Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onderwys: Die rykes en armes
Die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse onderwys word al hoe groter, en arm skole sukkel om gehalte-uitslae te lewer, skryf Michael le Cordeur.
Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, omhels Siyamthanda Dyasien toe die provinsie se topleerders onlangs in Leeuwenhof pryse ontvang het. Regs is die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer. Foto: DENVOR DE WEE

Die bekendmaking van die matriekuitslae het, soos in die verlede, uiteenlopende kommentaar oor die ware stand van onderwys in die land uitgelok.

Wat die uitslae wel toon, is dat Suid-Afrika steeds ’n land met twee onderwysstelsels is (om oudpres. Thabo Mbeki aan te haal): die een ryk en die ander arm.

Hoewel hard probeer word om die twee te verenig word die gaping groter en is die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse onderwys veral sigbaar wanneer jy na die name van ons land se topskole en -presteerders kyk. In die Wes-Kaap is die top-30 skole almal uit die “ryk” kategorie.

Ek het in my onderwysloopbaan ervaring in albei stelsels opgedoen. As onderwyser en skoolhoof het ek eerstehands beleef hoe moeilik dit vir arm skole is om te oorleef en steeds gehalte-uitslae te lewer.

Ek het as kringbestuurder met die armste én die rykste skole gewerk. As deel van die Rachel’s Angels-bemagtigingsprojek is ek ook by voorheen benadeelde skole betrokke. Ervaring en verworwe kennis het my oortuig dat ons onderwys op drie bene wankel:

 Eerstens is daar ’n gebrek aan ’n politieke wil om lui onderwysers vas te vat.

 Ouers van veral die arm skole bied nie die nodige ondersteuning aan onderwysers nie.

 Derdens word nie genoeg gedoen om die goeie onderwysstories te vier nie.

Basiese skoolinfrastruktuur

Ons is geneig om geriefshalwe die impak van sosiaal-ekonomiese omstandighede op skole te ignoreer.

Vir die meeste leerders het nog niks verander nie, en die meeste skole beskik steeds nie oor die basiese hulpbronne nie.

Werkloosheid veroorsaak dat hierdie skole beswaarlik hul skoolgeld (waarvan sommige selfs net R500 per jaar is) invorder. Boeke, penne en skooluniforms is daar luuks­hede.

Met my besoek verlede jaar aan skole in die Oos-Kaap het skole gesê dat die “geen-skoolgeld-skole” eerder ’n las as ’n bate is, omdat ouers dink hulle hoef vir niks te betaal nie.

Ongeveer 50% van alle leerders leef in armoede, en nagenoeg 25% gaan honger skool toe; 41% van die skole word nie behoorlik in stand gehou nie; 17% het geen elektrisiteit nie; 79% het nie ’n biblioteek nie; 60% van die sekondêre skole het nie ’n laboratorium nie; en 31% van die skole is van boorgate en reën vir water afhanklik. Min skole beskik oor ’n saal en sportgeriewe, en sommiges maak steeds van die emmerstelsel gebruik.

Wanvoeding affekteer leerders se konsentrasievermoë en lei tot leerprobleme. Hierdie omstandighede voorkom dat leerders hul potensiaal bereik en lei tot ’n hoë uitvalsyfer, wat die ekonomiese marginalisasie van die armes verder versterk.

Leierskap en bestuur

Sedert 1994 was daar baie verwikkelings op die gebied van onderwysbestuur. Talle administratiewe pligte is aan skole oorgedra sonder dat die nodige personeel of opleiding verskaf is. Dit is dus belangrik dat skoolleierskap ’n prioriteit word.

By Rachel’s Angels bied ons jaarliks die Covey-kursus vir ons skoolhoofde aan. Ons skole benodig inspirerende en visioenêre leierskap om die veranderings effektief te bestuur.

’n Positiewe skoolklimaat

Die skoolklimaat is die unieke atmosfeer in ’n skool, wat ’n leerder, opvoeder of ouer ’n liefde vir die skool laat ontwikkel en verseker dat ouers hul kinders na die skool stuur ongeag waar hulle woon.

Hierdie skooltrots is die resultaat van harde werk oor ’n baie lang tyd. As die waardes en etos van die skool eers gevestig is, word dit van geslag tot geslag oorgedra.

’n Positiewe skoolklimaat skep ’n gesonde leeringesteldheid wat almal motiveer om elke dag daar te wíl wees. Dit dien as aansporing vir opvoeders, leerders en ouers om aktief deel te neem, en dit koester leerders se drome en ouers se aspirasies. Dit bemagtig leerders met entoesiasme en beklee opvoeders met waardigheid.

