Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die afloop van die Rebellie was aanloop tot Grensoorlog
Dit was op die vlaktes by Upington dat die eerste sowel as die laaste skote van die Rebellie (1914-’15) geklap het. Louis Bothma kyk na dié gebeure nou ’n eeu gelede.
30 Januarie 1915. Vredesonderhandelinge in ’n tent tussen Upington en die plaas Christiana. Van links is generaal Jan Kemp, generaal Apie Bezuidenhout, generaal Manie Maritz en kolonel Jaap van Deventer. Laasgenoemde was die bevelvoerder van di

Ironies genoeg was Manie Maritz en Jan Kemp se rebellekommando’s onoorwonne toe hulle in Januarie 1915 uit Duits-Suidwes-Afrika na Upington opruk. Op 23 Januarie het die twee aanvoerders met hul offisiere reg noord van Upington op die rante van die plaas Toekoms (destyds Schröder se Puts) gestaan. Maar die stryd was reeds verlore. De la Rey en Beyers was dood. De Wet en ander rebelleleiers was agter tralies. Derhalwe het Maritz kaptein Henry Williams met ’n wit vlag na kolonel Jaap van Deventer in Upington gestuur.

Die rebelle wou vrede maak, maar vir Jan Smuts, die minister van verdediging in Pretoria, was sy eie aansien, dié van Louis Botha en die Unieverdedigingsmag – lojale soldate van Sy Majesteit die Britse koning – op die spel. Toe Smuts hoor wat aangaan, het hy Van Deventer dadelik laat weet: In geen omstandighede moet u onderhandel met Maritz en Kemp nie. Die enigste plek om hulle te ontmoet, is op die slagveld.

Kommandant Albert Stadler en sy vrou, Nelie. Foto: verskaf

Van Deventer het Williams in Upington gehou en Maritz en Kemp geïgnoreer. Net daar het die rebelleleiers besluit om vroeg die volgende oggend aan te val, voordat versterkings wat Van Deventer van Kakamas en Vanrooisvlei ontbied het, kon opdaag. By Toekoms was nie genoeg water vir die ongeveer 900 rebelle, hul perde en trekdiere nie, en verder terug op die plaas Christiana het die water ook ingegee. In die omstandighede was daar net een pad vir die rebelle en dit was vorentoe, selfs al het dit beteken dat hulle op ’n Sondag, 24 Januarie, moes aanval.

Die rebelle het hulself in vier aanvalsgroepe verdeel. Maritz was aan die westekant en Kemp en Bezuidenhout aan die noordekant. Albert Stadler met die Kakamas-kommando en ’n groep Wes-Transvalers moes om die duine aan die oostekant gaan en met die Oranjerivier langs aanval.

Stadler was egter siek aan swartwaterkoors en sou moes agterbly. So iets was nie binne die verwysingsraamwerk van dié roekeloos-onverskrokke krygsman nie. Niemand kon hom keer nie. In die vroeë oggendure het hy sy aanvalsgroep met ’n droë loop langs reguit na die Uniemagte se goedverskanste stellings in die omgewing van die huidige Keidebees (in Upington) gelei. Een van die hoewebewoners is beveel om sy veekraal te ontruim en Stadler se manne het stelling ingeneem.

Die geveg het teen dagbreek losgebars en toe dit lig word, het die Uniesoldate Stadler se burgers onder kruisvuur geneem. Net ná sonop is Stadler se blou skimmelperd, Charlie, onder hom doodgeskiet. Stadler self het ’n skoot deur die onderlyf gekry en is na ’n ambulans gedra.

Kommandante Gert van Wyk en Danie Flemming het hul Wes-Transvaalse burgers vorentoe gedryf. Toe Van Wyk egter ook dodelik gewond neerval, het Flemming die hopeloosheid van die situasie ingesien en sy burgers beveel om te onttrek. Die sterwende Van Wyk het die wit vlag opgesteek en in die veekraal het veldkornet Janse van Rensburg dieselfde gedoen.

