Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Debat
Gun Kgwadi sy ruimte
Mense wat oor die ‘heengaan’ van Afrikaans in Potch huil, huil by die verkeerde begrafnis, skryf Michael le Cordeur.
Prof. Dan Kgwadi. Foto: Cornél van Heerden

In Suid-Afrika was taal nog altyd ’n emosionele en dikwels ook ’n politieke kwessie.

So was dit dan ook met die aanstelling van prof. Dan Kgwadi as nuwe vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Ruimte vir ’n artikel soos dié is knap, wat my nie toelaat om die storie agter die bult te gaan haal nie. Ek val dus sommer met die deur in die huis:

Dit is my mening dat Dan Kgwadi die geleentheid gegun moet word (ook deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys) om in die gees van demokrasie die Noordwes-Universiteit (NWU) volgens sy oortuiging te lei.

Natuurlik sal hy foute maak, want niemand is volmaak nie. Maar hy moet toegelaat word om sy foute reg te maak. In die proses sal sowel hy as die NWU sterker groei. Ek motiveer graag waarom ek so sê.

As voormalige rektor van die NWU se Mafikeng-kampus en met ’n doktorsgraad in fisika, sou ’n mens kon redeneer dat hy al die vaardighede het om ’n sukses van hierdie verantwoordelike taak te maak. Ek wou Dan Kgwadi beter leer ken. Ek wou hom self ontmoet, want ek wou my nie verlaat op hoorsê nie.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) se jaarvergadering in Potchefstroom was die ideale geleentheid en ek het ’n afspraak met prof. Kgwadi aangevra. Hy het dadelik ingestem om voor die vergadering met die ATR-direksie koffie te drink. Daarna sou hy die ATR se jaarvergadering toespreek.

...so moet diegene wat huil oor die dood van Afrikaans in Potch weet hulle huil by die verkeerde begrafnis.

My eerste indruk is dat hy heelwat langer is as wat ek my voorgestel het, beslis ’n duim of wat langer as my 6 voet 2 duim. Hy straal warmte en vriendelikheid uit wat mense na hom aantrek. Met sy inhuldiging het hy gesê hy praat al hoe beter Afrikaans en binne ses maande sal hy Afrikaans praat, droom en daarin bid.

Maar terwyl ons koffie drink, kom my Afrikaanse oor agter dat hy nie werklik onkundig is in Afrikaans nie. Hy sien die vraag in my oë. “Ek het in matriek Afrikaans baie beter geslaag as Engels,” sê hy.

Wanneer hy die ATR se jaarvergadering toespreek, praat hy gemaklik, hoofsaaklik in Engels, maar slaan voort­durend oor na Afrikaans. Kgwadi maak dit uit die staanspoor duidelik hy gaan nie die bestaande beleid van funksionele veeltaligheid verander nie omdat dit ’n goeie beleid is en genoeg ruimte bied om die uitdagings te hanteer. Voorts wil hy die taalkwessie depolitiseer omdat dit ’n sensitiewe en emosionele saak is wat mense diep raak.

Sy doel is om die drie kampusse (Mafikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark) te verenig om ’n enkele getransformeerde universiteit tot stand te bring wat vir die kind in Ikageng net so oop sal wees as vir die Gimmies-kind. Niemand moet uitgesluit voel op enige van die drie kampusse nie en almal moet toegang hê tot dieselfde hoë standaarde en toerusting.

Ikageng is ’n swart woonbuurt en Gimmies verwys na ’n top- voormalige model C-skool in Potchefstroom.

Die stelling herinner baie aan prof. Russel Botman se standpunt dat die plaasarbeider en die plaaseienaar se kinders in dieselfde klas moet sit.

Soos ek, glo hy in moedertaalonderrig; daarom sal die tolkdienste wat tans by die Potchefstroom-kampus volledig en by die Vaal-kampus gedeeltelik aangebied word, uitgebrei moet word na die Mafikeng-kampus. Sodoende sal alle studente se taalvoorkeure geakkommodeer word en word daar teen niemand gediskrimineer nie.

Kgwadi neem sy eie ervaring as voorbeeld: As professor in fisika kon hy nooit in sy huistaal, Tswana, klasgee nie. Hy loof Afrikaanssprekendes dat hulle Afrikaans tot ’n wetenskapstaal uitgebou het, iets wat die sprekers van Tswana en ander inheemse tale gerus ook kan doen.

Juis daarom wil hy sien dat Afrikaans, Engels, Tswana en Sotho op al drie kampusse tot hul reg kom. Om dit te vermag, sal beurse beskikbaar gestel word om die diversiteit op die kampusse te verbeter, met byvoorbeeld ’n beurs aan ’n Afrikaanse (wit) student op Mafikeng en beurse aan Engelse (swart) studente in Potch. Sodoende word voorkom dat ’n bepaalde kampus ’n enklawe vir ’n sekere groep word.

Dit is vir my duidelik dat die nuwe vise-kanselier geen wrok teen Afrikaans koester nie; hy is net van mening dat Afrikaans nie sommige studente moet verhoed om suksesvol aan die NWU te studeer nie.

Hy het ’n reuse-uitdaging (soos ook die geval was met Botman) om ’n heilsame balans te vind tussen die eise van die minister aan die een kant en Afrikaanse ouers wat die beste vir hul kinders verlang aan die ander.

Wanneer ons die lang pad lughawe toe aanpak, besef ek opnuut transformasie is baie meer uitdagend as fisika. Ek onthou hoe Kgwadi en sy vrou by die begraafplaas in Soweto nie geweet het by watter begrafnis hulle moes wees nie omdat daar so baie was. Toe draai hulle maar om, want hulle wou nie by die verkeerde begrafnis huil nie. Net so moet diegene wat huil oor die dood van Afrikaans in Potch weet hulle huil by die verkeerde begrafnis.

■ Dr. Michael le Cordeur is ’n direksielid van die ATR en doseer Afrikaansonderwys aan die US se fakulteit opvoedkunde.  

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.