Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Die kleed is nou afgegooi’
Weg as seuns, terug as mans
Elke seun wat die inisiasie voltooi, is met rooi oker besmeer en stap met hul tradisionele komberse en kieries kaalvoet deur die gemeenskap. As die oker afgewas is, kry hulle klere van 'n man - en waterskoene. Foto's: Dan Xangaza

BOTSHABELO. – Die seuns trek hul seanamarena (tradisionele Basotho-komberse) styf oor hul skouers. Net hul gesigte, rooi gesmeer met die letsoku, of oker, steek uit.

Met hul hande styf geklem om hul kieries sing hulle die lengae, die kulturele liedere van hul ouers en voorouers terwyl hulle deur die streng proses gaan om as man aangeneem te word.

Die 58 seuns marsjeer in militêre gelid met hul kieries met hul koppe vooroor gebuig terwyl hulle in ’n soort trans gaan as hulle dié oeroue seremonie voltooi.

Elke seun dra ’n sonbril en krale. Aan baie se arms is armbande (mosomi) om hulle teen die bose geeste te beskerm.

Die vroue oeloeleer luid.

Die inisieerders is hier! Hulle is as seuns weg en hier is hulle terug as mans!

Geld en ander geskenke word aan die komberse vasgesteek.

Die seuns is verbied om met enige van die talle omstanders te praat terwyl hulle aankom by die huis van hul inisieerder in Botshabelo se D-seksie, sowat 50 km buite Bloemfontein.

’n Dag vantevore was hulle nog slegs geklee in die ditsiya, ’n tradisionele stertriem – die drag van Basotho-seuns.

Nou is hulle in die proses om ’n man te word – met hul komberse, langbroeke en waterskoene. En die kierie waarmee hulle die twee maande in die mophathong, ’n hut waarin hulle die inisiasieskool deurloop het, leer veg het.

Die hut moes vernietig word ná die laaste dag.

Die seuns dra swaar aan die groot dag. Hul gesigte is ernstig, maar hulle sing die liedere met trots. Dit is die grootste dag van hul lewe.

Die tuiskoms van ’n groep seuns van ’n inisiasieskool in Botshabelo. Elke seun dra ’n tradisionele kombers met sy stam se simbool op. Hulle is met rooi oker besmeer, wat wys die inisiasie is voltooi.
Baie se geslagsorgane word ook vermink as die wonde septies word. Net plantmateriaal word op die wonde gebruik.

Die feit dat hulle dit tot hier gemaak het, is ook ’n groot ding. Jaarliks sterf tientalle seuns in Suid-Afrika in inisiasieskole, waar hulle met lemmetjies besny word. Baie se geslagsorgane word ook vermink as die wonde septies word. Net plantmateriaal word op die wonde gebruik.

Ten spyte hiervan is dié skole ’n kulturele instelling. Van hulle is onwettig en seuns word hierheen ontvoer en selfs doodgeslaan as hulle probeer ontsnap. Daar is groot geld betrokke.

Motlatsi Lethula, die inisieerder, sê die seuns kan slegs met hul familie en vriende praat wanneer hulle die oker in ’n spruit afgewas het ’n dag ná hul tuiskoms.

As die oker in die spruit afgespoel is, word hulle van kop tot tone met splinternuwe klere uitgerus. Die klere van ’n man.

“Die seuns verf hul liggame met oker om te wys dat hulle die inisiasieproses voltooi het. In die hut in die berg is hulle met wit klei besmeer.”

Lethula, wat ook as sangoma of tradisionele geneser praktiseer, bedryf al 15 jaar lank sy eie inisiasieskool hier.

Wanneer die inisieerder nie ’n sangoma is nie, betaal die ouers baie geld in sterk moetie of kruiemedisyne om die seuns ook teen die bose geeste te beskerm.

Elke seun dra die naam én die kombers van sy stam. Dit word seboko in Sesotho genoem. Die Bataung-stam, wie se wapen ’n leeu is, is gewoonlik heel voor in die prosessie. Die Bakoena-stam is tweede, met die krokodil as hul simbool.

Die seun ontvang sy seanamarena – ’n kombers vir ’n koning – as geskenk om sy nuwe status as man in die stam en gemeenskap te vier. Elke kombers het die stam se simbole op.

Lethula sê hoewel inisiasieskole deur die Westerse lewenswyse en Christelike godsdiens bedreig word, staan die praktyk steeds sterk.

“Lesela lewele, lesela lewele!” dreunsing die seuns as hulle in gelid, kieries omhoog, deur die mense skuifel. Dit beteken: Die kleed is nou afgegooi.

In die skool word elke seun sy stam se prysliedere vir die voorvaders geleer.

Só word die voltooiing van die inisiasie en die sirkel van die lewe gevier.

Elke seun word met ope hande én ’n feesmaal in sy ouerhuis ontvang.

By elke huis klink die stamlied op en val die familie hierby in.

“Ons pas dit nie meer so streng toe nie. Sommige seuns word in dié feesmaal dronk en gedra hulle dan onstigtelik,” sê hul leermeester.

Die inisiasie is ’n duur storie. Dit kan tot R2 500 beloop.

Lethula sê dit sluit ’n skaap en genoeg kos vir twee maande in die berg en vir die feesmaal met die tuiskoms in.

Dié sangoma sê hy het nog geen ongeval in sy skool in 15 jaar gehad nie. Maar in die Oos-Kaap alleen is vanjaar meer as 20 seuns dood en 141 in hospitale vir ontwatering, longontsteking, ontsteking van die geslagsorgaan en selfs gangreen behandel.

Simon Serutla, voorsittter van die forum Tsereletso ya Lebollo sê streng riglyne is daargestel vir die bedryf van die skole.

Elke kind moet die toestemming van sy ouers en ’n tradi­sisionele leier hê. Hulle moet al die familie se rituele deurloop en ’n mediese ondersoek voor die besnyding is verpligtend.

Die forum doen gereeld inspeksie by die skole. Onwettige skole word gesluit om die sterftesyfer laag te hou.

Lethula pak die skuld van die sterftes op ongekwalifiseerde onderwysers wat die tradisionele waardes ondermyn en net klem plaas op die besnyding en die fisieke aspekte.

“Onderrig word gewoonlik nagelaat en die integriteit van die ritueel word verder deur hul houding ondermyn. Dit is hoekom seuns wat nie ordentlik geinisieer is nie, onordelike gedrag ten toon stel in plaas van om ’n voorbeeld van ware manlikheid te wees.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.