Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rooi Ronnie se troebel gemoed
Daar is iets soos tough love – en dit is presies wat die ANC nou nodig het, het Ronnie Kasrils aan André le Roux gesê.
Ronnie Kasrils in sy woonstel in Johannesburg. Foto: André le Roux
Kasrils was ’n stoere teenstander van die veiligheidswet. Hierdie foto is geneem in November 2012. Foto: Deon Raath
In Augustus 2006 saam met sjeg Achmat Sedick van die Moslem- Juridiese raad spreek Kasrils, hier nog die minister van intelligensie en voorsitter van die Joodse drukgroep Not in My Name, betogers buite die parlement toe. Foto: Edrea Cloete

DIE woord ontnugter is heeltemal te flou om “Rooi Ronnie” Kasrils se weersin in die omvang, aard en kampioene van korrupsie in die ANC-bewind te ondervang.

Ek ontmoet die voormalige “Spies in die Lies” van die Na­sionale Party-regering se sekurokrate en later die ANC se minister van nasionale intelligensie in ’n nederige woonstel-gebou in Johannesburg waar hy die eensaamheid van sy politieke isolasie moet verwerk.

Kasrils verstaan magspolitiek van albei kante van die geskiedkundige spektrum – eers as stryder teen die vorige bewind en later, veral ná 1990, in die binnekring van die ANC-alliansie se topleierskap.

Nadat oudpres. Thabo Mbeki in 2007 in Polokwane sonder veel seremonie deur die Zuma-iste na die politieke wildernis gestuur is, moes Kasrils, wat steeds lojaal aan Mbeki was, hom volg.

Met sy intieme kennis van die binnewerking van die ANC, die rolspelers (ook en veral op ’n persoonlike vlak) voel hy die struggle is verraai deur wat hy bestempel as die “plaag van korrupsie” onder die ANC-elite wat Suid-Afrika soos ’n “rotsstorting” verswelg.

Kasrils – reeds 75 en geklee in sy For Whom the Bell Tolls-T-hemp ter ere van Ernest Hemingway – sit skielik met mening vooroor wanneer hy spontaan oor pres. Jacob Zuma se motiewe en rol in die huidige ongure geldpolitiek begin praat.

“Vir iemand soos ek, wat deur die integriteit van die strewe na geregtigheid en orde in ons land gevorm is, vergelyk die apartheidsparty (wat hy meen deur mag gekorrupteer is) nie met die vryheidsbeweging se dekades lange stryd nie.

“Ons het aan ons mense die doelwit voorgehou om ’n stelsel van rasoorheersing omver te werp. Die ANC se leuse het gesê ons sou ’n diens aan almal lewer, nie net aan onsself nie.”

Daaruit het gevloei die “Madiba-vibe”, soos Kasrils dit beskryf en nou wil laat herleef.

Maar toe kom die geweldige ontnugtering van die Zuma-era.

“Dit is waarom die huidige stand van korrupsie so skokkend geword het,” sê Kasrils, en hy wonder hardop “of daar ’n verrotting by Zuma ingetree het wat beteken dat hy nie vergelyk kan word met Mandela en Mbeki nie”.

Immer lojaal sê Kasrils dat Mbeki “ongeag die kritiek oor sy hantering van Zimbabwe en die MIV-vraagstuk nooit by korrupsie van gierigheid en welvaartstrewe betrokke was nie”.

“Ek dink hy (Mbeki) het dit, selfs meer as Mandela, in dié verband nié gedoen nie.”

Dan beantwoord Kasrils sy eie vraag oor “waarom korrupsie só en op die huidige manier oorgeneem het”.

Sy ewe retoriese antwoord ontsien ook nie die persoon van Jacob Zuma nie.

“Dit is omdat baie mense, wat sy gunsteling probeer wees, hulle wend tot Zuma se ore en dan staatmaak op belonings vir hul ondersteuning van die president, hetsy deur as ministers of in ander lonende poste aangestel te word.

“Dit is die gevolg van ’n soort korrupsie wat in Suid-Afrika posgevat het. Dit is gegrond op ’n waardestelsel en ’n mentaliteit dat die enigste manier om vorentoe te beweeg is om jouself te verkoop en ooreenkomste aan te gaan om jou in die eerste plek te plaas.

“Dit is ’n (nuwe) soort kapitalisme waarin ekonomiese vooruitgang deur swart bemagtiging tot ’n baie dun skilfer van die samelewing beperk is.”

Is dit wie Zuma is of is dit wat hy toelaat?

“Hy het hierdie (korrupsie) ten volle aanvaar.

“Daar is mense wat in ballingskap was wat jou sal vertel – en ek kan dit bevestig – dat hy (Zuma) ’n eenvoudige mens was wat nie gehunker het na die vleispotte of swierige klere of duur motors nie. Hy was besonders aards.”

Maar dan kom Kasrils se brieke los.

Kasrils in ’n kassie

Ronnie Kasrils is ’n komplekse mens en stilsit is skynbaar sy grootste straf, soos blyk uit sy bedrywige lewe.

- Hy is op 15 November 1935 in Yeoville gebore as die seun van Oos-Europese Jode wat van tsaristiese heerskappy gevlug het.

- As ’n leerling aan Houghton se spog-seunskool King Edward (KES), wat al baie van Suid-Afrika se topsakemanne (en die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith) opgelewer het, sou ’n mens verwag dat Kasrils een van die kapteins van kapitalisme in Sandton sou word. Hy het nie. Rooi Ronnie is vandag steeds ’n onrehabiliteerbare sosialis.

