Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die sendeling en sy ‘onsigbare’ Nama-vrou
Dis vanjaar 200 jaar vandat die Duitse sendeling Hinrich Schmelen met die Namavrou Zara Hendricks getrou het. Willemien Brümmer skryf oor ’n vergete geskiedenis wat eindelik tot versoening gelei het.
Ursula Trüper en Horst Kleinschmidt se voorsate, die Duitse sendeling Hinrich Schmelen en sy Namavrou Zara, het ’n gedeelte van die Bybel in Nama vertaal. Zara se naam is egter vir geslagte lank in die “wit” gedeelte van die fa
So lyk die huis op Kommagas in die Noord-Kaap waar Zara en Hinrich Schmelen se jongste dogter Frederika saam met haar man gewoon het.
Mathilde Kleinschmidt (links), Horst Kleinschmidt se oupa se suster, was aanvanklik verbied om met ’n Duitse handelaar te trou.
Die “bruin” nasate van die Schmelens: Kenneth Makatees by sy groottante. Aunty May in Kommagas in die Noord-Kaap.
’n Skets van Zara Schmelen, die Namavrou wat deur die geskiedenis “uitgevee” is. Die skets is deur Christine Crowley.

Dis ’n familiesage met al die elemente van ’n André P. Brink-roman: Liefde oor die kleurgrens, ’n Khoi-heldin en ’n hele geskiedenis wat doodgeswyg is.

Vandag, vir die eerste keer in twee eeue, trek honderde mense van so ver as Finland, Duitsland en Amerika op Kommagas in die Noord-Kaap saam. Hier sal hulle hul verlangse familie ontmoet en só die eerste wankelrige treë na versoening gee.

In sy tweeverdiepinghuis in Kaapstad met ’n uitsig oor die branders by St. James sit ’n voormalige adjunk-direkteur-generaal van mariene en kusbestuur voor ’n handgeskrewe stamboom. Dié name vertel ’n storie wat die afgelope dekade sy lewe in beslag geneem het.

Horst Kleinschmidt (68) glimlag. “Vir my was dit die logiese stap ná my politieke betrokkenheid in my vroeëre lewe. Om apartheid te troef moes ek ’n identiteit vind en koester wat nie op ras geskoei is nie.”

Die grootste gevaar

Die verhaal begin presies 200 jaar gelede tydens ’n ossewarit na “Groot Namaland” noord van die Oranjerivier. Die Duitse sendeling Hinrich Schmelen (36) word uit Pella na die destydse Klipfontein in die suide van die hedendaagse Namibië gestuur om die plaaslike Namabevolking te kersten. Hy sou dié sendingstasie later tot Bethanien herdoop.

Dis ’n moeisame reis. Daar’s leeus en slange so dik soos ’n man se been, maar die grootste “gevaar” blyk Schmelen se jong Nama-assistent te wees.

Zara Hendricks is 20 jaar jonger as hy en hy het haar in Februarie dié jaar gedoop. In een van sy vele briewe aan die Londense Sendinggenootskap (LSG) skryf Hinrich in sy geradbraakte Engels hoe hy hom een nag alleen saam met haar in die ossewa bevind. Dis ’n koue nag in die woestyn en die “verwarde” sendeling word “genoodsaak” om die waflappe dig te trek.

“Ek wou nie sondig nie, maar om alle agterdog te vermy onder ’n praterige volk … het ek dus uiteindelik besluit, sodat ek bo alle verdenking kon bly, om haar om haar hand te vra. Ek het dit toe gedoen, met my mense as getuies, op dieselfde manier waarop ek hulle sou trou.”

Die éintlike rede hoekom hulle nie voor die reis getrou het nie, was dalk omdat Schmelen die venyn van die Kaapkolonie en sekere lede van die LSG gevrees het. Met reg. Drie jaar later is hy voorlopig deur die LSG geskors weens ontug. Hy het hom egter verweer met die einste brief en kort daarna is die skorsing opgehef.

