Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eis terug die demokrasie
Suid-Afrika se leiers sit rustig terug terwyl korrupsie, kaderbeskerming en geweld die grondwetlike staat ondermyn, skryf Raymond Suttner.
Jacob Zuma

In moderne demokrasieë aanvaar die meeste mense dat daar leierskap moet wees. Maar die betekenis van leierskap en die gehalte van leiers is ’n kwessie waarmee die meeste samelewings worstel.

Leierskap is ’n konsep wat verhoudings behels: Anders as in die tyd van slawerny of die feodale stelsel, hoef leiers nie vandag “permanente volgelinge” te hê nie. Leiers is nie onveranderbaar nie. Hulle beklee hul poste en ampte danksy ’n verhouding met mense wat hulle verkies het om hulle te verteenwoordig.

Leiers kan uit die kussings gelig word en volgelinge kan leiers word.

Die oorspronklike betekenis van demokrasie, wat in ’n mate weerklank in Suid-Afrika vind, het na direkte demokrasie verwys. Dit het nie die bemiddeling van verteenwoordigers behels nie, maar direkte optrede deur die bevolking. Baie mense het steeds die begeerte om self by die politiek betrokke te wees, self gehoor te word en self demokratiese ontwikkeling te dryf, nie net ’n mandaat aan ’n leier te gee wat hulle verteenwoordig nie.

Die ANC het dié begeerte in 1994 verstaan toe hy tydens daardie jaar se verkiesing die klem op ’n “mensgedrewe” en “mensgesentreerde” begrip van leierskap geplaas het. Die land se burgers was nie veronderstel om passiewe waarnemers of blote ontvangers van “dienste” te wees nie.

Die ANC het dié begeerte in 1994 verstaan toe hy tydens daardie jaar se verkiesing die klem op ’n “mensgedrewe” en “mensgesentreerde” begrip van leierskap geplaas het.

Natuurlik het die mense se swaarkry steeds sentraal tot die ANC se visie gestaan. “Mensgesentreer” het beteken dat die behoeftes van dié wat onder apartheid onderdruk is die regering se primêre fokus sou word. Dié verwagting is ook in 1996 gespesifiseer toe die regering in die Grondwet verplig is om aan “basiese behoeftes” te voldoen.

Binne dié konteks moet ’n leier integriteit hê. Hy of sy moet mense se vertroue verdien. Waar vertroue verbreek word en waar leiers hulself as onbetroubaar bewys, het hulle nie hul leierskapsfunksie in die ware sin van die woord vervul nie, selfs al beklee hulle danksy verkiesingsuitslae steeds hul leierskapsposisies.

Toe Nelson Mandela president was, was dit duidelik dat die mense hom vertrou het. In sy eie lewe, as vryheidsvegter én as president, het hy die waardes verpersoonlik wat hy verkondig het. Hy het nie voorspraak gemaak vir sekere waardes sonder om daardie waardes self in sy eie dade uit te leef nie.

Mandela het niks vir eie gewin nagejaag nie. Hy het ná slegs een termyn as president uitgetree. Hy het nie ’n fortuin bymekaargemaak nie en dít wat hy wel bymekaargemaak het, het hy geheel en al op ’n eerbare manier gedoen. Kortom het sy lewe die voorbeeld gestel van ’n leier wat die waardes van demokrasie en die bepalings van die Grondwet navolg.

Hy het deurgaans gewys hoe hy die mense wat hy verteenwoordig het se pyn gedeel het en daarna gestreef het om daardie pyn te verlig.

En lank voordat hy president geword het, selfs toe hy nog ’n jong prokureur was, het Mandela verstaan hoe belangrik dit is om fyn te luister.

Dis duidelik pres. Jacob Zuma is nie van plan om sy grondwetlike plig na te kom wanneer dit met sy persoonlike bevoordeling inmeng nie.

Hy het ’n groot deel van sy lewe buite die tronk daaraan gewy om na ander te luister. Wanneer hy die daad by die woord gevoeg het om reg te maak wat ander seergemaak het, het hy dit gedoen met ’n intieme kennis van wat daardie mense deurgemaak het. Wanneer Mandela mense gesien het wat verlies of vernedering ervaar het, was dit duidelik dat hy hul pyn aan sy eie lyf gevoel het.

Kyk ’n mens na die onrus oor Suid-Afrika se leierskap vandag, is dit duidelik die wortel van die probleem is wantroue. Mense glo nie in die integriteit van hul leiers nie.

Daar is aansienlike bewyse dat leiers op alle vlakke nie te goedertrou optree om die lewe van die armstes te verbeter nie. Trouens, die ouditeur-generaal se verslag oor plaaslike regering het nie net oorweldigende getuienis van wanbesteding in plaaslike regering ontbloot nie, maar ook dat baie min mense daarvoor verantwoordbaar gehou is.

Dis onnodig om die verskeie ongerymdhede uit te stip wat die huidige presidensie omgeef. Dis duidelik pres. Jacob Zuma is nie van plan om sy grondwetlike plig na te kom wanneer dit met sy persoonlike bevoordeling inmeng nie.

Dié voorbeeld word oor die algemeen deur die leierskorps nagevolg. Met hul toestemming word die grondwetlike staat, die waarborg van ons vryheid, deur korrupsie, kaderbeskerming, geweld en verskeie ander aanvalle op die demokratiese lewe ondermyn.

Wanneer die tyd kom om Zuma te vervang, kan ons nie ’n sug van verligting slaak nie tensy ons hierdie soort verwysingsraamwerk en verhoudings eien wat dit vir mense moontlik gemaak het om die staat van bo tot onder te plunder.

Ons kan nie staatmaak op die blote gebruik van woorde soos “etiese regering” of “geen verdraagsaamheid van ongerymdhede” nie.

Dis tyd dat ons besef wetsgehoorsaamheid is onder beleg en moet herstel word.

Die huidige parlement, insluitend die opposisiepartye, het nie hulself bewys as vegters vir en bewakers van ’n grondwetlike regering nie.

Suid-Afrikaners moet nou saamstaan om self hul demokratiese regte terug te eis. Tans word dit net verkwis.

  Prof. Raymond Suttner is ’n voormalige ANC-LP, anti-apart- heids­aktivis en politieke gevangene. Hy is tans verbonde aan Unisa en die Rhodes-universiteit.

Bogenoemde is ’n verkorte en vertaalde uittreksel uit sy boek

Recovering Democracy in South Africa (Jacana Media), wat vandeesweek uitgegee word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.