Ouerbetrokkenheid

Die verhouding tussen skoolbeheer en skoolbestuur is dikwels problematies.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet omskryf beheer as die leierskapsrol wat ouers deur middel van die beheerliggaam vervul; en bestuur verwys na die rol van die skoolhoof en sy bestuurspan. Die effektiewe bestuur van ’n skool vereis dat die bestuurspan en die beheerliggaam nie mekaar se rolle oorneem nie. In die praktyk is dit selde die geval.

Die meeste beheerliggame in benadeelde gemeenskappe is nie opgewasse vir take soos die aanstelling van ’n skoolhoof of die opstel van ’n begroting nie. In die praktyk beteken dit dat die bestuurspan albei rolle moet vervul, wat dikwels tot wanpraktyke lei.

Daarteenoor is die verhouding tussen beheer en bestuur by sommige welgestelde skole dikwels gespanne. Waar die beheerliggaam en die bestuurspan nie in harmonie saamwerk nie, het dit ’n negatiewe effek op die hele skool en sy prestasie.

Skoolveiligheid

Leerders het die reg om skool te gaan in ’n veilige omgewing, maar hulle word dikwels aan hoë vlakke van skoolgeweld blootgestel.

In die Wes-Kaap is daar steeds nie ’n effektiewe oplossing vir die bendegeweld wat leerders daagliks moet trotseer nie.

Skoolterreine bied maklike toegang en is daarom sagte teikens. Die onderwysdepartement is wetlik verplig om leerders se veiligheid te waarborg deur gepaste maatreëls in werking te stel.

Relevante kurrikulum

’n Relevante kurrikulum wat deur gekwalifiseerde en gemotiveerde opvoeders aangebied word, is die hart van onderwys. Ná die mislukkings van kurrikulum 2005 en die uitkomsgerigte onderwys is met afwagting uitgesien na die Kurrikulum-assesseringsbeleidsverklaring (Caps). Nie net wil Caps die ongelykhede van die verlede oorkom nie, dit spesifiseer wat onderrig moet word en hoe en wanneer dit geassesseer moet word. Dit moedig ’n aktiewe en kritiese benadering tot leer aan en vereis hoër kognitiewe vaardighede van die leerder.

Hoewel navorsing nodig is om die werklike impak van Caps te bepaal, is dit insiggewend dat die hoof van een van die topskole in die Wes-Kaap (DB, 08.01) toegee dat Caps vir die leerders én onderwysers ’n uitdaging was.

Moedertaalonderrig

Caps, wat vir meer hoër-orde-vrae ontwerp is, beklemtoon opnuut die feit dat die meeste leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie.

Voeg daarby die lae vlak van geletterdheid en jy begryp waarom leerders sukkel met woordryke vakke soos wiskundige geletterdheid en geskiedenis.

Leerders wat onderrig word in die taal waarin hulle die vaardigste is, vaar die beste omdat hulle die hoër-orde-vrae begryp. Daarteenoor struikel leerders wat nie in hul moedertaal leer nie met vrae soos “verduidelik in jou eie woorde . . . wat is jou mening oor . . . wat dink jy sal die gevolg wees as . . .”.

Moreel van opvoeders

Navorsing toon dat om die redes hier genoem, opvoeders se moreel so laag is dat 55% die beroep onmiddellik sou verlaat het as hulle kon. Juis daarom was dit ontstellend dat die Wes-Kaapse minister (DB, 07.01) opvoeders deur middel van die media gewaarsku het dat hulle “sal sweet in 2015”.

Dit dra nie net by tot die lae moreel van opvoeders nie, dit weerspieël ’n gebrek aan empatie vir dít waarmee opvoeders daagliks te kampe het.

’n Woord van waardering aan opvoeders wat elke dag ondanks moeilike omstandighede op hul pos is, sou baie help.

Natuurlik is daar, soos in enige ander beroep, opvoeders wat lyf wegsteek of voortdurend afwesig is. Dit is die minister se verantwoordelikheid om lui opvoeders vas te vat en so die druk op hardwerkende onderwysers te verlig. Sy moet ook toesien dat daar in geen klas meer as die toelaatbare 34 leerders is nie. Les bes: Sy kan studieverlof terugbring sodat opvoeders deur verdere studie hul vaardighede en kennis kan verbeter.

Só skep jy ’n atmosfeer wat bevorderlik is vir leer, wat tot minder “negatiewe skoolhoofde” (DB, 09.01) en meer positiewe onderwysers sal lei.

■ Dr. Le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde. Hy is ook ondervoorsitter van die projek Rachel’s Angels.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.