Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe die aarde geskud het
Op 29 September is dit presies 45 jaar sedert ’n verwoestende aardbewing deur die Noord-Boland gegolf het. Willemien Brümmer was in Tulbagh, waar daar selfs deesdae ’n Epicentre-internetkafee is.
Op 29 September is dit presies 45 jaar sedert ’n verwoestende aardbewing deur die Noord-Boland gegolf het. Willemien Brümmer was in Tulbagh, waar daar selfs deesdae ’n Epicentre-internetkafee is.

‘Elke derde een wat ingebel het, het gedink dis die Oordeelsdag. Ek het maar net gesê as dit so moet wees, dan moet dit so wees.”

Waar Dirkie Hougaard (74) in sy sitkamer in Tulbagh sit, onthou hy die nag van 29 September 1969 soos gister. Dis nou al is sy vrou, Duffy, eintlik sy “gedagte” en al voel hy die ouderdom begin hom nou “pak”.

Dirkie Hougaard (74) het by die handsentrale gewerk waar hy met die woorde “nommer asseblief” ’n hele dorp kon red. Hy was die aand van 29 September 1969 op nagdiens.

Sedert die aarde om vier minute oor tien die aand begin rammel het, het alles in sy grootworddorp verander: Die hele Kerkstraat is herbou volgens ’n straatbeeld uit die 18de en 19de eeu en sedertdien het die toeriste die dorp oorstroom. Daar’s ’n Epicentre-internetkafee in die hoofstraat en voor die Kuierbossie-restaurant is daar selfs ’n bordjie met die woorde: “Dare to try the Earth Quake pasta. It will blow your socks off.”

Aan die bopunt van Kerkstraat pryk die Aardbewing-museum met ’n foto van Oom Dirkie voor die skakelbord van die destydse poskantoor. Dié foto vertel die verhaal van een van die onbesonge helde van Tulbagh, van ’n man wat met die woorde “nommer asseblief” ’n hele dorp kon red.

Oom Dirkie het toe pas sy huis in Van der Stelstraat vir R4 700 gekoop. Dié Maandagaand was hy op nagdiens by die destydse handsentrale in die poskantoor. “Die ding kom toe al geruime tyd aan,” onthou hy. “Dit was ’n dreuning, soms van ver af, baie keer hier onder jou.”

DIS NOU OORDEELSDAG

Dis ’n stil lentenag en hy laat sy personeel vroeg gaan. Meteens begin die aarde so stamp dat sy rug kriewel. Toe kom die slag wat die mure van die poskantoor soos met ’n skarnier van links na regs laat beweeg. Die volgende oomblik bars die pleister van die mure, die hanglig skud uit die plafon en die krag slaan af.

By sy huis val een van sy pluimbaltrofeë op sy vrou se kop en sy ses maande oue baba huil ontroosbaar.

Buite die poskantoor is die wêreld in stof gehul en oorkant die pad hardloop die drinkebroers uit die hotel. Die honde blaf, die hoenders kekkel en die berge brand.

Gelukkig het die poskantoor ’n kragopwekker en Oom Dirkie het twee ekstra gloeilampe in sy sluitkassie. “Toe is ek die enigste ou in die dorp wat lig het! Almal het saamgetrek by die ou poskantoor. Verslaggewers, nooddienste, dokters, verpleegsters, die weermag, die lugmag . . . almal was daar.

“As die polisie sê daar’s ’n noodgeval, dan weet ek presies waar daai plaas is en wie dit is en ek gee vir hulle die volle besonderhede.”

Die inbellers huil. “Hulle wil weet wat het gebeur. Ek sê net: ‘Wees kalm, het jy ’n dokter nodig?’ Baie van hulle kon nie deurkom nie, want ons lyne was oorlaai.”

Waar die mense gewoonlik bakleierig is met die sentrale, kla niemand dié nag nie. “Met die aardbewing was dit darem nou Oordeelsdag. Jy kan nie nou lelik wees met jou naaste nie.”

Terwyl die lyne gons, dink hy heel eerste aan sy gesin. “Maar my verantwoordelikheid was te groot. Toe die mans opgeroep word om diens te doen, het elkeen ’n verskoning gehad. Vir maande het ek snags alleen gewerk.

