Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Enjins van innovasie
Universiteite as ivoortorings is uitgedien. Die druk is groot dat hulle enjinkamers vir innovasie moet wees, skryf Wim de Villiers.

Alle oë is deesdae op universiteite gerig – nie net in Suid-Afrika nie, en ook nie net wat institusionele simboliek betref nie. Universiteite is wêreldwyd in die kollig, veral in die nadraai van die globale finansiële krisis van 2007-’08.

Indringende vrae word gestel: Is ’n universiteitsgraad nog relevant? Gaan jy daarmee werk kry? Hoekom is hoër onderwys so duur? Is dit nog nodig om klas te draf as jy oor die internet toegang tot die wêreld se beste professore kan kry?

Hierdie kwellinge is aanduidend van ’n revolusie wat in die hoër onderwys aan die ontvou is. Deurlopende transformasie het ’n noodsaaklikheid geword vir enige universiteit wat sy sout werd is en wil voortbestaan.

Namate globale krisisse toeneem – op gebiede soos die ekonomie, die omgewing, konflikhantering, gesondheid, water, voedselsekerheid, maatskaplike kohesie en die welvaartgaping – soek die samelewing oplossings by universiteite.

Probleme het die mensdom nog altyd gehad; so ook blink planne. Wat ons nou benodig, is innovasie – nuwe maniere van dink en doen. Dit is ál hoe ons ander uitkomste as in die verlede gaan bewerkstellig.

Die samelewing verwag van universiteite om hierdie rol te speel. Groot bedrae geld word aan hoër onderwys bestee. Dit is niks minder as reg dat ’n behoorlike rendement getoon word nie.

Innovasie word uit probleemstelling gebore, en daarmee is die universiteitsomgewing baie goed – om kritiese vrae op te lewer. Dit is deels hoekom universiteite van sleutelbelang vir innovasie is.

Die ander rede is dat veral navorsingsuniversiteite plekke van kennisproduksie is – betroubare kennis wat uit die wetenskaplike metode voortvloei. Spesialiste in verskeie vakgebiede kan op multi- en interdissiplinêre wyse met veelkantige oplossings vir oënskynlik onoorkomelike probleme vorendag kom.

As jou kenners almal in ’n bepaalde streek saamgetrek is, het jy ’n innovasie-naaf, soos Silicon Valley in die VSA, Vancouver in Kanada, Cambridge in Brittanje en Leuven in die EU. Die Wes-Kaap is uitgeknip vir ’n innovasie-naaf, met sy spilpunt in die groter Kaapstad-gebied, insluitend Stellenbosch. Al hoe meer tegnologie-maatskappye, entrepreneurs en beleggers vestig hulle hier.

Inisiatiewe soos Silicon Cape, die Cape Innovation and Technology Initiative, en die Stellenbosch Innovation District is baie opwindend. Wat opval, is dat hulle almal erkenning gee aan die feit dat ons vier goeie universiteite binne ’n radius van 50 km het – KSUT, US, UK en UWK.

Universiteite het ’n ryke tradisie wat 1 000 jaar terugstrek na die Middeleeue. Sentraal hieraan is die idee van akademiese vryheid om fundamentele navorsing te doen – kennis ter wille van kennis. Die idee van die ivoortoring is egter uitgedien. Universiteite moet relevant wees, veral in die lig van krimpende staatsubsidie en ’n knellende ekonomie.

Is universiteite gereed vir hierdie uitdagings? In hul boek, Engines of Innovation – The Entrepreneu­rial University in the Twenty-First Century, voer Holden Thorp en Buck Goldstein aan die sleutel is entrepreneurskap, want dit “verskaf die vonk, die passie en die toewyding wat kreatiewe denkers inspireer om saam die buitengewone te vermag”.

Entrepreneuriese denke kan universiteite help om meer innoverend te wees, en innoverende universiteite kan saam met ander rolspelers die samelewing help om probleme in geleenthede te omskep.

Die kommersialisering van die intellektuele goedere wat ’n universiteit oplewer, is baie belangrik. Die US is byvoorbeeld Afrika se navorsingsleier, met die meeste navorsingsuitsette per voltydse akademikus; maar wat baat al hierdie kennis enigiemand as dit net stof vergader?

Wat nodig is, is patentering, lisensiëring en afwentelmaatskappye, asook die oordrag van tegnologie aan entrepreneurs, sodat haalbare produkte en dienste geskep kan word. By Maties word hierdie funksies verrig deur Innovus, die maatskappy wat die US se interaksie met die bedryf bemiddel en innovasie binne en buite die universiteit bevorder.

