Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die grense wat die oorlog getrek het
Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis is ingewikkelder as wat dikwels te kenne gegee word. ’n Mens besef dít as jy dieper kyk na stories oor die grensoorlog en diensplig wat in die openbare domein opduik, skryf Theresa Edlmann.
’n Suid-Afrikaanse soldaat in die Grensoorlog.Foto: RAPPORT-ARGIEF

Die nalatenskap van apartheid in Suid-Afrika kan net verstaan word deur sin van die kompleksiteite van die verlede te maak. Dit sluit in om erkenning te gee aan dít wat diegene ervaar het wat in die apartheidsera jonk was en vandag die ringkoppe en leiers van ons gemeenskap is.

In die sowat 30 jaar tussen die Sharpeville-slagting en die demokratiese verkiesing in 1994 wat ’n einde aan apartheid gebring het, het ’n generasie Suider-Afrikaners voor uitdagende en dikwels botsende keuses oor ideologiese lojaliteite te staan gekom.

Vir jong wit seuns het die einde van hul skoolloopbaan gepaardgegaan met ’n keuse wat betref hul “oproep” deur die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Hierdie stelsel van militêre diensplig is in 1957 deur die apartheidsregering ingestel en het van 1968 af verpligtend geword.

Militêre diensplig was van sleutelbelang in die apartheidstaat se “totale reaksie” op wat vertolk is as ’n “totale aanslag” deur die waargenome bedreigings van kommunisme en swart nasionalisme. Die staat het probeer om die wit gemeenskap se steun vir hierdie veldtog te bekom deur hom te beroep op ’n tradisie wat oor generasies heen gestrek het – mans wat militêre diens doen om hul land, waardes en gesinne te beskerm.

Die einde van apartheid het beteken dit was die laaste generasie wit Suid-Afrikaanse en Suidwes-Afrikaanse (nou Namibiese) gesinne wat hul jong mans in sulke groot getalle oorlog toe gestuur het.

Die dinamika van die hedendaagse Suid-Afrika verskil aansienlik en maak dit moeilik om die omvang van die druk te verstaan wat hierdie jong mans tuis, in talle kerke en in die grootste deel van die maatskaplike en die politieke domein ervaar het. Die wit Suid-Afrikaanse gemeenskap was polities konserwatief en het baie tyd, geld en moeite aan die beskerming van sy belange bestee. Demokratiese begrippe soos vryheid van keuse was feitlik ongehoord. Plig en diens is vooropgestel.

Nog selde is in die openbaar erkenning verleen aan die impak wat die dienspligstelsel gehad het op sowat 600 000 wit mans, of 7,1% van die nagenoeg 4,2 miljoen wit mense in 1992 in Suid-Afrika, wat sowel pionne as agente van die apartheidstaat geword het.

Plig en gewete

Diegene wat die oproep aanvaar het, het strawwe militêre opleiding ondergaan, gevolg deur ontplooiing in Suid-Afrika, Namibië of Angola vir die res van hul dienstydperk. Daarna het etlike jare van jaarlikse korttermyn-“kampe” gevolg. In die 25 jaar waarin diensplig van krag was, het die omvang toegeneem van 9 maande tot ’n totaal van 720 dae, kampe ingesluit.

Gewapende stryd het selde voorgekom tot 1975, toe die SAW Angola binnegeval het nadat die Portugese koloniale regering daar ineengestort het. Dit het 14 jaar ingelui van wat as die “Grensoorlog” bekend geword het en bestaan het uit intensiewe militêre en guerrilla-oorlogvoering in die noorde van Namibië en die suide van Angola.

Daar was ernstige gevolge vir diegene wat nie gehoor aan die oproepinstruksies gegee het nie. Hul keuses? ’n Krygsverhoor en tot ses jaar in die tronk, bannelingskap in ’n ander land of om in Suid-Afrika weg te kruip.

Universiteitstudie kon tot die uitstel van diensplig lei, en sommige mans het hierdie moontlikheid so lank moontlik uitgebuit.