- Hy het sy loopbaan as draaiboekskrywer begin, maar in 1960, ná die Sharpeville-slagting, het sy lewe onherroeplik verander.

- As lid van die ANC is hy in 1962

ingeperk. In 1964 ontvang hy sy militêre opleiding in Odessa in die destydse Sowjet-unie.

- Hy het sy militêre kennis vanuit al Suid-Afrika se buurlande en frontliniestate teen die NP-bewind ingespan.

- In Suider-Afrika was hy by toe 28 mense in 1992 in die Bisho-slagting deur Ciskeise troepe doodgeskiet is.

- As lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee het hy onder meer as adjunk-minister van verdediging en as minister van nasionale intelligensie kabinetsdiens gedoen totdat hy in 2008 saam met oudpres. Thabo Mbeki die politieke wildernis in is.

- Deesdae is die terugkeer van die “Madiba-vibe” sy grootste wens. Tot dan hou hy hom besig met prof. Sampie Terreblanche se boek Lost in Transformation en praat hiernaas oor die vergrype deur die ANC-kader wat Mbeki ontsetel het.

“Ek het egter in hom (Zuma) ’n sekere ambisie gesien. Deur so baie vroue, en gevolglik kinders, aan te skaf, kan jy jou indink hoe besorgd hy moes wees oor hoe hy daarin sou kon slaag om vir hierdie groep mense te kan sorg.

“En dan is daar mense, kapitaliste, wat met geld in hul agtersakke na die nuwe politieke mag op soek is en soos aasvoëls toesak.

“Daar is ook hulle wat te graag in hierdie ‘omhelsing’ (van korrupsie) die honger op ’n afstand wil hou, hul rekenings kan betaal en kinders skool toe stuur nadat hulle maniere gevind het om hul vroue te huisves,” sê Kasrils in ’n kwalik bedekte verwysing na die nut van ’n landgoed soos dié van Nkandla.

“Uit dié perspektief kyk jy na ’n mens (Zuma) wat dramaties verander het. Van daardie vertrekpunt verloën ’n persoon noodwendig die beginsel om ander (die meerderheid) eerste te dien, terwyl jy ’n bed deel met mense wat jou borge is.”

Kasrils sê dit is van daardie grondslag dat die mense nou in beheer van die ANC – “nie almal nie” – dié elite is wat ongelooflik korrup geword het nadat hulle die mag by Mbeki afgeneem en hom uitgeskop het.

“Sedertdien is die pad berg af vir die ANC, soos ’n sneeubal wat groter en groter word.”

Dan die een-woord-vraag: Nklandla?

Sy antwoord is ewe kripties en direk: “Uiterste opulensie, opperste korrupsie wat smaak van dié van Mobutu Sese Seko, die eertydse diktator van Zaïre.”

Hy herhaal dat die morele waardes van die vryheidstryd onder Zuma se leierskap ongedaan gemaak word. “Om skielik dié soort oordadige vergrype ten koste van die belastingbetaler te sien, is kru en obseen.

“Hulle kan dit nie meer deur ontkenning wegpraat nie.”

Ek wonder hardop teenoor Kasrils of ek nie nou te make het met ’n man wat net kan skree van die kantlyn af nie en vra of hy nog ’n lid van die ANC is.

“Skynbaar,” sê hy, maar voeg by hy is nie meer lid van ’n tak nie en betaal nie sy ledegeld nie. “Ek het wel in die verlede mildelik bygedra.”

Kasrils is oortuig van wat en wie hy is. “Ek is ’n produk van die ANC, die SA Kommunistiese Party en van die vryheidstryd.”

Dan klim hy weer in: “Ek beskou die huidige leierskap van dié instellings as verraaiers van die ANC en die SAKP en uit daardie perspektief is ek nie betrokke by enige lollery (met geld) nie. My hande is skoon.”

Kasrils sê die leiers is verantwoordelik vir die ANC se verval en die land ly in dieselfde proses skade.

“Daarom het ek besluit om nou te praat. Daar is hoër loja- liteite as net teenoor die ANC – die Grondwet.”

Hy voorsien die ANC gaan ’n dwarsklap by die stembus kry, veral van ’n groter wordende groep mense wat deur die party gemarginaliseer en selfs geskors is en wat glo die party het sy waardestelsel verloor.

Kasrils verwag nie nou ’n daling van 10% in steun vir die ANC nie – en hy skryf dit grootliks toe aan die gevreesde kwesbaarheid van miljoene kiesers wat afhanklik van staatstoelaes is en dat daar vir hulle “dus niemand anders is om voor te stem nie”. Maar hy voorsien wel dat die party deur ’n daling van tot 3% in die gesig gestaar word.

“Die ANC sal gedwing word om te vra: Wat van die volgende keer? Gaan dit weer 3%, 4% of 5% wees met ’n ANC wat sukkel om 55% van die totale stemme te kry – nadat hy in die laaste Mbeki-verkiesing byna 70% van die stemme gekry het?”

En Kasrils? Gaan hy volgende maand vir die ANC stem?

“Nee, en nie totdat die ANC tot sy sinne kom nie.”

Hy doen dit “uit liefde” vir die party waarin hy hom eens geborge gevoel het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.