Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Herstel lê in die lyf se selle
Sy aangenome babadogtertjie het hom laat besef daar hang steeds ’n sluier tussen wit en swart mense, het Robert Hamblin aan Marida Fitzpatrick gesê.

’n Kunstenaar doen “wat in sy oog is”, sê die fotograaf en konseptuele kunstenaar Robert Hamblin (46).

Die fotograaf en kunstenaar Robert Hamblin by een van die werke in die uitstalling. Sy vrou, Sally Shackleton, en hul aangenome dogtertjie, Georgia, word in die werk as Madonna en kind uitgebeeld. Foto: Nelius Rademan

“Ek neem dít af wat in my gedagtegang is en waarna ek kyk.

“Dis ’n kunstenaar se job. En as jy ’n kind kry,” sê hy laggend, “is dit baie moeilik om na iets anders te kyk.”

Hamblin en sy vrou, Sally Shackleton (45), het in Oktober verlede jaar ’n drie maande oue babadogtertjie, Georgia, aangeneem.

Sy is nou ’n jaar oud en die inspirasie agter Hamblin se jongste uitstalling getiteld Daughter Language. Dit is sedert Donderdag vir drie weke in die Johannesburgse kunsgalery Lizamore & Associates te sien.

Die uitstalling bestaan uit 20 kunswerke. Dis verskillende gesinsfoto’s, van hulle met Xhosa- en Engelse woorde in potlood daaroor geskryf en gekrap. Daar is baie beweging in die foto’s en die beelde is dof, uit fokus en wasig.

“Dis ’n sagter en meer regverdige blik op menswees,” verduidelik Hamblin. “My werk het te doen met die menslike toestand en mense is weerloos. Om in fokus na mense te kyk, is te hard, te skel.”

Die beweging en wasigheid simboliseer ook die vloeibaarheid en veranderlikheid van identiteit, sê hy. “Jy’s nie dieselfde persoon wat jy verlede jaar was nie. Identiteit is nie ’n stoere, konkrete ding wat in klip geskryf is nie.”

Hamblin was ’n vrou genaamd Adele en het in sy 30’s ’n geslagsverandering ondergaan en ’n man genaamd Robert geword.

Daar is destyds wyd daaroor berig in die media. “Ek het vreeslik gebrand gevoel deur die stories wat oor my gedoen is.”

’n Eiesoortige gesinsfoto. In die voorgrond is Sally en Georgia en in die agtergrond Hamblin met ’n witgeverfde gesig.
Hamblin hou Georgia vas en in die agtergrond is haar oupa aan moederskant.
Ma en kind. Sally hou Georgia vas.
Vir dié selfportret het hy sy gesig wit geverf.
Madonna en kind.
Dié selfportret beeld die mag uit waaraan die wit Suid-Afrikaanse man probeer vasklou, sê Hamblin.
Die eenjarige Georgia en haar oupa aan moederskant.
My werk het te doen met die menslike toestand en mense is weerloos. Om in fokus na mense te kyk, is te hard, te skel.”

Daarom gaan hy “sagter” te werk deur mense wasig en uit fokus af te neem, sê hy, ook sy eie gesin. Die foto’s is by hul huis in Muizenberg in die Kaap geneem. Hy het ’n ateljee op hul stoep geprakseer en sowat 1 000 foto’s vir elke werk geneem.

“Dan kies ek 10 foto’s uit daai 1 000. Dit vat ’n week. Dan sit ek daai 10 foto’s in lae op mekaar, en begin goed uitvee. Dan gebeur daar magic.”

Nadat hy die werk op papier gedruk het, het hy dit in water gedoop, “om die weerloosheid van papier te wys. Die water laat die papier buig.”

Toe het hy dit laat droog word en die Xhosa- en Engelse frases met potlood oor die beelde gekrap en geskryf. Die inspirasie hiervoor het hy ook by sy dogter gekry: Georgia is van Xhosa-afkoms en nadat hulle haar aangeneem het, het Hamblin besluit hul gesin moet Xhosa leer. “Ek soek toe ’n Xhosa-Engelse woordeboek en kry die heel eerste een wat in 1899 deur sendelinge in die Oos-Kaap uitgegee is.”

