Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Profiel
Om die dood toeganklik te maak
Die Pretorianer Sonja Smith bedryf ’n begrafnisonderneming onder haar eie naam, want “verpersoonlik” is haar wag-, wen- en trooswoord. Én beautify, het Linette Retief uitgevind.
Sonja Smith met een van die troosteddies wat sy bied aan kliënte wat rou. Sy het ’n begrafnisondernemer geword nadat sy in 1997 in ’n episode van Carte Blanche gesien het hoe ’n staatslykhuis van binne lyk.   &thi
Sonja in die kamer waar ouers van ’n babatjie wat “te vroeg, te stil” gebore is, kan afskeid neem.
Een van die ekovriendelike geweefde mandjiekiste.
Sy probeer mense wat geliefdes verloor het op allerlei wyses troos.

Die eerste ding wat ’n mens sien wanneer jy by die Sonja Smith-begrafnisgroep se Centurion-kantoor instap, is ’n enorme teddiebeer – vriendelik, funky en uitgedos in ’n verskeidenheid klere en kleure, met ’n regte, egte brilletjie op die neus.

Hier is nie kiste, kredietkaartmasjiene of kruiperige omies in swart manelpakke nie. Nog minder ’n gevoel van verskrikking en verdoemenis – eerder die stilte van ’n gesellige bed en ontbyt nadat die laaste gaste weg is.

Dit is juis wat ’n ou tannie onlangs vir haar gesê het, vertel Sonja met ’n Mona Lisa-glimlaggie: “Ag, my kind, dit voel asof die oom in ’n gastehuis lê.”

En die teddie? Dis ’n troos- teddie, verduidelik sy.

’n Ma wat ’n kind verloor het, het met die idee vorendag gekom om ’n teddie en sy uitrusting van haar seun se kleertjies te maak. En nou is ’n troos-teddie een van die dienste wat sy bied om die angel uit die dood te help haal.

Nêrens is hier die geringste sweem van swart nie. Die begrafnisvoertuie is gewone, ruim, silwergrys motors, met die jong manlike bestuurders uitgevat in grysbruin broeke en poeierblou hemde. Die vroue wat begrafnisse hanteer, dra aanvallige pakkies en hoede.

Die kamer waar mammas en pappas kan afskeid neem van babatjies wat “te vroeg, te stil” gebore is, is ’n fees van reënboogkleure, muurkuns, teddies en goggatjies, met ’n wit-gedrapeerde wiegie vir die klein oorledene en ’n skommelstoel vir die ma wat rou.

Terwyl die aanslag sag is, bly die werklikheid uiteraard hard. Maar ook hiervoor is Ou Valk­oog, soos sy tong-in-kies op kantoor bekend staan, superparaat.

As iemand doodgaan, beduie sy, is daar twee skokke: die dood self en finansies.

“95% van die oorledenes se persoonlike administrasie is nie in orde nie. Daar was onlangs ’n ou tannie wat so kwaad was toe sy ontdek het hoe deurmekaar haar oorlede man se polisse is, sy het siedend woedend vir my en my man gesê: ‘Ek wil hom opgrawe en opf**.’ ’”

Weer daardie glimlaggie. “Hier is baie humor.”

En baie emosies, want die maskers is af. Die skuldgevoelens is groot – gewoonlik by die grootmond wat die meeste geld by Ma geleen het. Dikwels is daar ook woede, soos met die twee broers, reeds in hul 50’s, wat mekaar onlangs te lyf gegaan het oor ’n swart aktetas waarin hulle gedink het hul oorlede pa se testament was.

Die hardste werklikheid bly die oorledene – “nie die lyk nie, nooit die lyk nie” – die persoon wat dood is, die geliefde, sy of haar naam. En die rou hartseer van die heengaan, of dit ’n skokdood was of ’n dankiedood; ’n verlies of ’n verlossing.

In die nadraai van dood en die oomblikke van rou het Sonja al alles gesien. “Die 18 maande oue seuntjie wie se pappa by die hospitaal aangekom het met die Cheetahs-rugbytrui waarin hy self gespeel het om te vra of ons hom daarin sal begrawe.

“Die onkoloog van Rustenburg wie se vrou en twee kinders dood is in ’n motorongeluk by die ­Rigellaan-afrit toe ’n trok bo-oor hulle gery het.

“ ’n 18 maande oue seuntjie met trisomie-13 (’n chromosomale afwyking) wie se ouers my voortydig wou ontmoet om sy begrafnis te reël. Hy het tydens die vergadering op sy pappa se skoot gesit.

“Dubbel- en tripelbegrafnisse.

“Selfdood, selfdood, selfdood. Soms hanteer ek tot vyf selfdoodgevalle in een week. Die repa­tria­sie van die Ebo-vier wat ná dekades uit Angola teruggebring is; ek en my man het die oorskot van dié Grensoorlog-soldate self op O.R. Tambo gaan haal, laat op ’n Vrydagaand.”

