Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
UITBEELDING VAN PLAASMISDAAD ‘BAIE REALISTIES’
‘Nie ontspannend, ek soek komedie’
Twee weke voordat die fliek Treurgrond Vrydag landwyd uitgereik is, het dit in Orania begin draai. Marga Ley het dáár na die fliek gaan kyk.
Die ingang van die Sterreland-fliekteater in Orania. Foto: Marga Ley

Ja, Orania het nou ook ’n bioskoop. Sterreland.

In die voorportaal word DVD’s verhuur en kan jy pizzas bestel.

Maar jy moet afsonderlik betaal vir die fliek en die pizza.

Fliek is R20 en pizza R69. En jy mag in die fliek eet. Jy mag ook jou eie bier of drank bring. (As jy te veel drink, volg jy dieselfde roete as die saamwoners en dwelmgebruikers.)

Daar is plek vir 32 mense en daarom moet jy voor die tyd bespreek.

Jan van der Merwe en sy familie en vriende sit buite rond, eet pizza, rook en wag dat die fliek begin.

“Ek sal vir Steve Hofmeyr stem as hy ’n politieke party begin. Hy is ’n netjiese, skerp man.

“Sunette (Bridges) is net so skerp.

Lees ook: 

​'Treurgrond' verdien R700 000 in naweek

​Troostelose frustrasie

​'Treurgrond': Treur eerder oor gehalte

“Plaasmoorde is soos oorlog. Al kom Steve nie êrens nie, dit maak nie saak nie.”

Met ’n handgebaar vee hy ’n vraag weg of Steve nie net die Afrikanerstemme meer gaan verdeel nie.

Wat van stem vir die VF+?

“Saamstaan of nie, die ANC is te sterk,” sê Van der Merwe.

“En ag, Pieter Mulder is ’n hoender.”

Volgens Quinten Diederichs, eienaar van die fliekteater, het die fliekmaker André Frauenstein hom genader of hy Treurgrond wil vertoon voordat dit in teaters landwyd begin. Frauenstein wou terugvoering op die reaksie van die kykers hê.

Mense uit Orania en omstreke het die klein teatertjie nou al twee weke stampvol gesit.

“Plaasmoorde is Suid-Afrika se probleem. Hier is ’n nuwe werklikheid.

“Die boere werk met eie Afrikaner-arbeid. Dit het ’n invloed op veiligheid, maar ons is nie heeltemal afgesny of sonder gevoel nie.

“Plaasmoorde is nie net oor die Afrikaners nie. Dit raak die werkers ook. Die fliek is gebalanseerd. Mense hier se reaksie is somber, dis ’n sensitiewe onderwerp. Die fliek blaas nie rassehaat aan nie, dis oorwegend positief,” is Diederichs se mening.

Hierdie is elke dag se goed, dis nie ontspanning nie.

Die dorpsraad ken elkeen van die sowat 1 200 mense in die dorp – almal is spesiaal gekeur om toegelaat te word om daar te woon. Gedra jy jou nie, skop hulle jou uit. Nou die dag is vier mense gesê hulle moet uit. Twee het saamgewoon sonder dat hulle getroud is en die ander het ’n storie gehad met dwelms, sê Martin.

Hy en Miemie nooi ons vir koffie soos tipiese gasvrye boeremense.

(Miskien is hulle ook maar net lus vir ’n bietjie geselskap van “buite”?)

“Die fliek was nie so erg as wat ek verwag het nie,” is Martin se mening. Miemie stem saam.

Martin draai nie doekies om nie. “Ek is ’n rassis. Ek is trots op wat myne is. Maar ek haat nie ander mense nie. Ek praat Zoeloe vlot.

“My Zoeloe-naam beteken ‘hande was mekaar’, want ek het altyd vir hulle gesê ons sorg dat mekaar se hande skoon bly. My doopseël is selfs in Zoeloe. Dit gaan vir my oor wie my mense is. Waar ek eers gewoon het, het ek op my bed gelê en vir die see gekyk, maar ek het Orania toe getrek omdat dit my mense hier is.

“Hier tree jy nie af nie, jy tree aan.”

Daar was heelwat ontwikkeling in Orania sedert ek jare gelede daar was.