Op ander punte het die geveg vir die rebelle gunstig verloop, maar met die aanval wat aan die oostekant misluk het, kon die Uniesoldate die rebelle omvleuel en afsny. Teen elfuur die oggend het Maritz die bevel gegee om na Toekoms terug te val. ’n Teenaanval deur die regeringsmagte is afgeweer en die rebelle kon hul wonde lek.

Albert Stadler, siek en dodelik gewond, het op ’n bed voor die opstal in Christiana gelê. Terwyl sy bedroefde makkers om hom staan, het hy hulle vir oulaas aangemoedig om vas te staan by die republikeinse vryheids­ideaal. Stadler is gedurende die nag oorlede en die volgende oggend in die tuin begrawe.

’n Rebellekommando aan die opruk. Foto: Verskaf
Wat het die wenners, Louis Botha en Jan Smuts, ons nagelaat?

Tevrede dat die Uniesoldate die laaste geveg van die stryd gewen het, het Smuts ingestem dat Van Deventer met die rebelleleiers in ’n tent halfpad tussen Upington en Christiana kan vergader. Op 30 Januarie is ’n sogenaamde “dokument van oorgawe” deur albei partye onderteken. Op 2 Februarie 1915 het die rebelle by Areachap, noordwes van Upington, wapens neergelê. Die burgers is per trein na Kimberley gestuur waar hulle in ’n mynkampong aangehou is. Die offisiere is in die Fort-gevangenis in Johannesburg opgesluit. Hulle is later aan hoogverraad skuldig bevind en tronkstraf en swaar boetes opgelê.

Soos aan die einde van die Anglo-Boereoorlog, het Manie Maritz nie saam met sy kommando oorgegee nie, maar met ’n paar volgelinge na Duits-Suidwes-Afrika en eindelik Europa uitgewyk.

In Kakamas het ’n Uniesoldaat ’n bruin koevert by Stadler se weduwee afgelewer en laggend gesê: “Ek kom net vir jou sê jou man is doodgeskiet.” In die harte van sy mense het Albert Stadler egter steeds geleef. Baie het vas geglo dat hy nie dood is nie, maar iewers in die vreemde saam met Manie Maritz rondswerf.

Al die wolhaarstories is in 1935 finaal die nek ingeslaan, toe Stadler se oorskot opgegrawe en naby Kakamas herbegrawe is.

Die ideaal waarvoor Stadler, Maritz, Kemp en duisende ander die wapen opgeneem het, is nie in 1915 by Upington vernietig nie. Op 31 Mei 1961 is dit langs die grondwetlike weg verwesentlik, toe Suid-Afrika ’n onafhanklike republiek buite die Britse Statebond geword het.

Wat het die wenners, Louis Botha en Jan Smuts, ons nagelaat?

Ná die onderdrukking van die Rebellie het hulle hul “urgent imperial service” gaan verrig en Duits-Suidwes-Afrika vir Brittanje verower. In 1916-’17 het hulle verder gegaan en die Ovambo’s, wat ook Sy Majesteit se gesag met die wapen uitgedaag het, tot onderdanigheid gaan skiet. Dekades later moes honderdduisende Suid-Afrikaanse soldate ’n uitgerekte oorlog van 23 jaar dáár, op “die grens”, gaan veg. Die afloop van die Rebellie was die aanloop tot die Grensoorlog en wat daarop gevolg het.

Iewers langs die pad is ons gruwelik oor die Rebellie mislei. Dit was eenvoudig nie politiek korrek om wit kinders wat ’n oorlog op “die grens” moes gaan veg, van die Rebellie te leer nie.

 Dr. Louis Bothma is ’n militêre geskiedskrywer van Bloemfontein. Uit sy pen het onderskeidelik “Die Buffel Struikel” en “Rebelspoor” verskyn.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.