Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Ope brief aan dr. Blade
Minister, kierangs braai
Theuns Eloff, voormalige vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), skryf dié ope brief aan Blade Nzimande, minister van hoër onderwys.
Blade Nzimande, Foto: Bongiwe Gumede

Agbare minister Nzimande, ek was verbaas om van u aanvalle op die NWU, die raad van die NWU, die bestuur van die Potchefstroom-kampus en die vorige visekanselier te lees. Sover ek weet, is dit die eerste keer in u termyn as minister dat u een instelling en een persoon so aanval – al was (en is) daar universiteite en visekanseliers wat nie hul bestuursplig nakom nie, waar ernstige finansiële wanbestuur plaasvind en waar daar nie oorsig is nie.

U het selfs nie een van die universiteite wat u onder administrasie geplaas het en waar onrus nog lustig voortgaan so aangeval nie.

En daarom voel ek geroepe om op hierdie aanvalle te reageer – nie om myself te verdedig nie, maar om die NWU, sy raad en sy bestuur te verdedig.

Maar miskien net eers ’n opmerking oor die merkwaardige “sameloop” van omstandighede van verlede week. In ’n week met ’n vakansiedag in die middel daarvan besoek die parlementêre portefeuljekomitee die NWU Dinsdag, u ontbied die uitvoerende komitee van die raad vir ’n skrobbering Donderdag, u hou dieselfde dag ’n mediakonferensie oor ’n verslag wat u reeds maande gelede ontvang het en – die kersie op die koek – die nuwe visekanselier word Vrydag ingehuldig. Amper te goed om toevallig of waar te wees, nie waar nie? Ek meen die revolusionêre term sal wees “stemming maak”?

​So sê Blade

 Dit is ongetwyfeld ’n feit dat die Potchefstroom-kampus fundamenteel ’n aparteidsinstelling; selfs ’n apartheidsenklave, bly.

  Dit moet dringend getransformeer word;

■  Dit wat op die Potchefstroom-kampus gebeur, is tragies en net soos om ons Grondwet te vertrap;

  Daar heers ’n kultuur van vrees op die kampus, maar ook een van as jy nie wit en Afrikaans is nie, gaan dit vir jou soos ’n vreemde plek voel;

  Daar is duidelik diepgewortelde praktyke by die universiteit wat met sy oriëntasieprogramme vir eerstejaars op die skending van hul menseregte neerkom. Die bestuur kan nie onkunde aanvoer nie;

  Die vorige visekanselier (Eloff) was nie bereid om die Potchefstroom-kampus te transformeer nie. Hy was nie verbind om die skending van menseregte by die kampus te hanteer nie.

Uit die media-aanhalings word dit duidelik dat u die sogenaamde Wessels-verslag as basis vir u aanvalle gebruik. U meld egter nie aan die media nie dat u op die versoek van die raad onderneem het om dit nie bekend te maak nie omdat die verslag moontlik lasterlike bewerings maak waarvoor die universiteit aanspreeklik gehou kan word indien dit gepubliseer word.

U meld nie aan die media dat die verslag nie deur die raad aanvaar is nie weens ernstige gebreke daarin ten opsigte van metodologie en “hoor die ander kant”.

U weet dat die verslag bevindings maak op grond van klagtes asof dit feite is, maar dat die persone wat aangeval word nie geleentheid gegun is om hul kant van die saak te stel nie.

En tog sê u in die openbaar, sonder om ’n oog te knip, dat die raad die publikasie van die verslag probeer verhinder het omdat die verslag “diep morele korrupsie” by die universiteit blootlê. Op grond waarvan maak u hierdie ysingwekkende beskuldiging? Op grond van ’n verslag waarvan u weet dat dit ernstige gebreke het? Hoe onverantwoordelik kan dit wees?

