Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Middagete met Francois van Coke
Duskant uitwoed
Francois van Coke, sy vrou en sy hond woon deesdae in ’n “proper, proper suburb”, net om die draai van waar hy in Bellville grootgeword het. Die hoofsanger van die band ­Fokofpolisiekar is rustiger, en stadig maar seker aan die “grootword”, het hy oor ’n bier (én ’n koffie) aan Henry Cloete vertel.
Skets: Hanlie Malan

’n Peter Stuyvesant Blue-sigaret lê gemaklik tussen die vingers van die hand wat Francois van Coke oplig om mee te beduie.

“Ek het net hier af in Somersetweg gebly,” sê hy, met ’n glimlag wat tussen ongeloof en nostalgie huiwer. Die middag is warm en sonnig in Groenpunt waar ons by Hudsons Burger Joint ontmoet. Die straat wemel toenemend van son- en lafenissoekers wat op die talle restaurante en kroeë om ons toesak.

“Dís wat ek mis in Bellville,” sê hy. “Mens kan nie ’n coffee shop of iets soek sonder dat jy by ’n mall moet ingaan nie. Ek bly baie lekker daar, maar dis een ding wat ek mis.”

Francois woon sedert Februarie saam met sy vrou, Lauren, en hul bulhond, Ringo, in die “proper, proper suburb” Boston, waar ’n mens nie sommer toevallig op ’n partytjie of ’n rock-show afkom nie. Dít pas hom egter goed.

“Ek dig dit, dis baie chilled. Ek’t voor dit in Woodstock gewoon, so nou voel dit of ek in die platteland bly. Ek braai so baie soos ek kan, en gaan stap met die hond.”

Hy lag, asof hy nou vir die eerste keer hoor hoe hy dit hardop sê. “Ek gaan nooit uit in Bell­ville nie, ek weet nie wat de f*k daar gebeur nie.

“Dis vir my net soms ’n bietjie depressing . . . ek bly nou omtrent 3 km van waar ek grootgeword het. As ek oor daai bult ry in Suikerbossiestraat, dan dink ek . . .” – hy werp sy arms na bo, in ’n kamma desperate poging om te ontvlug – “dêmmit!”

In Fokofpolisiekar se dekade lange bestaan (die groep toer in Desember landwyd om dié mylpaal te vier) het hy al báie gesien en báie gedoen.

 Nou, op 33-jarige ouderdom, is hy vasbeslote om “soos ’n grootmens” op te tree. Die rockster-leefstyl het in so ’n mate ’n tol begin eis dat hy verlede jaar drank vir ’n ruk heeltemal afgesweer het. Hoewel ’n glas bier nou op die tafel voor hom staan, sal dit die laaste vir die middag wees.

“Ek’t so tien maande lank nie gebooze nie. En dit was f****n amazing. Dit het my baie geleer van myself, ek’t baie gedink oor stuff. Nou probeer ek dit maar easy vat, ek probeer drink soos ’n grootmens, nie soos toe ek ’n laaitie was nie.

“Ek het nou nie vooropgestelde idees van wat ek gaan doen vir ewig nie, maar ek wil in ­control bly. That’s about it.”

So die kwessie van beheer verloor was die katalisator vir dié besluit?

Ek hoop in ons kinders se generasie dink mense nie eens meer daaroor nie… of daar nou geworry moet word of iets vir God ’n probleem is.

 “Ja, big time. Ek’t shows gedoen waar ek nie eens kon onthou dat ek daar was nie. En obviously was dit sleg vir my verhoudings en werk . . . ek moes net time-out vat. Ek was in die naughty corner . . .

“Dit was my eie besluit, maar daar was definitief mense wat vir my gesê het: ‘You’re out of ­line.’ Ek was op die punt van . . . as ek uitgaan, sal ek die volgende dag moet jammer sê.

“Alles wat verkeerd gegaan het, was as gevolg van booze. Dit was ’n obvious keuse . . . anders gaan jy alles verloor wat jy het. Mens besef – dis net f****n alkohol, en party mense gooi hulle lewens weg daarmee.” Hy lag.

“Grootword, man,” verkondig hy met ’n hand wat op die tafel slaan. “Grootword!”

