Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ek is die Raka van Afrikaans’

Die enigste Indiërdosent in Afrikaans kry nie ’n pos nie, maar intussen is Daryl David feesbedonnerd, skryf Herman Lategan.Darryl Earl David is ’n man vol teenstrydighede.

Tot onlangs toe was hy die enigste Indiërdosent in Afrikaans in die land (dit is tot voordat die departement aan die Universiteit van KwaZulu-Natal waar hy klasgegee het, gesluit is).

David is egter nie net ’n geesdriftige stryder vir Afrikaans nie, maar ook ’n hondeliefhebber (hy het vier honde wat oral met hom in sy VW Kewer rondreis) en ’n man wat oor ’n amperse onverstoorbare optimisme beskik. Hy is so kalm, sê hy, dat sy vrou dikwels vir hom kwaad raak daaroor.

Dis waarskynlik juis dié onverstoorbaarheid en ewige optimisme wat hom laat vasbyt het met projekte soos die Boekbedonnerd-fees in Richmond in die middel van die Karoo, of die ­Olive Schreiner-fees in Cradock, idiosinkratiese projekte met soveel uitdagings dat enigeen met minder dryfkrag lankal sou tou opgooi.

Maar nie David nie. ’n Mens kry die indruk dat hy dikwels dié projekte aan die gang hou slegs deur die mag van sy eie persoonlikheid, soos geïllustreer deur die feit dat verlede naweek se Boekbedonnerd-fees gehou is al het die Noord-Kaapse regering se jare lange finansiering skielik en onverklaarbaar opgedroog.

Maar sy gemoedelike uiterlike ten spyt, is David ook nie iemand wat ’n moordkuil van sy hart maak nie, en jy kan altyd ’n reguit en dikwels omstrede antwoord van hom verwag.

Die Afrikaans-departement by die Universiteit van KwaZulu-Natal is onlangs toegemaak. Hoekom?

Hulle wil mense laat glo dat ons nie genoeg studente gehad het nie. Maar dis ’n leuen. Die eintlike rede is dat (die voormalige rektor) prof. William Makgoba sy mes ingehad het vir Afrikaans. Hy het selfs Afrikaans ’n kanker genoem.

So sedertdien sukkel jy om ’n Afrikaanse pos elders te kry? Ja, dit lyk vir my niemand wil my hê nie! Ek moet erken ek het wel in 2013 ’n pos by ’n ander universiteit gekry, maar hulle wou my minder betaal.

Ek het boonop twee donkies – en erwe waar ’n mens donkies kan aanhou is nie maklik bekombaar nie.

Die skrywer Clinton V. du Plessis, Breyten Breytenbach en Darryl Earl David by vanjaar se Boekbedonnerd-fees op Richmond.

Die enigste Indiërdosent in Afrikaans kry nie ’n pos nie, maar intussen is Daryl David feesbedonnerd, skryf Herman Lategan.

Toe hoor ek Dorothea van Zyl van die Woordfees op Stellenbosch gaan aftree. En donkies kan jy goedkoop in Wellington huisves. Maar toe vul hulle haar akademiese pos sonder om dit te adverteer.

Blykbaar het die Skelmbos-mense ’n reël wat jou toelaat om tydelike aanstellings permanent te maak sonder ’n advertensie.

Dieselfde by die Noordwes-Universiteit. Ek word moedeloos omdat ek nou al drie keer nie eens ’n kortlys kon haal nie. Maar ek weet hoekom. Hulle wil orals net wit mense aanstel. Hulle hou my weg van die kortlyste want hulle weet sodra ek op die kortlys kom, kan hulle nie met hul leuens wegkom nie.

Nee wat, ek sal nooit by hierdie universiteite gaan werk nie, al bied hulle my ’n professoraat aan. ’n Mens moet weet waar jy nie welkom is nie.

Voel jy bitter?

As jy my ’n jaar gelede vertel het dis hoe die
kakademici my sou behandel, sou ek dit nooit geglo het nie. Dis werklikwaar ’n klap in my gesig. Stellenbosch en Potchefstroom moenie by my kom preek hoe die taal swart is nie. Hulle jaag bekwame swart mense weg.

Hoe het ’n Indiërseun van Howick en Afrikaans bymekaar uitgekom? Mense soos Breyten Breytenbach is die rede hoekom ek so lief is vir Afrikaans. In die kamers van die Afrikaanse letterkunde is daar definitief plek vir die enigste Indiërdosent in Afrikaans.

