Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
OPENBARING
Gee ons krag... in álmal se huise
Met sy eerste Soweto-besoek sedert sy diensplig, vind hy mense soos hy, skryf Gideon du Plessis.
Die kerslig by die nagwaak in Soweto het die elektrisiteitskrisis uitgebeeld en die lig gesimboliseer wat ons saam moet skep om die krisis op te los.
Ivan Smith, Deon Reyneke, Schalk de Bruin, Du Plessis se kinders, Sarina en Anja, en heel regs sy vrou, Wouda.

By ’n onlangse vergadering tussen Solidariteit en die metaalwerkersvakbond Numsa waar ons ’n gesamentlike beraad oor die energiekrisis beplan, vra Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, my met ʼn skalkse glimlag of ek nie aan ’n ­Numsa-onderneemde nagwaak oor die elektrisiteitskrisis in die “gevaarlike” Soweto wil deelneem nie.

Die eerste gedagte wat by my opgekom het, is dat ek in 1988 laas in die hartjie van Soweto was – in ’n gepantserde voertuig tydens my nasionale diensplig. (My Blou Bul-ervaring in die Orlando-stadion in 2010 tel nie regtig nie.)

Die tweede gedagte was die wrang smaak wat die kru boodskappe gelaat het wat die Solidariteit-beweging uit sekere Afrikanerkringe gekry het toe ons in 2012 besluit het om ’n kleuterskool in Diepsloot te help opknap.

Voordat ek nog behoorlik oor Jim se uitnodiging kon nadink, hoor ek plakkate word reeds in Soweto opgesit waarop aangekondig word dat ek saam met Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu, die inwoners van Soweto op Woensdagaand 20 Mei by die Ipelegeng-gemeenskapsentrum in Jabavu, Soweto, oor die kragkrisis gaan toespreek en dat ons daarna aan ’n nagwaak gaan deelneem.

Ek besef toe dat ek die uitnodiging en geleentheid moet aangryp, veral as Solidariteit geag wil word as ’n organisasie wat die algemene landsbelang met opregtheid op die hart dra. Ek besluit toe ook om my vrou en kinders saam te nooi, veral om my kinders blootstelling te gee aan die breër werklikheid van Suid-Afrika – ’n werklikheid wat ek destyds slegs vanuit ’n gepantserde voertuig kon beleef.

Nadat die nuus van ons deelname bekend word, stroom die kru boodskappe op ons sosialemediaplatform in van diegene wat ons besoek sterk afkeur – soveel so dat ek op pad Soweto toe my foon afskakel net om afstand te kry van al die ontstellende boodskappe wat deurkom. Die standaard-beskuldiging is dat Solidariteit nie bereid was om saam met Sunette Bridges op Kerkplein teen monumentskending te betoog nie, maar bereid is om Soweto toe te foeter om met swart mense te gaan heul.

Ek het vroeër vir Sello Maeta, Solidariteit se werkvloerverteenwoordiger by ʼn bekende vervaardiger van myntoerusting, laat weet van my voorneme om die geleentheid by te woon.

Sello se lewensverhaal is boeiend. Hy was in die 1980’s ’n Umkhonto we Sizwe-soldaat, maar ná 1994 het hy al hoe meer begin belang stel in die “georganiseerdheid” van Afrikanerinstellings en ons drang na opleiding. In 2000 het Sello besluit die enigste manier om Afrikaners te leer ken en te verstaan, was om by Solidariteit aan te sluit. Só het hy uiteindelik ’n Solidariteit-werkvloerverteenwoordiger geword en verkies hy dat ons slegs Afrikaans met mekaar praat.

Dis duidelik die meeste wil vir krag betaal, maar die keuse is tussen lig of kos in die maag.

Sello dring aan dat ons op pad Soweto toe ontmoet en dat hy my na Ipelegeng vergesel.

Op pad na die saal waar ons die inwoners moet toespreek, sit ’n ou dame wat lekkergoed verkoop. Sy is baie teleurgesteld toe ons sê dat ons nie geld by ons het nie en later weer ’n draai sal maak. Sy was so opgewonde toe sy ons sien, want sy het geweet hier is mense wat ’n ietsie kan bekostig. My kinders het later wel vir haar ʼn geldjie gegee. Sy was so dankbaar en het vertel wat sy alles daarmee gaan koop – nie luukshede nie, bloot die dinge wat vir ons alledaags is. My kinders is diep geraak en hulle wil van nou af hul sakgeld vir die tannie gee.