“My vrou het met die babatjie in die kar buite geslaap totdat die posmeester gesien het en gesê het dis nonsens. Sy slaap toe in die wagkamer op die rusbank en sy kan vir haar koffie maak en alles. Ek wou haar by my gehad het om te weet sy’s veilig.”

Hy lag en sy blou oë word troebel. “Dis maar ’n ding wat by jou bly, seker vir jare daarna. Vir ses jaar het hier nog gereeld naskokke gekom. Ons het eers uitgehardloop. Later hardloop ons net tot by die deur. Later het ons nie eens meer opgestaan nie.”

Met die aardbewing was dit darem nou Oordeelsdag. Jy kan nie nou lelik wees met jou naaste nie.
Dirkie Hougaard, een van die skudding se onbesonge helde, destyds voor die handsentrale in die poskantoor. Dié foto hang in die Aardbewing-museum in Kerkstraat in Tulbagh. Foto: Verskaf

TOE DIE OOM ‘AMEN’ SÊ

Dié Septembernag blyk toe die grootste aardbewing tot nog toe in Suid-Afrika se opgetekende geskiedenis te wees: 6,3 op die Richterskaal. Hoewel dit tot in Durban gevoel kon word, is Tulbagh beskryf as ’n “spookdorp” omdat die meeste van die inwoners haweloos was.

Die weermag slaan 3 000 tente op en stuur 20 swaar vragmotors, 7 helikopters en 230 manskappe. In Ceres word 60 huise leeggemaak weens strukturele skade en in Wolseley stort mure ineen en huise word afgeskryf.

Selfs in Stellenbosch, waar Rosette Jordaan (62) op ’n landsdienskamp is, dink sy die berge gaan bo-op haar val. “Die aand kom ons uit die konsertsaal op Jonkershoek en die oom roep ons vir godsdiens,” vertel sy op die plaas Theuniskraal buite Tulbagh.

“Toe hy begin bid, toe begin dit eers soos donderweer, maar toe word dit ’n gerammel en ’n diep gegrom uit die aardkors. Dit lyk soos branders wat na ons aangegolf kom. Dit bou so op en die kinders val daar op die gras neer en hulle klou en hulle gaan tekere. Ek plant my bene en dink: ‘Ag, liewe Vader, laat dit net so gou as moontlik verby kom. Ek is nou reg om te gaan’.”

Toe die oom eindelik “amen” sê, sterf die gegrom stadig weg en die golwe bedaar. Die Dinsdagoggend hoor sy die hooftrekke van die radionuus: In Tulbagh en omstreke is 11 mense dood, geboue lê in puin en die hele Winterhoek-bergreeks is aan die brand.

“Ons was absoluut rasend. Jy kan nie bel nie, jy kan nie ry nie. Die passe is toegemaak en die sentrale is in chaos,” onthou sy.

Eers die Dinsdagmiddag kom die boervrou op die plaas Mont Rouge ’n paar van die Tulbagh-kinders in haar Cortina haal. Oral teen die berge lê “lang trane waar rotse losgebreek en afgerol het”.

’n Dik rookwolk hang oor die dorp en alles is stukkend. Die episentrum van die skudding het gestrek van Saronskop, deur Môreson, Twee Jonge Gezellen, Theuniskraal, Kaaldraai, Klipfontein en tot by die sendingstasie Steinthal, waar al die huise en die kinderhuis verwoes is.

By die Oude Drostdy, een van Tulbagh se historiese kultuurskatte, stort die voorgewel wat deur Louis Thibault ontwerp is, in duie en die Orffer-gesin se nege maande oue baba word onder pleister begrawe.

TOE DIE MURE VAL…

Ida Orffer, wat toe saam met haar eggenoot, Man, in dié statige 18-vertrek-huis gewoon het, het nou nog die koerantfoto van haar dogter Annien onder die puin.

“Annien het in die kot langs ons gelê. Die oudste een was drie en sy was in haar eie kamer. Toe die mure val, voel dit vir jou in daai stof jy kry nie asem nie. Ek het die jongste enetjie gevat en Man het die ander enetjie gevat en toe is ons nou uit die gebou uit buitekant toe op die grasperk.”

