Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Breinchirurgie sonder n enkele snit
Die man op die operasietafel was al meer as tien keer onder die mes om ’n gewas te verwyder. Vandag sal sy skedel nie weer oopgesny word nie – ’n voorste geneesheer sal die gewas sonder ’n enkele snit deur sy neus uithaal. Elsabé Brits was daar.
Prof. Darlene Lubbe (middel), ’n oor-neus-en-keel-spesialis van die Groote Schuur-hospitaal en die Universiteit van Kaapstad, verwyder ’n gewas teen die brein endoskopies. Links staan prof. Patrick Semple, en regs is dr. Gavin Quail. Met

Dillon (47) het ’n gewas so groot soos ’n klein aartappel wat teen sy brein druk en sy lewe bedreig.

Hy lê in die hoofteater-kompleks in die Groote Schuur-hospitaal in Observatory, Kaapstad, waar al 17 tea­ters druk besig is.

’n Lang sny loop oor Dillon se gesig – die litteken van vorige operasies.

“Ek gaan maar aan,” sê dié kleinhandelaar van Guguletu. “Ek lewe nog. Dit het my lewe sedert 1990 begin verwoes.”

Met my besoek praat almal gelyk toe die susters, en selfs ’n vrou wat mediese toestelle verkoop, in die gange hoor dat ek hier is om prof. Dar­lene Lubbe, ’n oor-neus-en-keel-spesialis, te sien opereer: “Sy doen dinge waarvoor ander dokters nie kans sien nie,” sê een. “Sy haal gewasse uit wat ánder nie kán uitkry nie,” sê ’n ander een.

Lubbe (43), wat in die Groote Schuur-hospitaal en aan die Universiteit van Kaapstad werk, verwyder gewasse endoskopies. “Ek werk deur die neusholtes. Of, as dit moet, maak ek ’n baie klein snytjie langs die oogkas.” Sy wys na die area tussen haar oog en neus.

Mense moet weet daar is ander keuses: Dis nie altyd nodig om ’n sny tussen jou oë deur te kry wat soms langs jou neus afloop tot by jou kaak nie. Ook nie om ’n enorme stuk van die skedelbeen te verwyder (kraniotomie) nie. Sy en ’n neurochirurg kan gewasse in die sinus, neus, basis van die skedel, pituïtêre klier en selfs in ander dele van die brein endoskopies verwyder.

Dillon se gewas (hemangiopericytoma) is nie kwaadaardig nie, maar sal sy dood veroorsaak “indien ons dit sou los”.

Prof. Allan Taylor, neurochirurg, het ’n week voor die tyd die bloedtoevoer na die gewas soveel moontlik afgesny (embolisasie). ’n Kateter is by Dillon se lies al langs ’n slagaar tot by die gewas in die brein ingevoer.

’n Kontrasmiddel is ingespuit sodat Taylor die bloedtoevoer op X-strale, wat op rekenaar vertoon word, kon sien.

“Ons sit dan kateters van verskillende groottes binne-in die gewas om die bloedtoevloei af te sny. En wanneer die are te klein word, spuit ons klein, steriele plastiek-deeltjies, wat soos poeier lyk, in.” Dit sluit die bloedtoevoer nog verder af.

Ses hande wat werk

Voor ’n magnetiese resonansiebeelding (MRI) van Dillon se brein in die teater verduidelik Lubbe dat ’n toestel soos ’n GPS op sy voorkop aangebring word. Dit word gekalibreer met ’n rekenaar waarop die MRI gelaai is. Sodoende word die MRI met die pasiënt op die operasietafel versoen.

Dillon is nou reeds onder narkose.

Indien Lubbe twyfel terwyl sy besig is om te opereer, druk sy die navigasie-instrument op dié plek. Dit wys op ’n rekenaar waar sy in die pasiënt se brein is. “Dit waarsku my indien ek dalk 1 mm van die breinvlies of dalk van ’n slagaar is,” sê sy.