Met dié huwelik het hy ook ’n medewerker gekry wat van hom een van die suksesvolste sendelinge en taalpioniers in dié gebied gemaak het. Zara kon naamlik in hul eie taal met Schmelen se gemeente praat. Hoewel haar naam in die meeste geskiedenisboeke verswyg word, het hulle saam die eerste formele grammatika van die Namataal neergepen sodat hulle die vier Evangelies en sekere gesange in Nama kon vertaal.

In sy briewe verduidelik Schmelen hy kon self weinig Nama praat, en sy vrou moes die woorde oor en oor sê totdat hy die regte uitspraak kon vind. Voor ’n spieël het sy tot vervelens toe die verskillende klieke vir hom met haar mond gevorm.

In 1824 het die Schmelens en hul vier kinders, Anna (10), Hanna (7), Frederika (4) en Nicolaas (1), na die Kaap gereis om die egpaar se eerste weergawe van hul Namabybel aan die Bybelgenootskap te gee. Die drukker het egter nie die nodige lettervorms gehad vir die kliekgeluide nie en nuwe setvorms moes eers in Engeland vervaardig word.

Die egpaar is terug na die noorde en vier jaar later het hulle die sendingstasie op Kommagas gestig, sowat 50 km van Springbok af. Hulle het voortgeswoeg met die Bybelvertaling, al het Zara aan tering gely.

In 1831 reis die gesin weer na die Kaap om die voltooide vertaling na die drukkers te neem. Zara is reeds baie siek, maar sy pak die tog aan want sy is die enigste een wat die bladproewe kan lees.

Toe die laaste blad voltooi is, sug sy en sê: “Nou is my werk hier op aarde gedaan. Nou kan ek huis toe gaan.”

Haar man laai die ossewa, maar drie dae later sterf Zara op pad terug na Kommagas. Sy word op Botma’s Plaas, vandag Heuningberg, naby Porterville begrawe.

’n Familiegeheim

Geslagte lank is Zara se bestaan vir haar “wit” nageslagte weggesteek. Horst is die agter-agter-agterkleinkind van Zara en Hinrich Schmelen en die sesde geslag ná die taalpioniers.

Hy lag. “Net een 64ste van my is Nama. Maar my familie het geweldig baie tyd daaraan bestee om selfs daardie 64ste geheim te hou.”

Horst se pa, ’n Namibiese handelsreisiger, het skynbaar aan ’n ondergrondse Nazi-beweging in Kaapstad behoort. Horst bring ’n vergeelde boek te voorskyn deur Otto von Weber, Geschichte des Schutzgebietes Deutsch-Südwest-Afrika.

Toe hy 13 was, het sy pa een aand vir die kinders uit die boek voorgelees. Op bl. 3 was een van die eerste sinne: “Hy (Schmelen) het met ’n Nama­meisie getrou en hy het geleef soos ’n Nama.”

Horst se pa het onmiddellik die boek toegeslaan en dit het uit die Kleinschmidt-huishouding verdwyn.

’n Voorsaat uit Afrika

Ursula Trüper (64), nog ’n afstammeling wat heelpad van Berlyn gevlieg het vir die Kommagasfees, het ook op 13 vir die eerste keer gehoor van haar voorsaat uit verre Afrika.

“My ma het dadelik daarna vir my gesê my pa wil nie hê ek moet weet nie, want my familie het generasies lank probeer om haar bestaan te verswyg.

“Toe my pa by die huis kom, het hy ’n ou familiebybel gaan haal met al die huwelike en sterftes in die familie agterin, en daar het hy alles wat hy weet aangeteken, maar die meeste het later geblyk verkeerd te wees. Dit was egter amper soos ’n opdrag: Toe hy dit nie meer kon wegsteek nie, moes iemand uitvind wie sy was.”

Jare het verbygegaan, maar toe Ursula 40 was, het sy na die argiewe van die Londense Sendinggenootskap gereis. Hier het sy Hinrich Schmelen se verslae opgespoor en kon sy begin om die geheim te ontrafel.

