n ankertaal is nie). Ook aan die NWU is die Potchefstroomkampus se Afrikaanse karakter tans onder enorme druk.

Daar word dus ʼn verlies aan Afrikaans in die openbare tersiêre sektor ervaar, en dit kan die gaping skep vir ’n private universiteit, soos Akademia, om in ’n opleidingsbehoefte in Afrikaans te voorsien.

Daar is ’n mark daarvoor.

Hierdie mark se vereiste behoort egter deurgaans te wees: Ons soek uitstekende opleiding, verkieslik in ons moedertaal, en ons vra dat die kwalifikasies wat aan hierdie instelling verwerf word, gesog moet wees en met gehalte geassosieer moet word.

Dán kan ons eers begin praat oor ’n Afrikaanse Harvard.

 Prof. Wannie Carstens is direkteur van die skool vir tale op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.