Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só sê beleid oor hoër onderwys
Beswaardes se ophef verraai onkunde
Afrikaans as onderrigtaal aan eertydse Afrikaanse universiteite kom al hoe meer onder skoot. Maar wat sê die amptelike taalbeleid hieroor? Theo du Plessis sit dit in perspektief.
Prof. Theo du Plessis

Afrikaans as onderrigtaal in hoër onderwys het weer onder skoot gekom op ’n onlangse besoek van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) om te hoor hoe transformasie daar vorder. Die besoekers het skynbaar moeite ondervind om die NWU se taalbeleid te verstaan; ook om te begryp waarom hierdie universiteit soveel moeite doen met Afrikaans. Uit mediaberiggewing hieroor kry die buitestander die indruk dat die beswaardes graag Engels as enigste onderrigtaal wil sien, as antwoord vir ’n hele klomp probleme wat aan die NWU toegedig word.

Hierdie geval roep onder meer vrae op oor taalbestuur aan eertydse Afrikaanse universiteite soos die NWU. Tree die NWU binne die neergelegde beleidsraamwerk op en strook die behoud (en uitbou) van Afrikaans as voertaal met nasionale taalbeleidsoogmerke vir hoër onderwys? Of is die NWU eintlik maar stroom-op (soos wat sommige beswaardes probeer suggereer het)?

Enige gesprek oor taal aan universiteite begin by die Language Policy for Higher Education (LPHE), ’n sentrale beleidsdokument wat van 2002 dateer. Die LPHE spruit voort uit spesifieke taalopdragte in die Wet op Hoër Onderwys en die Witskrif oor Transformasie in Hoër Onderwys (albei van 1997) aan die verantwoordelike minister. Twee 2001-verslae het bygedra tot die finalisering van die LPHE, die Language Policy Framework for Higher Education in South Africa (onder redakteurskap van wyle dr. Neville Alexander) en die ewe geëerde wyle prof. Jakes Gerwel se Report to Minister of Education AK Asmal by the Informal Committee Convened to Advise on the Position of Afrikaans in the University Sys­tem. Hoofde van die eertydse Afrikaanse universiteite het oor laasgenoemde met die betrokke minister ooreengekom dat hulle instellings Afrikaans as voertaal in stand sal hou en dat hy dus kon afsien van die gedagte aan twee “Afrikaanse” universiteite, ’n suidelike en ’n noordelike. Hierna het in 2003 die belangwekkende Report of the Ministerial Committee appointed by the Minister of Education in September 2003: the Development of Indigenous African Languages as Mediums of Instruction in Higher Education (onder redakteurskap van die hoogs gerespekteerde prof. Njabule Ndebele) verskyn, asook die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad se praktiese handleiding, Guidelines on the Layout of a Language Policy Document for Institutions for Higher Education.

Die LPHE staan in die konteks van ’n post-1994-strewe na ’n getransformeerde taalbestel vir ­hoër onderwys. Kernelemente hiervan behels dat:

 vir tyd en wyl twee voertale aan hoëronderwysinstellings erken word, te wete Engels en Afrikaans;

 aksies in werking gestel word om die ander nege ampstale vir akademiese doeleindes te begin ontwikkel (soos die Ndebele-verslag inderdaad voorsien); en

 eentalige Afrikaanstalige instellings ophou bestaan.

Met inagneming van die ooreenkoms wat ná Gerwel bereik is, sien die LPHE Afrikaans behoue bly binne verskillende onderwysmodelle, onder meer dubbelmediumonderwys, parallelmediumonderwys ensovoorts, met dien verstande dat Afrikaans nie as uitsluitingsmeganisme aangewend word nie.

Benewens die afwysing van eentalige Afrikaanstalige instellings bring die LPHE twee groot veranderinge teweeg wat dalk nog nie goed begryp word nie.

Die een is dat erkenning verleen word aan ’n toekomstige rol vir die oorblywende nege ampstale aan universiteite. Daarom is dit ironies dat niks in die tersaaklike beriggewing gemeld word van die baanbrekerswerk wat die NWU onderneem met betrekking tot die ontwikkeling van Tswana nie.

Die ander groot verandering is dat die konsep “moedertaalonderrig” in tersiêre onderrig verdwyn. Dit bestaan eenvoudig nie meer nie. Die LPHE werk nou met die tegniese en neutrale begrip “voertale” (of onderrigtale). Soos Alexander altyd gesê het, die feit dat Engels en Afrikaans ook die moedertale van sommige mense is, is bloot insidenteel en gewoon ’n historiese gegewe.

Veral die tweede verandering hou ernstige implikasies in vir die populistiese neiging om altyd ’n verband te wil lê tussen Afrikaans en Afrikaanse identiteit, soos wat ons nou weer sien by die etikettering van die Potchefstroom-kampus van die NWU as ’n volkstaat. Navolgers van hierdie soort denke hou graag Engels voor as “neutrale” en daarom aangewese voertaal. ’n Konsekwente vertolking van die LPHE bring egter mee dat gewoon dieselfde oor Afrikaans as voertaal gesê kan word. Studente kies tussen twee amptelike onderrigtale, ’n reg wat trouens in artikel 29(2) van die Grondwet gewaarborg word; uiteindelik ’n keuse van instrument, nie noodwendig van simbool nie. My indruk is dat ons huidige politieke en hoëronderwysleierskap nog ’n bietjie oor hierdie belangrike beleidsimplikasie struikel.

Die NWU funksioneer dus op die oog af nie buite-om die LPHE-voorskrifte nie en tree soos gelyksoortige instellings eintlik heeltemal korrek en regmatig op. Die probleem lê eerder by die mate van oningeligtheid oor die gemelde taalbeleidsraamwerk. Die beswaardes se ophef oor Engels verraai eintlik hul onkunde (of moedswilligheid) oor hoe ’n taalgetransformeerde universiteit behoort te lyk. Gesien die feit dat Suid-Afrika se universiteitswese in 1873 in Engels ontvang en gebore is, wonder ’n mens hoeveel ons nou eintlik vorder as die NWU (en maters) aan die populistiese aandrang gehoor gee en voortaan slegs Engels as voertaal gebruik?

■ Prof. Theodorus du Plessis ishoof van die eenheid vir taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.