Tien jaar later het ’n Duitse boek gevolg wat intussen in Engels vertaal is: The Invisible Woman Zara Schmelen: African Mission Assistant at the Cape and in Namaland.

“Dit het my hele benadering tot die lewe verander,” vertel Ursula.

“Tevore het ek oor rassisme geskryf, maar dit het my nie persoonlik geraak nie. Nadat ek die navorsing gedoen het, het ek besef hulle beledig my wanneer hulle rassisties is.”

Horst het die boek by sy ma gekry en met Ursula kontak gemaak. Tien jaar gelede het hy haar op die lughawe gaan haal vir hul eerste uitstappie na Kommagas in die voetspore van die Schmelens.

“Ons het op ’n Saterdag by Kommagas ingery en dit het gereën en net die drankwinkel was oop,” onthou Horst. “ ’n Paar dronk mans het daar saamgedrom, maar gelukkig het die vrou agter die toonbank gesê sy ken dalk iemand wat ons kan help.”

Sedertdien was Horst al 20 keer op Kommagas en elke keer ontmoet hy nuwe familielede.

Ons familie is dus op grond van ras verdeel. Aan die een kant is dié wat het, en aan die ander kant is dié wat nie het nie. Ons voel vandag nog die gevolge – ’n wond wat ons sal moet erken wanneer ons almal vir die eerste keer op Kommagas bymekaarkom.
Horst

Zara en die Nazi’s

In sy “vorige lewe” was Horst 73 dae in eensame aanhouding. Hy was 15 jaar in ballingskap en was vir ’n wyle selfs die wettige voog van oudpres. Mandela se dogters Zindzi en Zenani.

Vir hom was sy reis na ’n nuwe, raslose identiteit ’n tweede versoeningsreis.

Hy en Ursula is juis nou besig met navorsing oor Zara se Duitse nageslagte wat hulle by die Nazi-party aangesluit het. Party is uit dié party geskors oor hul swart voorsaat uit Afrika.

Horst bring ’n vergeelde foto te voorskyn van sy oupa se suster, Mathilde Kleinschmidt, wat aanvanklik verbied is om met ’n Duitse handelaar te trou. Die magistraat in Karibib het bevind die troue is onwettig omdat sy Namabloed gehad het.

’n Predikant het egter namens haar ingegryp omdat sy “geleef het soos ’n witte”. Indien die “swart bloed relatief min is” en iemand “wit lyk”, het hy gesê, moes sy nie deur die amptenary herklassifiseer word nie.

Haar neef, die ingenieur Ludwig Baumann, was nie so gelukkig nie. Die hooggeregshof in Windhoek het op 13 Maart 1913 die laer hof se bevinding bekragtig: Al was Ludwig tot in daardie stadium as Duits geklassifiseer, moes hy weens sy “swart bloed” afstand doen van alle burger- en grondregte, asook van sy stemreg.

“Ons familie is dus op grond van ras verdeel. Aan die een kant is dié wat het, en aan die ander kant is dié wat nie het nie.

Ons voel vandag nog die gevolge – ’n wond wat ons sal moet erken wanneer ons almal vir die eerste keer op Kommagas bymekaarkom” sê Horst.

’n Nuwe wêreld

Kenneth Makatees (50), streekredakteur van die SAUK in die Wes-Kaap, is een van die afstammelinge wat aan die ander kant van die kleurgrens grootgeword het. Terwyl Horst afstam van die Rynse sendeling Franz Kleinschmidt wat in 1840 met Zara se tweede oudste dogter Hanna getrou het, stam Kenneth van die donkerder Bams af.

Party van hulle leef vandag as wit, ander as bruin.

Zara se jongste dogter, Frederika, het naamlik met die skrynwerker Christiaan Bam getrou, uit ’n gesiene Kaapse “kleurlingfamilie”. Frederika en Chris­tiaan het op Kommagas gewoon, net soos Kenneth, wat twee jaar daar skoolgegaan het.

Sy pa was ’n mynwerker en tussen armoede en rassediskriminasie in die werkplek moes hy sy familie versorg.