Maar dit gaan verder. Selfs al bevind hierdie gebrekkige verslag self dat daar nie ’n Nazi- of facistiese kultuur op die Potch-kampus heers nie, gaan u lustig voort om die bestuur van “stilswyende” goedkeuring van so ’n kultuur te beskuldig. U sê nie dat u die videogreep gewys is waarop die hele Beeld-exposè berus het en dat u self kon sien dat dit glad nie ’n Nazi-saluut was nie, maar ’n liedjie van eerstejaars vir hul koshuisleier.

Ek wil dit op rekord stel dat nie alles wat by die NWU gebeur en gebeur het ’n model vir die hiernamaals is nie. Daar is steeds baie gebreke en foute word gemaak. Die vraag is eerder: Was en is die raad en bestuur vasbeslote om hard daaraan te werk om dit te verbeter? En my antwoord was en is “ja”.

Op grond waarvan maak u hierdie ysingwekkende beskuldiging? Op grond van ’n verslag waarvan u weet dat dit ernstige gebreke het? Hoe onverantwoordelik kan dit wees?
Dr. Theuns Eloff, Foto: Felix Dlangamandla

U beskou dit as “verfrissend” dat die gebrekkige Wessels-verslag die NWU-bestuursmodel die skuld vir alles gee. Maar u het die afgelope vyf jaar elke jaar ’n volledige jaarverslag van die NWU ontvang waarin die prestasies van onderrigleer en navorsing, en die positiewe rol wat die bestuursmodel daarin gespeel het, duidelik aangetoon is.

U het nooit kritiek gehad nie. U het toestemming gegee dat vele elemente van die NWU-bestuursmodel in die nuwe statuut van die Walter Sisulu Universiteit ingeskryf kan word om die multikampus-opset daar te probeer bestuur.

U vergeet gerieflikheidshalwe dat prof. Dan Kgwadi, huidige visekanselier, oor ’n tydperk van nege jaar dieselfde bestuursmodel doeltreffend (en sonder enige besware) gebruik het om die Mafikeng-kampus van ’n onbestuurbare en akademies swak kampus te transformeer na ’n volwaardige NWU-kampus. Die Mafikeng-kampus kan vandag wat navorsing betref kers vashou met van die bestes in die land. U het tog toegang tot hierdie inligting, dan nie?

U vergeet ook dat die NWU vir vyf agtereenvolgende jaar die PriceWaterhouseCoopers-prys ontvang het vir die bes korporatief-bestuurde universiteit in die land.

Wie is Eloff?

Dr, Theuns Eloff was in die tagtigerjare baie ongewild in dele van die Afrikaanse gemeenskap.

Hy het in dié tyd ’n doktorsgraad in teologie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys behaal.

Eloff was een van die mees omstrede studenteleiers aan die Puk. Hy was studenteraadsvoorsitter en ook president van die Afrikaanse Studentebond (ASB).

Later het hy ’n stigterslid van Polstu, ’n vereniging van Afrikaanse studente wat van die ASB weggebreek het om ’n liberaler rigting in te slaan, geword.

Hy was ’n mede-ondertekenaar van die Koinonia-verklaring waarin ’n aantal andersdenkende akademici en studente van die Puk destyds baie krities oor apartheid was.

In 1987 is hy saam met ’n groep Suid-Afrikaners, meestal Afrikaners, na Dakar om met die verbanne ANC te gaan praat.

Hy was toe leraar van die Gereformeerde gemeente Brooklyn in Pretoria. Sy politieke aktiwiteite het opslae en veroordeling in die kerk gewek en hy het uit die bediening getree.

In die vroeë negentigerjare was hy hoof van die Konsultatiewe Sakebeweging, wat verantwoordelik was vir die administrasie en logistiek van die grondwetlike onderhandelinge in Kempton Park.

Hy moes dokumente vir partye gereed kry, vergaderings betyds laat begin, agendas opstel wat sinryk en aanvaarbaar vir al die partye was en met die buitewêreld kommunikeer.

Ferdi Greyling, ’n joernalis wat die onderhandelinge vir Beeld gedek het, sê Eloff was onpartydig en is deur al die onderhandelingspartye vertrou.