Danksy hierdie stelsel registreer die US die meeste PCT-patente (Patent Cooperation Treaty) in die land – 59 van 2009 tot 2014, selfs meer as die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). Kyk ’n mens na alle patentaansoeke in Suid-Afrika, was daar 314 in 2012 – aansienlik minder as Amerika se 52 000 aansoeke, Japan se 44 000 en Duitsland se 19 000. Uiteraard is ons ’n klein, ontluikende ekonomie in vergelyking met hierdie reuse. Dit is egter interessant om te let op die verband tussen onderwys en innovasie.

Om te kan oorleef, moet ’n universiteit hom van ander instellings onderskei.
Prof. De Villiers is die nuwe rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.

In die VSA en Japan het 1 uit elke 3 jongmense tussen 25 en 34 jaar oud ’n baccalaureus-graad. Hoër onderwys is dus beslis een van die boustene van innovasie en ontwikkeling. Hoe lyk hierdie prentjie in SA? In 2001 het 1 uit elke 17 mense ’n universiteitsgraad gehad, maar die doelwit in die Nasionale Ontwikkelingsplan is 1 uit 6 teen 2030.

Studente is vroeër jare vir ’n bepaalde beroep opgelei en sou dan hul lewe lank vir ’n maatskappy of twee werk. Deesdae word jongmense opgelei vir beroepe wat nog nie eens bestaan nie. Voorts verander mense deesdae dikwels van loopbaan – sommer meer as een keer.

Opleiding in entrepreneurskap is deel van die antwoord. By Maties is ’n interessante inisiatief wat as die Launch­Lab bekend staan. Dit funksioneer as ’n sakeversneller wat entrepreneurskap op die kampus ’n hupstoot gee deur middel van netwerkgeleenthede, mentorskap en bekostigbare huurtariewe vir beginner-ondernemings deur sowel studente en personeellede as buitepartye. Launch­Lab het nou sy aktiwiteite ook na die ander drie Wes-Kaapse universiteite uitgebrei. Daar is wêreldwyd die tendens dat kampusse toenemend ’n platform vir die skep van nuwe maatskappye raak.

Studente het deesdae heeltyd toegang tot kennis, van enige plek af. Hulle dra hele biblioteke op hul slimfone rond, hulle luister na klankgrepe en kyk na video’s op die internet om hul akademie baas te raak, en hulle kommunikeer blitsig en deurlopend met mekaar – en met dosente – via sosiale media.

Daar word voorspel dat die helfte van die wêreld se kontak-universiteite kan verdwyn namate die aanlyn leeraanbod toeneem. Daar word egter ook voorspel dat universiteite soos Harvard honderdduisende studente in die kuberruim kan bykry, danksy hul reputasie vir uitnemendheid.

Suid-Afrikaanse universiteite beproef stadig maar seker hierdie nuwe waters. Wits en die UK het al begin met Massive Open Online Courses (MOOCS), en die US en ander instellings het ook gevorderde planne in dié verband.

Op die lange duur gaan die vermengde onderrigmodel egter waarskynlik seëvier. Hiervolgens vervang tegnologie nie kontaksessies nie, maar word dit gebruik om leer en onderrig te verryk.

Die hoër onderwys was altyd ’n uiters stabiele sektor. Van die 85 instellings ter wêreld wat al sedert 1522 bestaan, is 70 universiteite – aldus Clayton Christensen en Henry Eyring in hul boek, The Innovative University – Changing the DNA of Higher Education from the Inside Out.

Ou klipfondamente is egter oral aan die verkrummel. Om te kan oorleef, moet ’n universiteit hom van ander instellings onderskei. ’n Universiteit kan nie alles vir almal wees nie. ’n Mens moet besluit waarmee jy die grootste impak kan hê.

Die uitdaging vir Suid-Afrikaanse universiteite is om plaaslik relevant dog internasionaal mededingend te wees. Daar is uniekhede waarop ons kan fokus omdat ons bepaalde kundigheid opgebou het. Ons mediese skole staan byvoorbeeld baie sterk.

Deur met die privaat sektor hande te vat, kan hoër onderwys die pas aangee – en terselfdertyd die mense van ons land en vasteland beter bystaan met bewese kundigheid. So kan universiteite die innovasie-enjins wees wat broodnodige ontwikkeling aandryf.

■ Hierdie artikel is ’n geredigeerde weergawe van ’n toespraak wat gister voor die Kaapstad Sakekamer gelewer is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.