Toe hy die woordeboek begin lees, het hy agtergekom die doel van die woordeboek was om Engelssprekende “base” te help om vir hul swart “onderdane” opdragte en bevele te gee. Die boek bevat frases soos: “I want you to work in the garden”; “Plant seeds before the sun comes up”; “Don’t excuse yourself in that way”; “How is it that you do not come when you are called?”

'Mans moet identiteit vind'

Toe hy ’n man geword het, het dit saam met baie emosionele en politieke bagasie gekom, sê 

Hamblin. “Dit was toe my verantwoordelikheid om die rol van ’n wit man te speel. Nou moet jy hierdie magsposisie in ’n familie handhaaf, jy het hierdie geskiedenis en ek het gevoel dit word my verantwoordelikheid.

“Ek is ’n middeljarige, bebaarde wit man, mense behandel my op geen ander manier as dit nie. Ek was nou die oppressor extraordinaire. Ek is die simbool van onderdrukking. Dit is so, ons het dit gedoen en ons het steeds die potensiaal om dit in ’n oomblik te doen. Dit was damn moeilik, want ek is polities bewus en ek is baie sensitief. Ek het al daai gevoelens gehad wat ons as wit mans het. Ons is op die verdediging, ons wil sê: ‘Maar ek is nie ’n rassis nie.’

“Ons moenie so op die verdediging, op die agterpote, wees nie.

“Die feit dat ons die mag moet laat gaan, moenie vir ons ’n bedreiging wees nie. Ons moet dit eerder as ’n geleentheid sien om ander, nuwe identiteite vir onsself te vind.”

Dit is dus die dialoog tussen ’n baas en ’n onderdaan, sê Hamblin, “master and servant”.

Toe besef hy hoe diep dié ingesteldheid in Suid-Afrikaners ingewortel is. “Ek het besef dat my gene, my vel, my selle geprogrammeer is met ’n master-servant-uitkyk wat ras betref. Ek het as ’n Boer, ’n Afrikaner grootgeword. Ek het nie swart vriende gehad nie, swart mense was my bediendes. Ek was nie Antjie Krog wat besef het iets is fout nie. ’n Wet of ’n nuwe buurman kan dit nie verander nie.

“Akademiese kennis kan dit nie verander nie. Ek moet dit hier in my selle regmaak.”

Hierdie ding, wat volgens hom so diep in Suid-Afrikaners gewortel is, hang soos ’n sluier tussen wit en swart mense, sê Hamblin, selfs al is dit mense wat graag wíl versoen en na mekaar wíl uitreik.

“Daar is ’n onverduidelikbare ietsie tussen ons, wat maak dat ons nie met gemak deur daai grens kan stap nie.” En die woorde op die foto’s verteenwoordig dié “sluier”.

Hamblin sê dit is sy eerlikste werk nóg. “Ek kon nog nooit so diep gaan nie.” En dis danksy Georgia. “Niks, geen projek of kunswerk, gaan ooit belangriker wees as om daai kind groot te maak nie. Ek het besef dat ek nie meer saak maak nie.

“En daardie ervaring is nie ’n verlies nie, dis ’n genade. Die genade om nie meer self saak te maak nie. Dís wat sy vir my gebring het.”

Robert Hamblin, wat voorheen ’n nuusfotograaf was, doen deesdae net kunsfotografie en maak ’n lewe uit versamelaars wat sy werk koop. Foto's: Nelius Rademan
Robert Hamblin by sy uitstalling getiteld Daughter Language. Die werke in die uitstalling word vir tussen R12000 en R25 000 verkoop.
Hamblin by twee van die werke in sy uitstalling. Die werke word vir tussen R12 000 en R25 000 verkoop.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.