Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ruk swak onderrig só reg
Tensy ongelykheid in die onderrigstelsel van Suid-Afrika uit die weg geruim word, is die land se toekoms op die spel. Jeanette de Klerk-Luttig doen voorstelle aan die hand.
Leerders van die Primêre Skool Selowe in Limpopo gaan skool in die skadu van ’n boom.Foto: Gallo Images

Die grootste oorsaak vir die ongelykheid tussen mense in ons “wye en droewe land” is die ongelykheid in die gehalte van onderrig in ons skole.

Daar is nie meer ongelyke toegang tot onderwys of ongelyke besteding nie, maar daar ís skreiende ongelykheid in die gehalte van onderrig wat leerders in verskillende skole ontvang.

Ongeveer 75% van ons openbare skole is disfunksioneel. Die hartseer implikasie van dié geweldig hoë persentasie is dat juis dít wat vir sommige leerders hoop bring, ander tot ’n hopelose, uitsiglose ­lewe verdoem. Dít wat die minderheid bevoordeel, benadeel die res van die leerders. Dít wat goeie nuus is vir sommige, is baie slegte nuus vir ander. Juis dít wat ’n groep leerders in ons land bemagtig, ontmagtig die grootste deel van ons leerders in werkloosheid en afhanklikheid.

In die disfunksionele skole is die meeste leerders reeds in graad vyf twee jaar agter die leerders in goed funksionerende skole waar roetine, orde en ’n werketiek deel van die skooldag is. Navorsing deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het getoon dat onderwysers in skole wat goed funk­sioneer gemiddeld 6,5 uur per dag werk teenoor die 3,5 uur van die onderwysers in swak funksionerende skole. Die onderste disfunksionele skole lewer ook die top-misdadigers in ons land op, want dié leerders val al op skoolvlak uit die stelsel en dikwels is misdadigheid die enigste uitkoms wat vir hulle oorbly. Die onderwysnavorser Nick Taylor verwoord dit so: “The bad news in South Africa is that nearly 80% of schools provide education of such poor quality that they consti­tute a very significant obstacle to social and economic development, ­while denying the majority of poor children full citizenship.”

Die belangrikste manier om die ongelykheid in die gehalte van onderrig in ons skole op te los, is om dit ’n saak van nasionale erns te maak dat alle leerders in elke klaskamer in ons land gehalte-onderrig ontvang.

Die vinnige en positiewe reaksie van premier Helen Zille (DB, 14.11.14) op “Opvoeder van Kaapstad” se brief asook die waardering en respek wat sy teenoor dié opvoeder toon, gee ’n mens hoop. Haar ervaring van en insig in die onderwysproblematiek sal haar in staat stel om te onderskei wanneer politieke besluite lynreg met gesonde opvoedingsbeginsels bots.

Bekwame, hardwerkende onderwysers behoort met veel meer respek en waardering behandel te word en as professionele persone moet hul insette veel meer gewig dra. Hier is kortliks enkele voorstelle hoe ons gehalte-onderwys in elke klaskamer kan kry:

 Raak ontslae van onbevoegde hoofde en lui onderwysers in swak funksionerende skole, want hulle steel die toekoms van ons leerders. Die onderwysdepartement moet so vinnig as moontlik aandag gee aan die olifante in die woonkamer: Lui onderwysers behoort afgedank te word en onbevoegde skoolhoofde vervang te word met mense wat vir die taak van ’n skoolhoof opgewasse is. Geen politieke kontakte mag hier enige rol speel nie. Sadou se invloed in dié verband is ongelukkig baie teenproduktief vir gehalte-onderrig.

 Kyk met ’n vergrootglas na die opleiding van onderwysstudente. Ons kan nie gehalte-onderwys in elke klaskamer verwag as die opleiding van die onderwysers nie op peil is nie. In ’n onlangse verslag van die onderwysonderrig-navorsingsprojek is bevind dat die kurrikulum van onderwyskursusse by vyf tersiêre instellings onvoldoende is – die opleiding van onderwysers in veral wiskunde en Engels is ontoereikend. Dit is tegelyk hartseer en skokkend, want dié vyf instellings lewer meer as 60% van alle onderwys-gegradueerdes op. Om goeie onderwyskolleges te sluit was sekerlik een van die tragiesste besluite van die ANC-regering; ’n politieke besluit wat duisende leerders se toekoms benadeel het.

Daar is veral fout met die opleiding van B Ed-graadstudente wat vir die senior primêre fase gaan skoolhou, want in plaas daarvan dat universiteite die graad gebruik om goeie onderwysers op te lei en só die siklus van middel­matigheid te verbreek, slaag nie een van die vyf instansies hierin nie.

 Daar moet gekyk word na die profiel van dosente wat onderwysstudente onderrig. Enige persoon wat by die opleiding van onderwysstudente betrokke is, behoort met die een voet in die aka­demie en die ander voet in die onderwyspraktyk te staan, en moet dalk verplig word om elke vyf jaar vir ses maande skool te hou. Sodoende beleef hulle die harde werklikheid van die onderwyspraktyk eerstehands sodat hulle nie studente oplei vir ’n realiteit waarvan hulle weinig weet nie.

  Verhoog die toelatingsvereistes vir onderwysstudente. Dit sal egter gepaard moet gaan met die verbetering van die onderrigklimaat in skole. Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch het getoon die belangrikste redes waarom leerders nie onderwys as ’n beroep oorweeg nie, is weens die gebrek aan respek vir onderwysers, die gebrek aan dissipline in skole en die feit dat die onderwys vir talle onderwysers ’n gevaarlike beroep geword het as gevolg van geweld in skole.

Ons beleef nou ’n Kairos-oom-blik in die geskiedenis van ons land.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.