Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die lewe is te kort vir slegte wyn
Samarie Smithdink aan dié woorde vir ’n wyn-advertensie en bring hulde.

Vreemd hoe woorde sny wanneer iemand skielik weg is.

Want ons vergeet soms om die lewe te vier. Môre is mos nog ’n dag in die roetine van opstaan, werk toe gaan en huis toe gaan, met daardie onontbeerlike en knaende episode van winkel toe gaan. Soos blare optel. Pos uithaal. Petrol ingooi.

Maar dis anders as jou kat saam in die tuin kom speel. Of as jy ’n troukaartjie in die posbus kry. Of die petroljoggie jou ’n nuwe Xhosa-woord leer. Dan was alles die moeite werd.

Soos wanneer Somerset-Wessers by die Lion’s Square Spar (voorheen aangewys as die beste Spar in die land) inloer en daar wag ’n ekstra lekkerte én passie by jou geykte inkopie-roetine.

“Kom, laat ek jou van Alvi’s Drift-wyne vertel terwyl ons ’n teetjie drink,” sou die winkeleienaar, Theo Espost, agter my opduik en my aan die arm aanhits koffiewinkel toe.

“Wat’s tog die haas?” sou hy paai, met al die tyd in die wêreld, en die vroue by die kouevleis-toonbank aanpor om ’n paar repe charcuterie gereed te kry.

Met lang stringe klante in die toue sou hy met sy bekende waggelstappie nader stap, sy lippe van lekkerkry tuit en die bord vleis onder ’n paar neuse hou. “Ruik daaraan. Te lieflik. Proe maar.”

En dan daardie afwagting in sy oë . . . Want local is lekker, was sy leuse. Keurkos. Wyn van oorsprong. Plaaslike produsente.

“Ek sê jou, mense moet die juwele ontdek. Wyn wat jou smaak en sak pas.”

Vir hom het ek “Mej. Leefstyl” gebly sedert die dae wat ek Die Burger se Leefstyl-redakteur was en hy ’n bevrore hasie tot my afgryse in my hand gedruk het.

“Nee man, haal af daai gesig. Dis jou verjaardag!” het hy met leepoë en ’n stout glimlag geskerts. “Gaan maak die hasie gaar in botter en dragon en kom vertel my hoe lekker dit was. Met ’n ou chenintjie. O ja, en hier is ’n pakkie Duitse koekies.”

Gekom by wynpraatjies het die gesprek ná ’n tweede en derde rooibos-espresso oorgeloop totdat ek met ’n vars brood, piekels en koue vleis huis toe gestuur is. “Anders kom skil jou gaste my af!”

Dan sou ons by die deur, onder die geur van varkvleis op die rooster, vars blomme en stroopsoet gebak groet, met Theo wat my met ’n laaste proesel bederf.

“Kom kuier môre, toe. Ek kry mooi lammers en daai pragtige vars vis waarvan jy hou. Gaan sê vir jou ma. En wag, jy met ’n oog vir iets moois en ’n liefde vir wyn . . . neem dié huis toe – ’n nuwe Kaapse versnit. Nogal uniek. Kom vertel my wat jy dink.”

Dis dié versnit van cabernet sauvignon, pinotage en merlot wat ek gister skink. ’n Diep rooi kleur, aanloklik met ryp kersie, pruim en sweempies vanielje. ’n Wyn wat jy nie sommer vergeet nie. ’n Wyn om nog lank te bêre.

Theo Espost is Maandag oorlede.

Dis jý wat uniek was, Theo. Jou mense en almal wat kos en wyn verstaan, sal jou ewig in hul harte bêre.

“Die lewe is ’n kuns, so deel dit en vier dit . . .”

Ek klink hierdie glasie op jou, winkelier en vriend.

Samarie Smith is ’n wyn- en reis-joernalis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.