Diensweiering weens gewetensbeswaar (op grond van godsdienstige eerder as moreel-etiese of politieke oortuigings) het teen die middel van die tagtigerjare ’n wettige opsie geword. Dit het min of meer saamgeval met die tyd toe die End Conscription Campaign begin is. Die ECC het openbare veldtogte ter ondersteuning van gewetensbeswaardes begin en ’n beroep om die beëindiging van militêre diensplig gedoen.

Die meeste dienspligtiges het min oor hul ervarings gepraat.

Die oorlog kom huis toe

Die wit Suid-Afrikaanse gemeenskap was in feitlik algehele onkunde oor die omvang van die oorlog en die SAW se strategieë. Die meeste dienspligtiges het min oor hul ervarings gepraat – gedeeltelik omdat hulle by hul aansluiting die Wet op Amptelike Geheime moes onderteken. Dit was ook die gevolg van die “selfopgelegde onkunde” van die meeste wit Suid-Afrikaners, asook die destydse drakoniese sensuurwette.

In die middel van die tagtigerjare het weerstand teen apartheid binne Suid-Afrika toegeneem en is SAW-soldate in die binneland ontplooi. Skielik is jong wit mans opdrag gegee om hul medeburgers te polisieer deur die rasgedefinieerde grense tussen gesegregeerde groepe te patrolleer. Die “Grensoorlog” het huis toe gekom.

Die onvolhoubaarheid van die moreel en ekonomies bankrot apartheidstelsel het al hoe duideliker geword, selfs vir apartheidsleiers wat in hierdie tyd gesprekke met die toe nog verbode ANC geïnisieer het.

Die gevolge was wydlopend. Die oorlog in Namibië en Angola het in 1989 met die onttrekking van die SAW uit Namibië geëindig. Namibië het ’n jaar later onafhanklik geword. Die ANC en ander organisasies is gewettig, politieke gevangenes is vrygelaat, en die onderhandelings wat tot die verkiesing in 1994 sou lei, het begin.

1994: ’n Nuwe era

Diensplig én die SAW is amptelik in 1995 afgeskaf.

’n Nuwe, geïntegreerde weermag is tot stand gebring – en by die meeste mense het diensplig na die sfeer van stilte en die geheue gemigreer. Hul tyd in die weermag het egter nie vir die dienspligtiges vervaag nie. Van hulle het die moontlikhede van nuwe vryhede omarm, terwyl ander geveg het om historiese identiteite in ’n veranderde konteks te behou en te vier.

Daar was sommige pogings deur die openbare en burgerlike gemeenskap om erkenning te verleen aan die kompleksiteite van dienspligtiges se ervarings.

Hulle was naamlik slagoffers van ’n stelsel, maar het tegelyk dade in die naam van daardie stelsel gepleeg.

Die Waarheids-en-versoeningskommissie het ’n spesiale verhoor oor diensplig gehou. Al hoe meer boeke oor diensplig en deur dienspligtiges word gepubliseer. En etlike groepe, soos veterane, sommige nieregeringsorganisasies en die Legacy of Apartheid Wars Project aan die Rhodes-universiteit het werk oor die kwessie gedoen. Dit neem meestal die vorm aan van navorsing, openbare diskoerse en werksessies oor verwonding en trauma vir dienspligtiges én anti-apartheidstryders. Maar vir die meeste dienspligtiges bly die omslagtige laers wat hul sosiale posisionering gevorm het, bestaan.

Die meeste van die trauma wat hulle beleef het, bly onuitgesproke of kry uiting in aggressie, veral by interaksie met mense, groepe of situasies wat hulle op ’n manier as ’n bedreiging ervaar.

Namate die meer komplekse dimensies van ons apartheidsgeskiedenis na vore kom, moet die helende en transformerende moontlikhede van stories oor diensplig wat in die openbare domein opduik, nie onderskat word nie.

Dit is ’n betekenisvolle manier om sin uit die diep rasverdeeldheid van ons gemeenskap te maak.

■  Hierdie artikel is oorspronklik deur The Conversation (www.theconversation.c​om) gepubliseer.

■ Dr. Edlmann is ’n postdoktorale genoot in geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.