Sy en Man het die Oude Drostdy aan die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede verkoop en elders op die plaas ’n huis laat bou. “Dit vat ’n rukkie, maar jy gaan maar net aan met die boerdery. Die graan word ryp en die vrugte moet gespuit word.”

Sy woon deesdae saam met Dougie (84) en Rachell (83) Beresford in die plaaslike tehuis, Huis Disa. Met die aardbewing het die Beresfords die Waveren-restaurant en -winkel in die hoofstraat besit. Vandag is dit die deli en geskenkwinkel Things I Love. Hul gewese huis in Kerkstraat is vandag die Het Land van Waveren-tuisnywerheid. Voor op die bord staan: “Die blare waai af, maar God se liefde waai vir ewig.”

Ná die aardbewing was dit die enigste restaurant wat gas gehad het en hulle het 15 pond vleis op ’n dag gekook om die dorp en sy maat bredie te gee.

Die Beresfords se dogter, die kunstenaar Rochelle Beresford, vertel hoe hulle vir maande daarna in tente en woonwaens gewoon het. “My pa raak partykeer so kwaad vir my, want sedertdien is ek ’n gypsy. Ek het baie lank ’n woonwa in my agterplaas gehad waarin ek gewoon het. Ek hou van kamp en ek dink dit kom van daai tyd af.”

Dit was meestal kleihuisies gewees. Groot stukke het uitgeval. By ons huis kon jy letterlik en figuurlik deur die skeure sien.
Dié foto het op 1 Oktober 1969 in Die Burger verskyn van twee vroue wat tussen die puin soek na dít wat nog van hul besittings gered kon word. Die hele Steinthal was destyds in puin. Foto: Verskaf
Magrieta Fredericks (78) het op die plaas Alleenlê gewoon waar die slaapkamermuur ineengestort het net nadat sy haar kinders gered het.
Rosette Jordaan (62) was op ’n landsdiens-kamp in Stellenbosch. Sy het die volgende dag gehoor 11 mense is dood.

TWEE AARDBEWINGS

Vir die bruin mense op die dorp het die aardbewing heelwat meer ingrypende veranderinge meegebring. Party mense fluister dis asof daar twee aardbewings was – een vir die wittes en een vir die res van Tulbagh.

Anneline Fredericks (63), ’n gids by die Oudekerk Volksmuseum, het destyds in die ou Helpmekaar gewoon wat deel was van die dorp.

“Dit was meestal kleihuisies gewees. Groot stukke het uitgeval. By ons huis kon jy letterlik en figuurlik deur die skeure sien.

Die Kruisvallei NG-kerk moes ná die skudding gesloop word. Sondae is daar in die saal by die skougronde kerk gehou terwyl ’n nuwe kerk gebou is. Foto: Kobus Jordaan

“Die inwoners het in weermagtente gewoon en later is die hele Helpmekaar tot rampgebied verklaar.”

Sy’s een van baie wat glo die aardbewing het die apartheidsregering se werk vir hom klaargemaak. “Voor die aardbewing wou hulle al reeds vir ons geskuif het, maar hulle het net nie lekker geweet hoe om dit te doen nie. Die aardbewing het dit vir hulle vergemaklik, want hulle wou ons nie so na aan die dorp gehad het nie.”

Net soos die bruin inwoners van Stasiestraat is hulle ná die aardbewing na Witzenville geskuif.

“Vandag nog as jy daar afgestap kom en jy wys vir iemand ons het daar gewoon, dan maak dit nog bietjie seer.”

TENTDRINA

By die Emmanuel-dienssentrum vir bejaardes in die kerksaal van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK, destyds die NG Sendingkerk) in Witzenville lê die herinneringe nog vlak.

Anna Coetzee (88) het op die plaas Vindoux gewoon en was met die aardbewing reeds ver swanger met haar tiende baba. “Ek was so bang gewees ek gaan daai selfde nag geboorte gee, maar gelukkig het ek dit darem gemaak. Ek was onder die indruk dit was die tyd wat die wêreld sal vergaan, want ons was nogal gewaarsku en die tekens was teen die berg.”