As kind wou Sonja ’n prokureur of dokter geword het, nié ’n begrafnisondernemer nie. Ná skool kon sy egter nie tot ’n besluit kom oor watter studierigting om te volg nie.

“So eindig ek toe op by Kovsies met ’n prospektus in my hand en ek soek iets om te swot, want my pa wil hê ek moet ’n graad agter my naam kry,” vertel sy.

“Personeelbestuur het die loot gewen, maar ek het elke oomblik daarvan gehaat. Nodeloos om te sê, ek is ná agt maande terug huis toe sonder ’n graad.”

Sy het by Standard Bank begin werk en uiteindelik ’n bestuurder daar geword.

Toe sien sy in 1997 ’n episode van Carte Blanche waarin hulle ’n staatslykshuis wys en dink: “Niemand weet hoe lyk sulke plekke nie. Toe ry ek na ’n begrafnisonderneming toe en sê ‘ek wil sien hoe lyk dit agter die skerms’.

“Ná my begeleide toer en al my vrae, het ek vir die dame gesê: ‘Dit moet ongelooflik vervullend wees om te doen wat jy doen.’

“Sy het geantwoord: ‘Ja, dit is’. The rest is history.”

Sonja het daarna gewerk by “groot name – onder meer die plek op wie se stoep jy nie moet speel nie, asook die pers plek” om ondervinding op te doen. Sy en twee vennote het toe die Elite Funeral Home begin voordat sy in 2006 haar eie firma begin het.

In ’n bedryf met eufemistiese name en gedempte kleure lyk die logo van die Sonja Smith-begrafnisgroep, waarop ’n foto van haar is, met die eerste oogopslag soos ’n eiendomsagent s’n. Sonja verduidelik dis onder meer om haar “personal touch” te weerspieël.

Al is die trauma intens en die smart rou, en tensy die oorskot erg vermink is, moedig Sonja mense aan om na hul geliefdes te gaan kyk om finaal afskeid te neem. Om selfs aan hulle te vat.

Sy vertel van die vyfjarige seuntjie wat sy pappa wou sien wat in ’n kaping op ’n snelweg geskiet is. Sonja het ’n spelterapeut laat kom om hom voor te berei.

Die terapeut het hom aan die vloerteëls laat raak en vir hom verduidelik: “Jou pappa gaan miskien so voel.”

Sonja het probeer help deur te sê “jou pappa se lyfie is gebreek”, waarop die seuntjie wou weet: Is dit dan net sy kop in die kis?

Sy vertel van die vyfjarige seuntjie wat sy pappa wou sien wat in ’n kaping geskiet is. Sonja het ’n spel-terapeut laat kom om hom voor te berei.

Die finale ontmoeting, sê sy, was hartbrekend, maar dit was nodig. En dit was die begin van genesing.

“Mense wat nie kyk nie, is agterna spyt,” sê sy.

’n Deel van haar droom – en haar diens – is om die dood tasbaar en toeganklik te maak. In dié verband reken sy Afrikaners het dikwels die verkeerde ingesteldheid.

“Die oomblik dat iemand sterf, bel hulle dadelik die begrafnisondernemer. Die oorledene moet daar en dan uit die huis uit. Eintlik is daar geen beter tyd om afskeid te neem nie.

“Moenie my dadelik bel nie. Bel al die broers en susters, bel die neefs en niggies, bel die dominee, doen ’n gebed en vertel staaltjies en deel herinneringe.”

Maar wanneer jy ook al bel, sal sy sorg dat alles gereed is.

Op die eerste dag word begrafnisreëlings egter nie bespreek nie, net getroos. ’n Dag later word ’n vergadering geskeduleer en eers daarna word die deur met die getinte vensters by die ontvangs oopgemaak sodat ’n kis gekies kan word.

Dit sluit in die konvensionele houtmodel, ’n ekovriendelike geweefde mandjiekis, ’n piepklein houtkissie, ’n effens groter wit kissie met prettige prentjies op, ’n eweneens piepkleine geweefde mandjie.

En deurentyd vra sy leidende vrae om uit te vind: Wie was die geliefde, wat sou hy of sy – en dié wat agterbly – wou hê?

As hy van gholf gehou het, sal daar ’n gholfkarretjie voor in die kerk wees, as sy dol was op tuinmaak, sal die kerk se voorportaal ’n lushof wees. Want Sonja se een wag-, wen- en trooswoord is “verpersoonlik”.

Die ander is beautify.

“As ek in ’n volgende lewe terugkom, dink ek my doel gaan wees om staatslykhuise te beautify,” mymer sy, die ene deernis en die ewige Valkoog; die dood met sy angel se moses.

  • Linette is ’n redaksielid van ­Media24 Afrikaanse Nuus.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.