Hulle dink soos een mens. Die een moet kan verwag wat die ander een gaan doen nog voordat dit gedoen word. Dan begin dit bloei. ’n Verpakking word ingedruk om die bloed te stuit, en dit word met ’n buis opgesuig. Dit is soos ’n dans om die operasietafel.
Die groot wit “kol” links is die gewas wat so groot soos ’n klein aartappel is. Reg oorkant is nog ’n kleiner gewas. Die pasiënt se neusholte (swart gat in die middel van die skandering) is uitermate groot (sowat 10&thins

Lubbe sny dadelik die eerste gewas – so groot soos ’n Smartie – uit sy neus. Dan gaan sy verder af in die neus, deur die sinus, tot agter die regteroog (infra-temporale fossa).

“Ek verkies om met ses hande te werk,” sê sy en wys na die endoskopiese instrumente. Ses dinge kan gelyk gebeur. Sy werk met twee instrumente van haar keuse en word bygestaan deur prof. Patrick Semple, neurochirurg, wat oorkant haar staan en op sy beurt ook twee instrumente kan hanteer.

Dr. Gavin Quail, een van Lubbe se studente, help ook.

Lubbe kyk dáár op die monitor wat sy doen, maar werk reg vóór haar deur Dillon se regterneusgat. Dit is amper soos om met fyn instrumente te tik sonder om op jou hande te kyk – met die groot verskil dat jy nooit ’n fout mag maak nie.

Sy gebruik ’n laser om die gewas stuk vir stuk weg te “brand”. Die gewas is wit en sonder bloedtoevoer, soos Taylor beloof het. Stukkie vir stukkie kalwe Lubbe die gewas weg, amper soos ’n vrug wat geskil word. Semple sê: “Ek is die rem en sy is die versneller. Ek waarsku haar: Kyk dáár, en dáár kan ons nie gaan nie.” Hy wys met die navigasietoestel.

Hulle dink soos een mens. Die een moet kan verwag wat die ander een gaan doen nog voordat dit gedoen word. Dan begin dit bloei. ’n Verpakking word ingedruk om die bloed te stuit, en dit word met ’n buis opgesuig. Dit is soos ’n dans om die operasietafel.

Dieper en dieper gaan haal Lubbe die gewas uit. “Dit is omtrent so groot soos ’n klein aartappel.” Sy maak haar vingers rond.

Sy gebruik die hoë frekwensies van ’n ultrasoniese dissekteerder om die gewas stuk vir stuk verder af te breek. “Dis soos om hom uit te hol en weg te suig,” sê sy.

Vyf instrumente is in ’n stadium gelyk in Dillon se neus, meer as 15 cm diep. Dit voel soos ’n ewige geveg, asof daar net al hoe meer van die gewas is.

Dan is daar been. Dit is die vloer van die temporale fossa (’n been in die skedel) waarteen die gewas gedruk het. “Gewasse is soos branders; hulle kan been erodeer,” verduidelik Lubbe. Gelukkig is die been nog gesond.

Hulle besluit saam om te stop – verder kan hulle nie. Die kopslagaar is 2 mm verder na dié kant toe, wys Semple. Die seerste van dié operasie gaan ’n klein wond aan Dillon se neusvleuel wees waar die instrumente wat te warm geraak het, hom effens gebrand het, sê Lubbe, terwyl sy salf daaraan smeer.

“Hy sal net een nag in die hospitaal slaap,” sê sy toe sy ná net meer as drie uur uit die teater stap.

Dit was haar tweede operasie van die dag, en nóg twee lê voor. Sy skat sy het maklik al 6 000 soortgelyke gevalle behartig.

En wat is die kans dat Dillon se gewas sal terugkeer? Haar pikswart oë kyk stip na my: “Hy is elders al geopereer. Mense moet dít weet: Jou éérste operasie moet die beste wees. Jou eerste kans is altyd jou beste kans.”

Daar ís kanse, want enkele dae voor die operasie het Lubbe ’n “onbereikbare” kanker uit ’n vyfjarige se brein gehelp haal. Dit is endoskopies gedoen nadat ’n ander geneesheer gesê het die kind kan dalk nog ’n jaar met chemoterapie oorleef, maar ’n operasie kan nie gedoen word nie.

Nie Lubbe nie. Sy kan die kanker uitgehaal. Die kind is, soos Dillon, reeds tuis.

■ Elsabé Brits is Die Burger se wetenskapjoernalis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.