Hy het in 2001 rektor van die Puk geword en was verantwoordelik vir samestelling van die Noordwes-Universiteit uit die Potchefstroom-, Vaaldriehoek- en Mafikeng-kampus.

Eloff het vanjaar voor die einde van sy termyn as visekanselier van die Noordwes-Universiteit bedank ná die bohaai oor ontgroening aan die Potch-kampus. Hy dien nou in die direksies van maatskappye.

Oor Potchefstroom en Afrikaans maak u die ontstellende, naïewe (alternatiewelik moedswillige) stelling dat dit die bestuursmodel is wat Afrikaans op Potchefstroom “afdruk”. Nee, minister, dis art. 29 (2) van ons Grondwet wat swaar onderhandel is en waarvan u ’n kampioen behoort te wees, wat Afrikaans ’n plek op Potchefstroom gee.

En dan maak u die reuse-denksprong dat hierdie toedrag van sake sommer van Potchefstroom ’n “apartheidsenklawe” maak.

’n Apartheids-enklawe? Dis mos nie naastenby die waarheid nie?

As u die gebrekkige Wessels-verslag noukeurig gelees het, asook al die mediaberigte wat Beeld oor hierdie kwessie gegenereer het, sou u die verstommende ontdekking gedoen het dat daar nie een geval van rassisme uitgewys is nie. Selfs ’n hele span Beeld-joernaliste kon ná intensiewe ondersoek geen rassistiese voorvalle op Potchefstroom vind nie. ’n Apartheids-enklawe? Dis mos nie naastenby die waarheid nie?

Uit die universiteitsbestuur se antwoord aan u oor die sogenaamde saluut kom u luidens mediaberigte tot die gevolgtrekking dat ek vir u gelieg het. Minstens twee van die verslae waarna u verwys, was net so gebrekkig soos die Wessels-verslag en die ander een het ten spyte van die ooglopende kwaliteit van die NWU net fout gevind op grond van ’n gewaande gebrek aan “transformasie”.

Soos enige selfrespekterende uitvoerende hoof van ’n organisasie gaan ek nie die instelling waaraan ek verbonde is op grond van sulke gebrekkige en duidelik eensydige verslae afkraak net vir politieke punte nie. Ek staan dus by daardie antwoord aan u. U kan my as ’n leuenaar probeer afmaak – oudpres. PW Botha het dit ook in 1987 ná die Dakar-safari gedoen. En dit het ook nie water gehou nie.

Oor u oningeligte bewering dat ek nie ’n kultuur van menseregte by die NWU wou vestig en bevorder nie, gaan ek u nie eens antwoord nie. My geskiedenis en wat by die NWU vermag is, spreek duideliker as enige woorde.

Die rede vir u aanvalle op die NWU is vir my duidelik. Dit irriteer u dat daar ’n universiteit kan wees wat nie in die ANC-keurslyf van eensydige transformasie inglip nie, maar vir hulself dink en die beste vir die land en al sy mense probeer doen.

U sien ’n nuwe visekanselier wat blykbaar ingrypende veranderings wil doen en u dink: “Kom ons steun hom.”

Maar dan doen u dit deur die universiteit waarvan hy die hoof is en waarvoor hy reeds nege jaar gewerk het saam met sy huidige en eertydse kollegas af te kraak. Dit spreek nie van integriteit nie.

U is nie bekend vir u verdraagsaamheid ten opsigte van meningsverskille nie. Daarvan kan baie ander universiteite getuig. Maar om ’n goeie universiteit soos die NWU, die tweede grootste volgens studentekoppe in die land en onder die topses wat navorsings- en onderriguitsette tel, so aan te val en af te kraak in die hoop dat ’n nuwe visekanselier na u pype gaan dans, is nóg eerbaar nóg realisties. Kierangs braai, lui die Afrikaanse spreekwoord.

Ek wens u opreg sterkte toe met u groot taak om al die universiteite in die land te ondersteun, te bemagtig en beter te finansier.

Vir u en die demokrasie se part hoop ek die universiteitsektor bly outonoom en krities.

Vriendelike groete

Theuns Eloff

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.