Toe die baba die 13de Oktober in ’n tent in die vlei gebore is, het Anna haar Tentdrina gedoop. “Eers daarna toe sê sy sy wil nie Tentdrina wees nie, toe sê ek goed, Elizma Tentdrina, want daar moet ’n stukkie van die tent by wees.”

Helena van der Merwe (69), ’n vrou met baie goue ringe en ’n Springbok-keppie, was drie maande swanger. Sy’t bo teen die berg op ’n kleinhoewe gewoon en die muur van haar strooidakhuis het bo-op haar klerekas geval. Dakbalke het haar bene vasgepen.

“My man trek toe vir my onder die balke uit en toe ons buitekant kom, toe hoor jy hoe rol die klippe van die berg. Die berg brand en die bobbejane en die perde skrou en die beeste bulk en die varke skree en die hoenders kraai ook later. Oupa sê toe ons moet uit die berg kom, want die vuur kom ál nader.”

Sy kyk stuitig na die ander ­oues van dae. “Toe ek onder in die pad kom, toe kry ek die gedagte ek het nie panties aan nie. Ek het mos grootgeword jy slaap nie met ’n pantie nie.”

‘DIT WAS WOES’

Maria Roode (79) het haar erf in Witzenville met die welige blomtuin ná die aardbewing vir R50 gekoop. Destyds het sy op ’n plaas naby Steinthal gewoon. Sy’t kamers skoongemaak in die kinderhuis op dié sendingstasie wat in 1842 gevestig is vir vrygestelde slawe.

Ná die aardbewing moes al die kinders verskuif word, nes die wit kinders van die Waveren-tehuis in die dorp. “Op Steinthal het omtrent als vergaan,” onthou Maria, wat onlangs ’n beroerte gehad het. “Dit was woes . . . wóés. Ai, man, my pa se broer se kleinkind het gesterf in die ongeluk. Hulle het in die huis ingegaan en toe is hy klaar dood.”

Sy slaan haar oë op na die berge asof die aarde enige oomblik weer kan begin dreun. “As dit nou donderweer, dan gaat my gedagte baie keer terug na die aand van die aardbewing. Ek kan dit nie eintlik beskryf nie, maar ek dink nou al die hele September aan daai nag.”

Japie Fortuin (81) het 45 jaar gelede sy pasgebore baba “vasgelê” nadat sy huis in Helpmekaar se mure op hom geval het. Sy vrou het hom onder die puin uitgegrawe. Foto's: Edra du Toit
Daai kind van ons het net ’n paar dae gelewe, toe’s hy dood. Ek het hom mos vasgelê in die aardbewing.

’N PAAR DAE GELEWE

Japie Fortuin (81) se gedagtes het ook iewers by die aardbewing gaan stilstaan. Toe ons die oggend voor die VGK stilhou, wag hy reeds in sy netjies gestrykte pak en sy rooi das.

In sy hand hou hy ’n voosgevatte koerantknipsel. Langs hom is ’n gedenksteen vir die kinders wat dood is in die aardbewing. Een van hulle is die ­baba Louisa Fortuin, sy “antie se kind wat op ’n plaas gewoon het”.

Sy oorlede vrou, Maria, het om halftwaalf die middag geboorte gegee in hul huis in Helpmekaar.

“Die aand toe val die binne­mure my toe, toe lê ek nou vasgeval en toe kan ek niks uitkom nie,” sê hy skor. “My oorle’ vrou het my daar uitgegrou en die volgende oggend toe sien ek die klippe lê net so hoog.”

Sy hande bewe. “Ek het baie seergekry. Die oggend was my kop vol bloed en daarvandaan het ek nog altyd kopseer.”

Die laaste twee sinnetjies is byna soos ’n sweer wat moet uit, al is dit 45 jaar later: “Daai kind van ons het net ’n paar dae gelewe, toe’s hy dood. Ek het hom mos vasgelê in die aardbewing.”

Willemien Brümmer is ’n joernalis vir By en ’n skrywer.