Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die lied van ’n volk se isolasie
’n Bestiering of ’n openbaring? Die Solidariteit Beweging se beraad die afgelope week het oor veel meer gegaan as die voorbereide toesprake want dis die musiek, die foto’s en die video’s wat dit werklik inkleur.
Meer as 1 500 mense het die afgelope Dinsdag ’n beraad van die Solidariteit Beweging by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon. Foto: Herman Verwey

Dis anders om ’n geleentheid soos die Solidariteit Beweging se beraad die afgelope week self by te woon as om so iets op sosiale media te volg of om die toesprake in swart en wit te lees.

Daar is iets in die atmosfeer, die gees, die keuse van woorde en die kwinkslae wat die prentjie inkleur, idees in perspektief sit en in konteks plaas.

“Ons is hier om te bly!”

“Ons wil bou, nie breek nie!”

“Dis ’n doenskrum hierdie!”

Dís van die twiets wat vroegdag reeds uit die vergadersaal by die Voortrekkermonument gestuur is. Meer as 1 500 mense het die plek volgepak voor daar met skriflesing uit Nehemia 1 en gebed geopen is.

Flip Buys, voorsitter van die groter Solidariteit, het gepraat, Dirk Hermann, bestuurshoof, Kallie Kriel, AfriForum se baas, en Danie Langner, die FAK s’n, was ook op die verhoog en het met Willie Spies as voorsitter die rede gevoer. Daar was ’n geleentheid vir insette van die vloer af en 16 resolusies is aanvaar.

Buys se voorbereide toespraak het niks meer bevat as wat Solidariteit en AfriForum al lank bepleit en beoefen nie, behalwe natuurlik die onverwagse ondersoek na “selfbeskikking” en “gebiedsgebonde selfstandigheid”.

Hy het die politieke situasie in die land geskets, die tientalle probleme waarmee Suid-Afrikaners worstel uiteengesit en gepraat oor Afrikanerselfstandigheid en “gemeenskapsfederalisme”, wat die skep en versterking van hulporganisasies bepleit en die aanwend van individuele en groepsregte motiveer.

Hermann het beklemtoon hy en sy naastes het geen ander plek om heen te gaan as hierdie land nie en dat almal ’n bydrae – hoe klein ook al – moet lewer om ’n verskil te maak. Kriel het ingetree vir onderwys en erfenis en hoe beheer daarvan geneem moet word.

Tussendeur was daar twiets oor die selfdoen-gees, die planmakery en die vooruitsigte vir die toekoms.

Maar dis nie die volle waarheid nie.

Die doen-twiets en die planmaak-toesprake is gedryf deur vrees en ’n strewe na isolasie.

“Ek is bang dat my ma en pa iets oorkom en dat ek en my boetie alleen is,” sê ’n blonde dogtertjie op die skerms orals in die halfdonker saal.

Dis die musiekvideo vir Joe Niemand se liedjie “Ek sal nie bang wees nie”.

“Ek is bang vir geweld, moord,” sê ’n emosionele vrou met bewende lippe in die volgende greep, voordat sy begin huil, die musiek begin en Niemand sing.

Buys bestyg die verhoog, hy praat oor knellende landsprobleme, van moeilike besluite wat nie langer uitgestel kan word nie, “volksveelheid” en belig Solidariteit se aksieplan.

Hy’s klaar, en Hermann neem sy plek op die verhoog in, maar die skerms flikker weer en Julius Malema se stem is skielik orals. “Our lives can’t be approved by white Afrikaners . . . how we must think, how we must believe . . .”

Dan ’n jong boer wat verslae in ’n plaashuis sit terwyl nooddienste in die huis doenig is voordat ’n begrafnistoneel afspeel.

Op die skerm verskyn statistieke oor plaasmoorde en landbou. Die kamera wys ’n voorhuis wat deurmekaar is, ’n televisie op die grond met die gesig van Ronald Lamola, ’n voormalige heethoof van die ANC-jeugliga, op die skerm.

Malema praat steeds.

Dan ’n jong boer wat verslae in ’n plaashuis sit terwyl nooddienste in die huis doenig is voordat ’n begrafnistoneel afspeel. Dis ’n plaasmoord.

Die akteur Carel Trichardt se waardige stem begin die verhaal van Afrikaner-struggle en opheffing vertel, met dramatiese tonele van konsentrasiekampe en lyding met somber klavierspel in die agtergrond. Die saal is stil. Niemand sê ’n woord nie.

