Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sjuut! Nou is nié die tyd nie
Hendrik Verwoerd het in die media die pad geloop van die rol as groot leier tot dié van onnoembare skurk.

Die joernalis Allister Sparks het ’n ligte beroering veroorsaak toe hy op die DA-kongres na die destydse eerste minister dr. Hendrik Verwoerd as ’n “slim politikus” verwys het.

Verwoerd en sy vrou, Betsie.

Laat daar geen twyfel wees nie: Verwoerd was nooit almal se gunsteling nie – nie as studenteleier nie, nie as akademikus nie en ook nie as koerant­redakteur of politikus nie. Daarvoor was sy standpunte te sterk en sy selfvertroue net te veel.

Hy is natuurlik as profeet deur Afrikaners vereer, maar het noodwendig ook kritiek ontlok.

Selde in die binnekring, moet ’n mens byvoeg, want almal was te bang vir hom.

As minister verantwoordelik vir swart mense en later as eerste minister, is hy skerp gekritiseer deur diegene wat ideologies van hom verskil het. Só skryf The Star op 21 Mei 1959 in kommentaar:

“We must face the fact that at the head of affairs there is today a man who, driven by the furies of his own ideological fanaticism, could do an infinite amount of harm until he is cast out beyond any further capacity for mischief . . .”

Uit die buiteland het daar eweneens skerp kritiek gekom.

Enkele dae voor sy dood plaas Time hom op sy voorblad met die opskrif: “The Delusions of Apartheid” (26 Augustus 1966).

Daarmee word hy as belangrike leier erken, maar sy beleid afgewys.

Op die kruin van sy mag – van republiekwording in 1961 tot sy dood in 1966 – is hy inderdaad wyd erken as ’n besonderse ­leier. By sy skielike dood in 1966 aan die hand van ’n sluipmoordenaar was daar wye instemming dat hy ook ’n besonderse mens was.

Die Afrikaanse drukmedia het sy lesers se hartseer en skok weerspieël met talle voorblad­berigte.

Opskrifte in Die Transvaler het onder meer gelui: “SA se grootste seun gehuldig” en “Man van durf en daad”.

Die Beeld se politieke beriggewer skryf dieselfde Sondag (11 September 1966) gloeiend onder die opskrif “Verwoerd: Die held wat nie gehuiwer het nie” en die subopskrif “Sy verhaal sal deur die eeue bly lewe”.

Daarnaas verskyn ’n artikel deur dr. Denis Worrall onder die opskrif “He was the com­plete Afrikaner”.

Worrall was later lid van die Demokratiese Party.

Maar dit was te wagte. Wat opval, is hoe sy teenstanders op sy dood gereageer het.

Hulle het dalk die algehele skok van die wit bevolking in ag geneem en sagkens geskryf.

Die Volksblad se voorblad oor Verwoerd se dood.

Koerante soos die Rand Daily Mail en The Star het nie net breedvoerig oor een van die grootste nuusgebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis berig nie, maar ook artikels geplaas waarin Hendrik Verwoerd die mens positief belig is.

The Star het byvoorbeeld ’n artikel gepubliseer onder die opskrif “Dr. Verwoerd: The Qualities that Made His Greatness”.

Die Rand Daily Mail, wat hoogs krities oor Verwoerd se beleidsrigtings was, skryf ’n dag ná sy dood in prominente voorbladkommentaar:

“Friends and foes alike acknowledge his exceptional powers of leadership, his unusual intellect, his prodigious energy, his steadfastness of purpose, his political acumen and his utter dedication to the vision of South Africa that he held before him.”

Dit was nie nou die tyd om politieke argumente teen sy visie of sy persoon te opper nie. Tog, daar was ook geen dwingende rede vir ’n opposisiekoerant om hierdie visie aan te prys nie.

Daarom val die Sunday Times se redaksionele kommentaar op.

Die blad het onder meer geskryf:

“The concept of Bantu homelands is one of the great legacies Dr. Verwoerd has left his country; and the tragedy for South Africa is that he was not spared to finish the job . . .”

Soos wat die apartheidsbeleid later in duie gestort het en veral swart stemme met groter

dringendheid daarteen opgeklink het, het Verwoerd al hoe meer ’n simbool geword van alles wat sleg aan die beleid was.

Terwyl apartheid deur sommige geredelik vir alle hedendaagse probleme verantwoordelik gehou word, duik Verwoerd as simbool van apartheid met reëlmaat op in die media.

Laat daar geen twyfel wees nie: Verwoerd was nooit almal se gunsteling nie – nie as studenteleier nie, nie as akademikus nie en ook nie as koerantredakteur of politikus nie.

Hy word as ’n “bose genie” gebrandmerk. Trouens, hy was ’n “verskriklike mens”, aldus prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

Pres. Jacob Zuma het Verwoerd beskuldig dat hy eintlik verantwoordelik was vir die handboekkrisis in 2012 in Limpopo. Verskeie politieke spotprenttekenaars gebruik Verwoerd as simbool van apartheid, maar niemand doen dit met soveel venyn as Zapiro nie. In sy tekeninge word Verwoerd soms met ’n neus uitgebeeld wat aan dié van ’n vark herinner. Zapiro teken deur die jare vir Verwoerd (saam met ander Nasionale Party-premiers) in “apartheidshell” (met die duiwel wat oor hulle waak), en in 2004 as “The Greatest Racist Buffoon”.

Wanneer iemand waag om iets oor Verwoerd te skryf wat nie suiwer negatief is nie, word sterk gereageer. Só argumenteer Hermann Giliomee in 2012 in Rapport dat as ’n mens oor apartheid wil oordeel, jy inderdaad die ondenkbare moet oorweeg. Hy opper dan verskeie wedersyds uitsluitende stellings wat impliseer dat Suid-Afrika in ’n stadium dalk juis weens apartheid ekonomiese groei en stabiliteit beleef het.

Giliomee het oor jare heen enorme respek opgebou, maar die artikel het onvermydelik skerp kritiek ontlok.

Nou kom daardie aartsliberaal en anti-apartheidsjoernalis Allister Sparks en noem Verwoerd ’n slim politikus. Daaroor bars ’n stormpie los. Nie eens Sparks het die politieke kapitaal om so iets vandag te sê nie.

Waar laat dit ons?

Nie op ’n plek waar onbevange oor Verwoerd of Hitler gepraat kan word nie. Al is dit hoe genuanseerd en geregverdig.

Ons is net nie op ’n plek waar sulke opmerkings losgemaak kan word van die simboliek wat in die name Verwoerd en Hitler vasgelê is nie.

Dus: Bly weg daarvan. Al is jy Allister Sparks.

Vir die res van ons is die les ook duidelik: Simboliek tel. Wonde is nog rou. ’n Sondebok is nodig vir alles wat skeefloop.

Jy kan nie sê wat jy wil nie, al is dit goed bedoeld of selfs waar. Dit is nie nou die tyd vir sulke onsensitiwiteit nie.

■ Froneman is ’n mediahistorikus en professor in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.