Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dis die punt: Debatte oor ras volg dié formule
Tim du Plessis

Ons is al so gewoond daaraan ons kom dit nie eens meer agter nie. Alle interaksie tussen Suid-Afrikaners oor ras en rassisme volg vir die grootste deel van 20 jaar presies dieselfde patroon.

Dit werk só: 1. Die “voorval” gebeur. 2. Die “pleger” ontken hot en bles, of voer aan hy/sy is nie rassisties nie. Soms is daar ’n apologie, maar dis dikwels só gemompel of gekwalifiseer dat die effek verlore gaan. 3. Die politici spring op die lawaaiwa en pers elke druppel propagandabloed daaruit. 4. Die inbelprogramme, so­siale media en die briewekolomme raak radio-aktief. 5. ’n Politieke party of een of ander organisasie dien ’n klag in by die hof, die openbare beskermer of die Menseregtekommissie in. 6. Professors, oud-politici, gemeenskapsaktiviste en ontleders skryf lang, vervelige opiniestukke oor ras en rassisme (wat min gelees word, ongeag waar dit verskyn). 7. Die storm waai oor, gewoonlik binne ’n week tot tien dae. 8. Suid-Afrikaners hervat die een ding waarin hulle uitblink: voortploeter.

Terwyl dié proses hom uitwoed, word presies twee argumente gehoor: Een: regtigwaar, dis byna 21 jaar sedert apartheid verdwyn het, kan ons nie nou maar “aanbeweeg” nie? Wanneer gaan swartes dit aanvaar? Twee: die “voorval” bewys maar net weer ons is nog lank nie klaar gepraat oor ras en rassisme nie. Wanneer gaan wit mense dit besef?

Dis ’n dialoog van dowes.

Dis ’n dialoog van dowes. Elk van die kampe saai uit op ’n golflengte waarop die ander se radio nie ingestel is nie. Ons praat en stry die bome uit die grond uit, maar niemand hoor iemand nie.

Vat nou maar die moles waarin Max du Preez met die intrapslag van 2015 beland het. Hy skryf ’n rubriek waarin hy Jacob Zuma ’n “one-man wrecking ball” noem wat sake doen as “Zuma Demolitions Inc.”.

Die rubriek wys uit hoe Zuma, om sy eie bas te beskerm, kritieke instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie, die Skerpioene, die Valke, die SAUK en nou die Inkomstediens vermurwe en verswak het.

Die presidensie reageer met ’n verklaring wat sê Du Preez se rubriek is “deurspek van vooroordeel en rassisme”. Die sosiale media, die inbelprogramme en die briewekolomme lyk soos Times Square op Oujaarsaand. Dis net vlamme en rook.

Max moet skryf om te verduidelik. Soos hy al ’n paar keer in sy grootse en droewe loopbaan gedoen het. Hy vind dit onbegryplik dat Zuma en Mac Maharaj hom ’n rassis noem, hy met sy trotse geskiedenis van verset teen apartheid en rassisme. En dit steur hom erg dat die meeste wit mense wat hom gesteun het, ’n spul rassiste is wat net skaam maak.

En daar begin die hele ritueel weer van voor af, asof dit splinternuut is en nie dae tevore reeds uitgespeel het oor Du Preez se rubriek nie.

Ons was reeds by fase 8 van die Max-voorval – oorwaai en voortploeter hervat – toe die volgende een losbars: Die hiperdeftige Azure-restaurant by die 12 Apostles Hotel in Kaapstad word geraskaart omdat hy nie ’n bespreking wou aanvaar van ’n groep swart gaste nie. Toe hulle wel daar opdaag nadat iemand vir hulle onder ’n “wit” naam ’n tafel bespreek het, is hulle glo afgegradeer na ’n tafel weg van die ander gaste

En daar begin die hele ritueel weer van voor af, asof dit splinternuut is en nie dae tevore reeds uitgespeel het oor Du Preez se rubriek nie. Oor 12 Apostles moet nog net die ontleders en die kenners klaar pontifiseer, dan is dié een ook verby.

Aangeleerde refleks en dit alleen dryf die ritueel hier ter sprake. Van feite, rede, argument en oorreding is daar g’n sprake nie. Hoe dan anders? Die kampe in Suid-Afrika se rasdebatte is soos twee dronkies wat mekaar nodig het om regop te bly, elkeen te dronk om alleen te loop.

’n Towerformule kan ons dalk losruk uit dié steriele ritueel. Moenie geld daarop verwed nie. Die kanse is beter dat almal een of ander tyd gaan moeg raak. Boonop is daar ’n nuwe generasie wat op die drempel staan van kritieke massa. Die kanse is goed dat hulle nee dankie sal sê. Rasgevegte is só laas seisoen. Die natuur sal wel sy gang gaan. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.