Die belangrikste ding in sy lewe, sê hy, is sy verhouding van die afgelope 12 jaar met Lauren. Hulle is in Januarie verlede jaar getroud. Francois se predikant-pa het die diens behartig.

Dié gebaar ter syde het Francois nog nie sy wroeging oor geloofsake uitgewoed nie.

“Dit klink soos iets waarmee ’n mens moet deal en aanbeweeg, maar ek voel net dit is sulke heavy baggage wat op ’n mens geplaas word. Aan die begin van Fokof het ek gevoel dis my werk om te baklei teen die onderdrukking.

“Ek voel nie meer so nie, maar ek weier net om te aanvaar dit is hoe dit moet wees . . . ek dink dís die mees diplomatiese manier waarop ek dit kan stel!”

Tong-in-die-kies vertel hy dit was ’n liefdesteleurstelling wat hom op hoërskool laat besluit het om die charismatiese kerk waarby hy toe betrokke was te verlaat.

“Ek was net so heartbroken oor hierdie girl. Ek het God gevra: Help my. Toe gebeur niks . . . en toe besluit ek, f*k dit, I’m outta here.”

Hy skud byna van die lag by dié herinnering aan wat blote opwarming sou wees tot sy latere, meer daadwerklike aftakeling van geloofselemente.

Hy vertel twee “flippen oulike” meisietjies het onlangs na hom gestap terwyl hy besig was om ’n musiekvideo te skiet op ’n minigholfbaan in Johannesburg. Hulle het hom oor sy tatoeëermerke uitgevra.

Hy het aan hulle verduidelik hy hou van die prentjies, waarna die meisietjies gesê het tatoeëermerke is verkeerd en “teen God se wil”.

“Ek was net soos . . . f**k. Hulle is so oulik, en hul ouers leer hulle hierdie goed. Ek’t nie gedink daar bestaan nog sulke huishoudings nie, maar ek lewe obviously in denial.

“Wanneer gaan mense anders begin dink? I dunno, man. Dis miskien hoekom ek voel dis nog nie vir my uitgewoed nie.

“Ek hoop in ons kinders se generasie dink mense nie eens meer daaroor nie – of daar nou geworry moet word of iets vir God ’n probleem is of nie.”

Kinders is beslis in sy en Lauren se langtermynplanne, maar intussen toer hy steeds die land plat, veral met sy ander band, Van Coke Kartel, wat pas ’n nuwe album uitgereik het.

Hoewel hy optredes nou “meer as ooit” geniet, is daar ’n bepaalde kontras in wat toer nóú be­teken en wat dit tien jaar gelede was.

“Ek was toe 23. Ek’t niks gehad nie. Ek’t ’n matras gehad in ’n kamer wat geel mure gehad het, daar was een rakkie met magazines.

“Om toe op die pad te gaan was amazing, want jy maak elke aand geld, jy bly in beter accommodation as wat jy by die huis het. Nou woon ek in ’n huis, met ’n vrou vir wie ek lief is, ek het ’n hond, dis gemaklik.

“To an extent gaan ek dit (musiekmaak) vir die res van my lewe doen. Ek hou van al die formate, ek hou van Fokof, ek hou van Van Coke Kartel, ek hou van die accoustic shows.”

Hy onthou nog die oomblik ná een van die heel eerste Fokof­polisiekar-vertonings, toe hy agter die verhoog die ander groeplede omhels het en verklaar hoe lief hy hulle het.

Terwyl hy dié staaltjie vertel, spits hy sy ore vir die musiek wat die restaurant vul – dis ­Dire Straits se “Brothers in Arms”:

And though they did hurt me so bad / In the fear and alarm / You did not desert me / My brothers in arms

“F****t,” sê hy met ’n droë glimlag. Hy kyk af en skud sy kop effens.

“Die musiek is heavy.”

* * *

Spyskaart

Hudsons Burger Joint, Groenpunt

The Game Burger R65

Black Label Draught R27

Flat White R18

Sjokolade-bruintjie R35

Ekstra Nutella R15

Fooitjie R20

Totaal: R180

  • Henry is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad. Hy was by een van Fokofpolisiekar se heel eerste optredes, in die Hidden Cellar op Stellenbosch.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.