Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Politiek en Afrikaanse plate
Steve Hofmeyr se opname van ’n gedeelte van “Die Stem” mag dalk omstrede wees in ’n post-apartheid-Suid-Afrika, maar die geskiedenis van nasionalistiese Afrikaanse musiekopnames strek baie ver terug.

Die eerste opname van Afrikaans is glo deur Paul Kruger gedoen.

Dié enigmatiese president se stem is glo êrens tussen 1890 en 1900 op ’n outydse opnamemasjien vasgelê, maar ongelukkig het dit nie behoue gebly nie. Dit is ook te betwyfel of dit ’n sangopname was, aangesien Kruger nou nie juis bekend was vir sy stem nie.

Die ontwikkeling van moderner grammofoonplate en opnametegnieke teen die einde van die 19de eeu het tot derduisende nuwe opnames gelei.

Daaronder was wel ’n paar met ’n Afrikaanse konneksie – meer spesifiek nasionalistiese liedere. Die oudstes dateer van Januarie 1900, toe ene J.C. van den Berg die “Transvaalsch Volkslied” en E. Spieksma “Transvaal en Nederland” en “Volkslied van den Oranje Vrijstaat” in Den Haag, Nederland, opgeneem het.

Sowel Ewald Brükner as H. Cornelli het die “Transvaalsch Volkslied” in Berlynopgeneem, ook in Januarie 1900. Dit was natuurlik tydens die Anglo-Boereoorlog en die opnames kan beskou word as uitdrukkings van Boere-simpatie – ’n algemene verskynsel in kontinentale Europa daardie tyd.

Nog opnames het gevolg: Betsy Schot s’n van “Transvaalsch Volkslied” in Augustus 1901 in Berlyn en die 7de Regiment Infanterie van Amsterdam wat “Het Transvaalsch Volkslied” en “Transvaalsch Vlaggenlied” in September 1901 opgeneem het.

Die Nederlandse operasanger Tomas Denijs het in dieselfde maand sowel dié “Volkslied” as “Transvaalsch Vierkleur” opgeneem, ook in Amsterdam.

Hoewel al die opnames in Nederlands was, en meestal deur Nederlanders, dui dit op buitelandse ondersteuning van die twee Boererepublieke se aanspraak op nasieskap. Die eerste plate wat in Afrikaans opgeneem is en ook deur Afrikaanssprekendes, dateer van 1906 en is in Londen verewig.

Paul Roos se Springbok-toerspan het ’n paar liedjies en gesprekke opgeneem. ’n Paar maande voor hul aankoms in Londen het ene J.F. Smith egter “Transvaal Dialogue”, “Transvaal Volkslied”, “Transvaal Recitation” en “Boer Melodies” opgeneem. Dit is onseker wie presies J.F. Smith was, tensy sy voorletters verkeerd opgeteken is, wat gereeld gebeur het.

Dit was dalk eintlik J.J. Smith, wat daardie tyd in Londen gestudeer het en in die komende jare vele Afrikaanse stories op plaat sou opneem – ondanks die Engelse aard van baie se titels.

Smith het in 1916 die eerste redakteur van Huisgenoot geword, asook die eerste professor in Afrikaans (aan Stellenbosch in 1919, waar hy klas gegee het vir ’n jong Hendrik Verwoerd).

Hy was ook die redakteur van die eerste Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT).

Tussen 1907 en 1911 was dit meestal sangeresse soos Ada Forrest en Annie Visser wat opnames van Afrikaanse liedere in die Britse hoofstad gemaak het.

Die sangeres Floriel Florean het selfs bekend gestaan as die Taal-sanger en het konserte gehou van uitsluitlik Afrikaanse volksdeuntjies waarvan die helfte van die wins geskenk is aan die saak van vrouestemreg. Op hierdie klein manier het Afrikaanse musiek bygedra tot vrouestemreg in Brittanje!

In Suid-Afrika het die heel eerste advertensie vir Afrikaanse plate op 15 November 1910 in die tydskrif Brandwag verskyn met die volgende opskrif:

“Indien gij een Spreek Machine hebt, behoeft gij niet langer Engelse Platen te kopen, indien gij waarlik goede Muziek wenst te horen. Deze nieuwe Platen stellen u in staat de fraaiste Liederen van deze tijd te horen en de prachtigste Gezangen in de eigen taal, welke zo na aan het hart van de Boer ligt.”

Die bewoording dui op spanning tussen Afrikaans en Engels, wat in die komende paar dekades ’n beduidende politieke kwessie sou bly. Die opnames van die Springbokke verskyn in die advertensie, sowel as liedjies gesing deur Annie Visser – waaronder die “Afrikaans Volkslied” en “Zuid Afrikaans Volkslied”.

In die vroeë 1960’s is twee artikels gepubliseer in Die Burger (7 September 1961) en Huisgenoot (16 Maart 1963) oor Annie Visser se Afrikanerpatriotisme.

Die artikels is voorafgegaan deur ’n uitnodiging aan die publiek om enige inligting oor haar lewe aan die skrywer te stuur. Hulp, in die vorm van ’n brief, het uit ’n onverwagse oord gekom – van staatspresident C.R. Swart. Hierin het hy vertel van Visser se noue vriendskap met die Hertzogs.

Sy het glo gereeld by die ampswoning gaan kuier en selfs in 1915 by die stigtingskongres van die Nasionale Party opgetree waar sy die kleure – wit en oranje – van die nuwe party gekies het. In ’n latere onderhoud het sy erken dat sy in en oor die Afrikaanse taal gesing het spesifiek om Afrikaners (sy het die term “Dutchman” gebruik) trots te maak op hul taal en hul pa­triotisme op dié manier aan te spoor.

In 1912 het die Grammophone-maatskappy ’n mobiele opname-ateljee na Suid-Afrika gestuur en meer as 200 opnames is in Kaapstad en Johannesburg gemaak. Vele opnames van volksliedere is toe gemaak.

Ook gewild onder die Grammophone-opnames was Willem Versfeld se stories en liedjies.

Sy “Voetbal Match” was humoristiese kommentaar op ’n rugbywedstryd, terwyl sommige liedjies, soos “Blikbout Jan die Hotnot Man” en “Sakobong Songki” weer ’n blik bied op wit Afrikaners se rasse-beskouing destyds.

Die ander liedjies het gewissel van Psalms en Gesange tot gewilde volksdeuntjies soos “Grietjie”, “Gertjie”, “Mamma ik wil een man hê” en “Ou Tante Koba”.

Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het ’n einde gemaak aan plaaslike opnames, wat eers weer in 1924 hervat is.

Hoewel populêre Afrikaanse musiek (en Afrikaans as taal) ’n veelrassige oorsprong het, en uit verskillende klasse, is dit beduidend dat die oudste Afrikaanse plate ’n sterk politieke karakter gehad het wat nou gekoppel is aan ’n spesifieke groep Afrikaners se idees oor taal, nasieskap en identiteit.

 Van der Merwe is ’n dosent in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie vorm deel van sy doktorale navorsing oor identiteit in populêre Afrikaanse musiek.

E-posadres: deltablu@sun.ac.za

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.