Daar is ’n winkelkompleks, Stokkiesdraai, en die Hartlandstigting het ook ’n winkelkompleks. Ek hoor die OK Grocer op die dorp gaan toemaak, “hy kon dit nie maak nie”.

’n Mens sien oral jongmense, nogal verbasend baie. Maar 70% tot 80% van die dorp se bevolking is arm. ’n Mens sien dit ook as jy in die dorp rondry.

Daar is heelwat nuwe huise gebou. Mooi, kleinerige huise. Orania het glo ook baie “uitwoners” – mense wat steeds “daar buite” woon en of belange het in Orania of die dorp en die politieke gedagte steun.

Die lekkerste plek in die dorp is by Aan die oewer, ’n hotel, restaurant en vakansiehuisies op die oewer van die Oranjerivier. Daar is selfs ’n spa “waar jy masseer kan word met warm klippe . . . ”

“Nou maar ry versigtig daar op die paaie van die nuwe Suid-Afrika,” sê Martin toe ons die aand groet.

Marga Ley

Die 32 sitplekke op regop houtbankies (amper soos in ’n kerk) het darem kussings op die sitplekke.

Die fliek se inleiding gee my koue rillings. Baie treffend. Skokkend.

Dan plat dit ’n bietjie af en daar is selfs hier en daar iets snaaks – maar in die teatertjie is dit tjoepstil en ek sluk vinnig my lag.

Die res van die fliek voel vir my soos ’n dag op kantoor en die volgende dag se koerant: Daar is plaasmoorde (gruwelikes), vergaderings waarop bekende boere-organisasies sê wat hulle altyd sê, ’n grondeis, ’n hartseer begrafnis en advertensies.

“My man, die Mosanto-saad lê in die stoor,” is maar een van die reeks hinderlike/lagwekkende advertensies in die fliek.

“Volgende keer wil ek ’n comedy sien,” sê een van die manne ná die tyd. “Hierdie is elke dag se goed, dis nie ontspanning nie. Ek soek ’n comedy.”

Ek hoor iemand sê: “Baie realisties.”

Die fliek het so tien minute laat begin, want almal se pizzas was nog nie klaar geëet nie. Diederichs en sy vrou, Rozanne, is van die baie jonger mense op Orania. Hy het ’n paar jaar in Engeland en Frankryk gewerk voordat hy en Rozanne hulle op Orania gevestig het.

“Ons het nie weggehardloop vir misdaad of van al daai klas van goed nie. Dit was meer om werklikhede te vestig vir Afrikaner-selfbeskikking.

“Ons het gekom om te dóén.

“Ons het alles wat ons het ingesit in die maatskappy Ou Karooplaas en het klomp besighede hier op die dorp. Ons lewe lekker. Ek het in Frankryk Orania vir die eerste keer verstaan. Ek het skoolgegee en geleer daar is nie fout daarmee as ’n groep sy eie kultuur uitleef nie.

“Suid-Afrika se probleme is onoplosbaar. Daar is ’n verskil tussen ’n Afrikaner en ’n Suid-Afrikaner. Net soos die Swazi’s hul eie goed doen in Swaziland, wil ons ook ons eie ding doen.

“Orania is soos ’n saadjie wat ontkiem. Ons wil nie net politiek groei nie, maar ook ekonomies.

“ ’n Mens het Afrika in jou, selfs mense wat in ander lande woon, raak nie daarvan ontslae nie.

“Ek wou nie in Suid-Afrika ’n onderneming begin nie, want ek wil nie voorgeskryf word wie ek moet aanstel nie.”

Die fliek is verby. Niemand het ’n (hoorbare) traan gestort of gesnuffel nie. Die mense verdwyn vinnig en ons ry ook.

Voor langs die pad loop twee ouerige mense. Alleen in die donker. Dis nie iets waaraan ek gewoond is dat mense in die donker huis toe stap nie.

Ek hou langs hulle stil.

Die twee, Martin (80) en Miemie (75) Kemp, voel doodveilig – al is die ­bioskoop waar hulle was in die “internasionale gebied”. Voor hulle is die beskermende hekke van Orania.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.