Die tema van die dag was nominaal selfhelp en selfstandigheid, maar dit was in der waarheid oor afsluiting, isolasie, eilandvorming en apartwees, met vrees as die drywer.

Buys se diagnosering van Suid-Afrika se probleme was egter in die kol.

Dit ís so, toenemende staatsverval beteken groter ontevredenheid onder landburgers en ’n groter kans vir politieke en maatskaplike onstuimigheid.

Hierdie probleme moet vierkant voor die deur van pres. Jacob Zuma en die ANC gelê word.

Beleidsonsekerheid, ’n lomp en ondoeltreffende staatsdiens, verstokte ideologie en verkiesingsbeloftes (veiligheid, onderwys, gesondheidsorg, werkskepping) wat nie nagekom word nie plaas druk op ons samelewing.

Ons voel dit in die agteruitgang van plaaslike dienste, met die lewer van basiese noodsaaklikhede soos elektrisiteit, skoon water, infrastruktuur en skole.

Dis ook hier waar AfriForum sy grootste sukses behaal het. Dié organisasie tree in waar partypolitiek ophou en het ’n reputasie van opstaan en doen.

Dis by die beraad duidelik gewees dis hiérdie dinge wat mense die kwaadste maak en is ook waarskynlik die rede waarom redelike mense gedwing word om verder weg van die heersende orde te beweeg.

Hoe verder mense egter weg daarvan dryf – deur ’n kombinasie van swak regering en aanmoediging van organisasies soos Solidariteit en AfriForum – hoe groter die kans dat die verdelingslyn té diep gegrawe word en dat mense mekaar nie meer gaan hoor nie.

Buys en sy kollegas sê in enkelsinne hul ondersteuners moet bestaande kanale gebruik om hul saak te stel en regte te beskerm, maar die deurlopende tema Dinsdag was self, eie en apart.

Buys is ’n denker. Hermann het ’n breë wêreld-beskouing. Kriel is ’n doener.

Selfstandigheid binne gemeenskappe soos woonbuurte, kerke, skole is een ding: Maar waar in hierdie land is daar nog sulke afsondering dat als net wit en Afrikaans is? Want moenie ’n fout maak nie, die Solidariteit Beweging (die Wes-Kaapse regstel-saak ten spyt) bewyer hom nie vir minderheidsgroepe se regte nie, maar vir één minderheidsgroep.

Suid-Afrika het weggestap van groepsgebiede want dit was ’n ramp, ’n ramp waaraan daar op die beraad geen erkenning gegee is nie, geen historiese perspektief nie. Inteendeel, Langner se toespraak was ’n luide vermaning aan die regering omdat hy 300 jaar van “hoëfunksieprestasies” en “hoëfunksiebesluite” deur die Afrikaner misken.

En hy noem as voorbeelde nywerheidsontwikkeling en voedselsekerheid. Op wie se rug is dit gedoen?

Buys is ’n denker. Hermann het ’n breë wêreldbeskouing. Kriel is ’n doener.

Dis onwaarskynlik dat hulle wérklik reken hulle gaan enigiets gebiedsgegrond beding. Dis ook onwaarskynlik dat hulle dit ernstig najaag. ’n Verduideliking daarvoor kan wees dat hulle die ruimte aan die regterkant van die politieke spektrum vir die ekstremes probeer toemaak en aan hulle ’n uitlaatklep wil bied. Kry hulle eerder binne die tent, as wat hulle buite raas en blaas.

Maar waarom is dit nodig om sulke uitlatings te maak net om ’n randgroep te paai?

Verder nog: Waarom die metodiese aanblaas van vrees?

Solidariteit het hierdie week enige skyn dat hy vir “minderheidsgroepe” veg, laat vaar. Hy baklei vir een groep: wit en Afrikaans. En dis reg so. Dis grondwetlik ook.

Maar dit strem sy geloofwaardigheid. Dalk nie onder sy lede nie, maar beslis onder die res van Suid-Afrikaners.

En dis jammer. Die kreatiwiteit en die kundigheid wat in daardie organisasies opgesluit lê, kan so baie beteken as dit tot voordeel van die breër samelewing aangewend word.

Meer nog, as hy dit sou doen, sal hy baie vinnig natuurlik vennootskappe sluit met ander groepe wat ook wil hê wat hulle wil hê: ’n funksionerende demokrasie waarin almal ’n goeie lewe vir hul kinders kan skep.

Die beraad was vir lede ’n bestiering; vir nie-lede was dit ’n openbaring.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.