Die toesprake deur Soweto-gemeenskapsleiers het die omvang van beurtkrag op arm Suid-Afrikaners by ons tuisgebring.

Waar ons die ongerief van twee tot vier uur se beurtkrag ervaar, duur dit daar gereeld tot tien uur lank. Yskaste raak onklaar en kos bederf.

Misdaad, wat reeds hoogty vier, neem drasties toe gedurende beurtkrag. Treine staan en werkers kom baie later by die huis en kry nog minder slaap omdat die meeste pendelaars van so vroeg as 04:00 begin werk toe pendel. Spazawinkels kan noodgedwonge nie sake doen gedurende beurtkrag nie en só verloor mense inkomste en inwoners kan nie die noodsaaklike aanskaf nie.

Ek is effens ongemaklik oor my spreekbeurt omdat Zodwa Madiba van die Soweto-elektrisiteitskrisiskomitee, die spreker voor my, net Zoeloe gepraat en groot aanhang gehad het. Toe ek aan die beurt kom, groet ek die gehoor met ’n “dumelang lekae”. Ek word luidrugtig teruggegroet en ek kon met ’n oop gemoed antwoord “lenna keteng” (met my gaan dit goed).

Ek het vertel hoe beurtkrag my vrou en kinders raak, wat die impak van die hoë elektrisiteitstariewe op Solidariteit­lede is en hoe ons ook ’n toename in misdaad ervaar weens beurtkrag. Uit ’n vakbondperspektief kon ek ons lede se negatiewe ervaring van die uitwerking van beurtkrag en kragtariewe by werkplekke deel en het daarop gewys hoe dit ons lede se sakke en werksekerheid raak. Dit is met waardering begroet en daar is opreg met ons ontberinge gesimpatiseer.

Toe Zwelinzima Vavi die podium bestyg, was sy oorweldigende gewildheid duidelik. Hy is ongetwyfeld ’n “leier van die mense”.

Vavi het sy toespraak begin deur uit te vaar teen die rykes wat in “wit woonbuurte” agter hoë mure skuil, kragopwekkers het en nie deur beurtkrag geraak word nie. Ek wonder toe hoe die vurk nou in die hef steek, want ek was al self in sy ­herehuis in Sandton – hy is eintlik deel van die “hulle”.

Toe begin Vavi se les in township-politiek en hy het die gehoor sover gekry om te bevestig dat die idee van “ons wil net kry en nie betaal nie” soos ’n meulsteen om hul nekke hang. Dit was duidelik dat dit die mense se wens is om eendag ʼn werk te hê, of genoeg geld te verdien om wel gereeld vir elektrisiteit te kan betaal. Maar nou is die keuse tussen lig in die huisie of kos in die maag.

Vavi het ook nie die kans verspeel om op sy toekoms te fokus nie en gee toe ’n waardevolle les oor hoe demokrasie werk. Sy boodskap was dat vryheid nie op 27 April 1994 na die mense toe gekom het nie, maar dat vryheid eers die dag daar gaan wees as: jy dag en nag elektrisiteit in jou huis het waarvoor jy self kan betaal; in ’n veilige omgewing woon; jou kinders in goeie hospitale gebore word en goeie onderrig kry; en jy ’n goeie werk het. Vavi vra toe die mense of hulle dink die ANC het hulle werklik bevry en of dit nie tyd vir ʼn verandering is wat by die stembus bewerkstellig moet word nie. Gemeet aan die reaksie is ’n politieke volwassenheid aan die intree.

Die toesprake is met ’n roerende gebed afgesluit voordat die nagwaak begin het. Die ligte is afgeskakel en die kerslig het die donkerte van die elektrisiteitskrisis uitgebeeld en die lig gesimboliseer wat ons saam moet skep om die krisis op te los.

Ná ʼn lang gegroet het ons daar weggery en ek het besef dat ek op ’n Damaskus-reis was. Die ongelooflike sang, die vredeliewendheid en vriendelikheid van almal en die mense wat met ons vertrek buite die hek so vriendelik gewaai het, is ’n ervaring wat jou bybly en jou denke verander. My kinders het besef hoe belangrik goeie onderrig is en ek het gehoop diegene wat ons so oor sulke brugbou-aksies aanval, sal besef dat daar mede-Suid-Afrikaners, Christene is wat baie swaarkry en net soos ons soos eersteklasburgers in Suid-Afrika wil voel

■ Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.