“In ons familie is dit weer eens bevestig dat apartheid die verarming beteken het van dié wat nie as wit geklassifiseer was nie. Dit was vir my tragies toe ek die nasate van Albertus Bam (een van Frederika en Christiaan se kinders) in die Kuiseb ontmoet en ek sien in watter armoede hulle leef.

“Ek dink ons familieverhaal is die verhaal van baie families in Suid-Afrika.”

Vir Kenneth se ouers het armoede harder gepraat as die apartheidsgeskiedenis wat hulle op skool geleer het.

Hy het die eerste keer van sy voormoeder uitgevind toe hy Windhoek toe is om ’n onderhoud met die eerste Namibiese president, Sam Nujoma, te voer.

“Ek het die middag na die nasionale argief gegaan en toe ek daar instap, sien ek Ursula se boek oor Zara. Ek het onmiddellik die van herken en die boek gekoop.”

Hy het met Ursula begin korrespondeer en gou het die verhaal vir hom ’n hartstog geword. “Niemand het ooit oor ons geskiedenis gepraat nie. In Kommagas se gedenkboek van 1979 is daar selfs verkeerdelik na Zara verwys as Anna Meyer.

“Ons kon maar net aflei dat daar ’n doelbewuste poging was om vir haar ’n nuwe identiteit en naam te gee.”

Sy reise op soek na sy voorgeslagte het hom ’n nuwe waardering vir die geskiedenis gegee. “Vroue is nooit regtig erken nie, veral nie African vroue nie. En hier het onse grootoumagrootjie letterlik ’n taal op skrif gestel!”

Kenneth glimlag. “Ons was verlede jaar in Wuppertal in Duitsland waar ons van die oorsese nasate ontmoet het. Hier ontmoet ek mense wat ek nie geweet het bestaan nie en ons kom almal uit dieselfde stamouers! Dit was soos ’n nuwe wêreld wat vir jou oopgaan.”

’n Fees van vergifnis

Kenneth en Horst en Ursula het sowat drie jaar gelede begin om die Kommagas-fees te reël. Dié fees het Woensdag begin toe die versamelde nasate na die Namabybel in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad gaan kyk het.

Op pad na Kommagas het hulle onder meer dienste gehou by Zara se graf op Heuningberg en op Steinkopf, nog ’n sendingstasie wat in 1818 deur Schmelen gestig is.

Tydens die fees op Kommagas, wat nog tot oormôre duur, sal daar onder meer van die Namagesange gesing word wat Hanna Kleinschmidt, Zara se dogter, uit Duits in Nama vertaal het.

Maandag is daar ’n mini-Waarheids- en versoeningskommissie, wat Horst die Forum vir Waarheid, Erkenning, Versoening en Geregtigheid gedoop het.

“Ek wou nie hê dit moet net ’n familiefees wees nie,” sê hy.

“Ek weet ek kan nie net om vergifnis vra en verwag ek moet vergewe word vir wat my pa of my neef of my tannie gedoen het nie. Ek kan my nie in iemand anders se skoene indink nie, maar ek wou minstens daaroor práát, om sodoende weer hierdie proses oop te maak waarmee die WVK begin het.”

Die belangrikste doel van die fees was egter om ’n stukkie van die geskiedenis wat uitgevee is, terug te eis.

“Dit bring ook nuwe betekenis vir die inwoners van Kommagas wat 200 jaar op die rand van die samelewing moes leef. Die pad het tevore nie eens soontoe geloop nie,” sê Horst.

Ursula glimlag waar sy voor haar stamboom staan. “Ek verbeel my altyd Zara sit dalk iewers in die hemel op ’n wolk en kyk af oor haar nasate.

“Sy sal hopelik baie bly wees om te sien hulle erken haar nou en dat sy oplaas sigbaar geword het.”

Bykomende bron: The Invisible Woman – Zara Schmelen: African Mission Assistant at the Cape and in Namaland, deur Ursula Trüper.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.