Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Belhar-belydenis in NG Kerk: ‘Hou op om ons te boelie’
Henning Pieterse, NG lidmaat, rig dié brief oor die Belhar-belydenis aan prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk se algemene sinode.
Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk se algemene sinode.

‘Ek skryf oor die berig in Beeld oor die “nuwe paaie wat nou gesoek moet word” om Belhar as belydenisskrif aanvaar te kry.

Ek is nie so geleerd soos u nie. U posisie as moderator is baie belangrik en ek wil dit geensins pak nie.

Doodgewoon wil ek my opinie lug oor die debat rondom Belhar en dit uit die oogpunt van ’n gewone lidmaat.

Eintlik is ek op die punt waar ek redelik keelvol is omdat die geskrif in die lidmate se keel afgeforseer word. Dit voel regtig of ons gewone lidmate geboelie word om Belhar te aanvaar. As ’n mens iemand lank genoeg boelie, gaan hy naderhand handdoek ingooi.

Ek gaan nie.

Die kerkordelike roete is gevolg deurdat daar ’n stemmery was. Die uitslag is bekend en die tweederde-meerderheid van streeksinodes se toestemming tot die wysiging van die Kerkorde is nie bereik nie.

U tree nou op soos baie diktators: U verwerp die uitslag van die demokratiese verkiesing en wil nou allerhande ander paaie stap om u doel te bereik. Vergewe my as dit klink of ek u persoonlik pak – dit is glad nie die bedoeling nie, daarvoor eer ek die gesag wat oor my aangestel is te veel, in ooreenstemming met Romeine 13.

Hoe is dit moontlik dat sekere lidmate en selfs sekere streeksinodes dalk toegelaat kan word om Belhar as belydenisskrif te aanvaar en ander nie?

Sal dit beteken dat ’n predikant wat dit aanvaar, beperk gaan wees in beroepe tot daardie sinodes wat dit wel aanvaar het en ander sinodes wat dit nie aanvaar het nie vir hom uitgesluit gaan wees?

Dit kan tog nie.

In al die bevestigings van lidmate in spesifieke ampte word gevra of die mens die leer van die kerk aanvaar soos dit in daardie spesifieke gemeente voorgehou word.

Gaan ons nou die geleentheid kry om ja te sê, maar met Belhar uitgesluit?

Dit kan tog nie.

Voorheen het die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk) dit as voorwaarde gestel dat Belhar as belydenisskrif aanvaar moet word voordat hulle toestem tot eenwording.

Dit is nou nie meer ’n vereiste nie, maar nogtans bly dit veral uit die VGK se oogpunt belangrik.

Is dit een van die “nuwe paaie” wat gesoek is om Belhar aanvaar te kry? Die NG Kerk het besef dat daar teenkanting is teen die aanvaarding van Belhar en is daar toe besluit om dit nie as voorwaarde te stel nie?

Dit sou Belhar dan aanvaarbaarder maak?

Laat my asseblief toe om my standpunt oor Belhar te gee.

Vir my is die aanvaarding van Belhar as belydenisskrif in 1986 nie geskiedenis nie. Dit is ’n saak van die dag.

Ek “vrees nie verandering nie” en is nie “skaamkwaad oor die verlede” nie.

Ek was op die sinodesitting in Rustenburg waar besluit is om te gaan belydenis doen en verskoning te vra vir die onreg van apartheid.

Vir seker is politiek aan Belhar gekoppel. Maar laat ek u verseker dat ek lankal die politiekery rondom Belhar agtergelaat het.

Vir my gaan dit doodeenvoudig oor wat bedoel word met ’n belydenisskrif en ek sal dit waardeer as u my reghelp waar my kennis my ná 35 jaar as kategeet in die steek laat.

’n Belydenisskrif is tog ’n samevatting van wat ek glo. Dit is Skrifgefundeerd en help om my te herinner en by te staan wanneer my geloof in die gedrang kom.

Ek “vrees nie verandering nie” en is nie “skaamkwaad oor die verlede” nie.

Die bestaande formuliere in die kerk het ons oor honderde jare deur troebel waters gelei. Ek het talle jongmense oor 35 jaar heen uit die NG kategetehandleidings geleer dat enigiemand wat strydig daarmee leer, dwaal.

U sal die dae onthou toe selfs die AGS (Apostoliese Geloofsending) as ’n sekte aangedui is. Laat ek sommer nou aan die AGS verskoning aanbied hiervoor.

Die AGS is en was nog nooit ketters nie; apartheid is en was nie reg nie. Dit is nou baie duidelik, in teenstelling met die verlede toe ons aanvaar het dat alles wat in handleidings aangebied word die waarheid is.

Iemand het baie jare gelede (ongeveer 1988) in ’n omgee-groepbyeenkoms die predikant in ons groep gevra wat ’n spesifieke kerk se beleid is en wat hulle glo.

Sy antwoord bly my veral in hierdie tyd by: “Kom ek vertel jou eerder wat ék glo.”

Ook wat Belhar aanbetref, kan ek u verseker dat ek dit sorgvuldig bestudeer het en tot die volgende slotsom gekom het: Met die inhoud van die geskrif kan ek grootliks saamleef, maar om dit as belydenisskrif aan te bied, is, in teenstelling met die reeds bestaande formuliere, nie vir my aanvaarbaar nie.

U sê veral jonger mense raak ongeduldig oor die aanvaarding van Belhar. Dit bekommer my, hoewel ek dieselfde waarneming maak.

Al wat dit bevestig, is dat die kerk en mense soos ek, wat baie jare die voorreg gehad het om die jonger geslag se denke rondom die kerk te help vorm, misluk het.

Die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls skiet vir my nie tekort nie.

Wat my betref, is die genoemde belydenisse voldoende. Niks wat Belhar bied, verander of voeg enigiets by nie.

Wat Belhar betref, is my antwoord eenvoudig: Getel, getel, geweeg en verdeel.

Miskien het dit tyd geword (ook vir die VGK) om aan te beweeg ná die streeksinodes se stemuitslae. Indien Belhar in die toekoms tog wel aanvaar word, sal dit natuurlik kom en nie weens boelietaktiek nie.

NG lidmate word nie meer geboelie oor sake soos apartheid en hul siening oor die AGS nie.”

Met hoogagting,

Henning Pieterse.

■ Pieterse is 'n lidmaat van die NG gemeente Elarduspark, Pretoria.


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.