Wat is dit van Afrikaans wat jou so opgewonde maak?

Die letterkunde. Die Afrikaanse letterkunde is die beste in die land. En die ekspressiewe woorde – soos spookasem, hondegaloppie. En natuurlik Boekbedonnerd!

’n Man soos jy is mos net die een om Afrikaans te help red. Hoekom is jy nie een van die voorbokke by die Afrikaanse Taalraad nie? Of is daar te veel Broederbondooms, van die wittes en die bruines?

Ek sal nooit ’n taalbul wees nie. Miskien ’n “boekbul”, ’n missionaris van die letterkunde. Dis waar ek hoort. Ek dink dis die rede waarom ek nie by Afrikaanse universiteite aangestel word nie. Hulle dink ek is ’n

maverick. ’n Loskanon. Ek is die Raka van die Afrikaanse taal.

Voel jy dat bruin Afrikaners nog stief behandel word?

Daar is geen twyfel hieroor nie. Maar bruin mense is soms hul eie grootste vyande. As iemand soos ’n Nathan Trantraal en sy vrou, Ronelda Kamfer, stellings maak dat hulle nie “hired coloured writers” wil wees nie, laat dit my in ’n Catch 22-situasie.

As ek hulle nooi, dan moet ek skuldig voel dat ek hulle misbruik. As ek hulle nie nooi nie, dan word ek bestempel as ’n rassis.

Ek sien dit ook in die Karoo. Die grense tussen die wit gebied en die bruin gebied is steeds duidelik. As jy ’n konsert in die een buurt hou, dan sal die ander groep nie deelneem nie.

As daar ’n kerkbasaar by ’n NG Kerk gehou word, dan sien jy die bruin kinders deur die hekke loer. Dit is wat eeue van rassisme aan mense doen. ’n “dekolonisering van die gees” van albei kante is nodig.

Jy is veral bekend as dryfkrag agter die Karoo (en Suid-Afrika) se enigste “boekedorp”, Richmond, en die Boekbedonnerd-fees. Hoe het verlede naweek s’n? afgeloop? Ek sê elke jaar dit was ons beste fees. Maar hierdie jaar se fees was regtig die beste, alles te danke aan Breyten Breytenbach se teenwoordigheid. Om die musikaliteit van sy stem te hoor, die fyn gevlegte woorde te waardeer. Om die mens agter die gedig as ’n lang verlore vriend te ervaar. Dit was spesiaal.

Ek weet nie hoekom hy soms slegte publisiteit kry nie. Ek dink die probleem lê by die “volk”. Miskien het die joernaliste wat sulke negatiewe artikels oor Breyten skryf hul opvoeding by Potch of Stellenbosch ontvang.

Sal daar volgende jaar weer ’n Boekbedonnerd wees? Ek verstaan daar is probleme met borge? Die toekoms lyk duister. Ons het nie enige geld hierdie jaar van die Noord-Kaapse regering ontvang nie.

Hulle is net jaloers omdat hulle met miljoene nie kon regkry wat ons jaarliks met R30 000 tot R50 000 regkry nie.

Gaan daar ’n Boekbedonnerd in 2016 wees? As dit gebeur sal dit te danke wees aan private skenkers. Tientalle mense het vir my gesê hulle sal geld uit hul eie sakke haal eerder as om te sien dat die land se enigste boekedorp sy deure moet sluit.

Buiten die Boekbedonnerd-fees in Richmond is jy ook die stigter van die Schreiner-fees op Cradock, die Midlands Literary Festival in Howick, die J.M. Coetzee-fees op Richmond, die Breyten Breytenbach-boekefees op Montagu, en die enigste kinderboekfees in Suid-Afrika, wat in Pietermaritzburg gehou word. Onlangs het jy ook die leisels van die Fugard-fees oorgeneem. Is hulle almal lewensvatbaar?

Ja, daar is definitief ’n behoefte aan sulke feeste. Met die Schreiner-fees werk ons gelukkig saam met die National English Literary Mu­seum. In Pietermaritzburg is die ATKV ons vennoot. En ek het vennootskappe met skole soos Hilton College en St. Mary’s in Kloof. Hierdie skole het diep sakke en is net te bly om geld te belê in ’n boekefees vir hul skool en die streek. Hierdie Kinderboekfees sal my grootste fees word. So, dis net my drie Richmond-feeste wat in gedrang is.

En van hulle is Boekbedonnerd my gunsteling. Dis werklikwaar ’n ikoniese fees. Dit sal my hart breek as Richmond sy deure moet sluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.