Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Debat
Gaafheid sal nie die taal red
Daar is talle gevaarligte wat flikker ná die ‘vriendelike’ gesprek met die Pukke se nuwe visekanselier, skryf Alana Bailey.

Dr. Michael le Cordeur, voormalige voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), skryf verlede week in Weekliks dat die Afrikaanssprekende publiek die nuwe Puk-visekanselier, prof. Dan Kgwadi, ruimte moet gun.

Mense wat huil oor die dood van Afrikaans op die Potchefstroom-kampus, sê Le Cordeur, huil by die verkeerde begrafnis.

Hiermee durf ek nie saamstem nie. Die toekoms van Afrikaans op tersiêre vlak is so ’n ingewikkelde saak dat dit onmoontlik is om ná een uur se gesprek met ’n enkele rolspeler te verklaar dat daar geen begrafnis gaan wees nie. Die gesprek van die ATR met Kgwadi was bloot ’n eerste ontmoeting en versoek tot verdere gesprek.

Natuurlik was hy vriendelik, soos alle senior ampsdraers van die voormalige Afrikaanse universiteite wat ek die afgelope dekade ontmoet het. Hulle het ook almal hul waardering vir Afrikaans beklemtoon. Dit is egter nie vriendelikheid wat Afrikaans as onderrigtaal gaan red nie. Inteendeel, in die verlede is vriendelikheid juis misbruik om geregverdigde kommer oor Afrikaans te probeer besweer.

Om te weet of waardering ook die beskerming en bevordering van die taal insluit, moet ’n mens wyer kyk as hierdie soort gesprekke. Jy moet ook met personeel en studente praat en vasstel in watter mate Afrikaans in klasverband en op bestuursvlak gebruik, beskerm en uitgebou word. Wanneer met die belanghebbendes by die Universiteit van Johannesburg en Stellenbosch gepraat word, kry AfriForum sonder uitsondering terugvoering van ’n daling in die aanbod van Afrikaans.

NWU se Potchefstroom-kampus was tot 2014 ’n uitsondering op die reël. Toe begin die ontgroeningsdebakel – en taal, asook ras word deur die minister en ander betrokkenes as deel van die probleem ingesleep in toesprake, sogenaamde navorsingsverslae en media-artikels. Juis daarom is Kgwadi se uitlating dat “Afrikaans nie sommige studente moet verhinder om suksesvol aan NWU te studeer nie”, ’n helderrooi lig. Dit insinueer dat Afrikaans wel tans studente van suksesvolle studie weerhou en weerspreek sy versekering aan die ATR dat die huidige taalbeleid onveranderd gaan bly.

Daar is nie ruimte oor vir foute maak nie.

Aansluitend hierby is sy verwysing na “transformasie” ’n bron van kommer. Die ANC se beleid van transformasie wat op alle vlakke in die land afgedwing word, behels dat die samestelling van instellings verteenwoordigend van die land se rassedemografie moet wees. Met ander woorde, oorwegend swart, met Engels as voertaal, sodat alle ander tale stelselmatig doodgewurg word.

Die bewese voordelige reg tot moedertaalonderrig word telkens op die ideologiese altaar geplaas juis met die argument dat almal baat vind by die transformasie. Gemeenskappe hanteer mekaar en mekaar se tale nie met wedersydse erkenning en respek nie, maar word almal getransformeer tot ’n posisie van gelyke diskriminasie en ontmagtiging. Só word verskeidenheid in die land saam met akademiese uitnemendheid weens die voordele van toegang tot moedertaalonderrig vernietig.

Die gunsteling-strategie om teenstanders van transformasie se monde te snoer is om hulle valslik van rassisme en eksklusiwiteit te beskuldig. In effek doen Kgwadi se voorbeelde juis dit. Die belange van die kind van Ikageng (by implikasie arm, swart en met ’n behoefte aan Engelse onderrig) en die kind van Gimmies (by implikasie bevoorreg, wit en met ’n behoefte aan Afrikaanse onderrig) moet albei in ag geneem word, pleit hy.

Daarmee kan ’n mens nie fout vind nie, maar waarom word nooit gepraat oor die kind van Potchefstroom se Abraham Kriel-kinderhuis wat swart, bruin of wit is en Afrikaans praat nie? Bowendien, word studente dan toegang tot die NWU geweier op grond van ras of taal?

Wat wel gebeur, is dat Afrikaans so op kampusse gemarginaliseer word dat diegene van alle ras- en inkomstegroepe wat minder vaardig in Engels is, al hoe minder tersiêre studie-opsies het. Hulle kan kies uit meer as 30 universiteitskampusse met Engels as onderrigmedium, met net Potchefstroom wat nog oorwegend Afrikaans is – en geen staatsgesubsidieerde kampus wat meer Afrikaans eksklusief as onderrigtaal gebruik nie.

Diegene wat die transformasie-agenda dryf, erken nie die verskil tussen eksklusiwiteit en minderheidsregte nie. As minderheidsregte beskerm word, word niks vir een gemeenskap opgeëis ten koste van ander nie. Die regte van die minderheid tot byvoorbeeld moedertaalonderrig word erken, en sou geen ander gemeenskap dit insgelyks opeis nie, beteken dit nie dat dit regverdig is dat dié gemeenskap se eis ontken mag word nie. As alle tale nie tot hoëfunksievlak ontwikkel nie, gee dit nie aan enigeen die reg om die tale wat wel dié status bereik het, weer tot laefunksievlak te laat degenereer nie.

By die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit, wat deels uit geldinsamelings deur die Afrikaanse gemeenskap tot stand gebring is, het die transformasieproses (soos nou by Potchefstroom) begin met die aandrang dat Engels as volwaardige tweede voertaal gebruik moet word ter wille van toegang. Die uiteinde was ’n Engelse kampus, sigafstand van nog ’n Engelse kampus, sonder Afrikaanse opsies vir Johannesburgse studente.

George Santayana se waarskuwing dat diegene wat nie die verlede kan onthou nie, verdoem is tot die herhaling daarvan, is die rede waarom ons krities betrokke moet bly by die debat oor die toekoms en taal van NWU se Potchefstroomkampus, en nie maar net gerus kan terugsit omdat die nuwe visekanselier ’n gawe man is nie.

Dit is waarom ’n mens nie vir Kgwadi ruimte mag gun om foute te maak nie. Wat op die spel is, is nie ’n individu se persoonlike ontwikkeling nie. Dit is die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal en toegang tot moedertaalonderrig vir die taal se sprekers. Daar is eenvoudig nie meer ruimte oor vir foute maak met Afrikaanse onderrig nie. Die aanbod wat nou nog beskikbaar is, is so verskraal dat die prys daarvan behels dat daar letterlik vir elke fout betaal gaan word met mense se toekoms. Ons kan dit nie bekostig nie.

Laat ons dus eerder betrokke bly voordat daar ’n begrafnis is, as om onsself te verwyt wanneer dit te laat is.

 Alana Bailey is ’n direksielid van die ATR en ook adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gemoeid met taalsake.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.