Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ORANIA SE TOEKOMSVISIE
Van dorp tot Afrikanerstad
Die Afrikaners van Orania gaan ’n stad bou nadat hulle ’n sukses van dié dorp gemaak het, skryf Frans de Klerk.
Frans de Klerk

Die argument en uitgangspunt vir die totstandkoming van Orania ongeveer 25 jaar gelede is reg bewys. Afrikaners het hul politieke mag verloor en dus die vermoë om oor hul eie lot te beslis. Dit het hul vermoë om gesamentlik op te tree en in te tree vir hul belange drasties verswak.

Indien Afrikaners se sentrale probleem die verlies aan politieke besluitnemingsmag is, sal hulle ’n plan moet bedink om dit weer te bekom. Weens die demografiese werklikhede van die land sal die plan buite die huidige kiesstelsel gevind moet word.

Vir selfbehoud en -handhawing sal Afrikaners ’n struktuur en ruimte tot stand moet bring wat hulle politieke seggenskap sal kan gee.

Deur ontwikkeling en toenemende vestiging in Orania kan die dorp uitgebou word tot ’n lewenskragtige stedelike gebied, ’n plek wat deur Afrikaners self bestuur en beheer word. Die stedelike ruimte kan die instrument wees waardeur Afrikaners de facto politieke besluitnemingsmag bekom en oor ’n magdom interne sake beheer kan uitoefen. Dit kan ook die grondslag lê vir onderhandeling met die regering vir toenemende federale magte en selfs ook mettertyd ’n stadstaat tot stand bring.

Waarom stedelike vestiging?

Daar is vyf belangrike redes waarom Afrikaners ’n strategie moet volg van gekonsentreerde of stedelike vestiging vir die uitbou van hul selfstandigheid. In die eerste plek skep ’n stad ’n omgewing waarin spesialisasie moontlik is. Die rede daarvoor is dat daar in ’n stedelike omgewing ’n skaal­ekonomie tot stand gebring word, wat ’n voorvereiste vir spesialisasie is.

In so ’n omgewing kan werk op groot skaal geskep word vir Afrikaners, van wie die meeste vandag in gespesialiseerde beroepe is.

In die tweede plek beskik ’n stad oor ’n besondere vermoë om welvaart te skep. Dit skep ’n groot mark vir produkte en dienste en die gepaardgaande vraag daarna word een van die belangrikste dryfvere vir die versterking van die ekonomiese vermenigvuldiger. Suksesvolle ekonomiese ontwikkeling sal grootskaalse vestiging tot gevolg hê.

Derdens was die stad histories altyd die plek van veiligheid. Talle gemeenskappe in die geskiedenis moes hulself al teruggetrek het in die veiligheid van die stad wanneer gevaar gedreig het. Veiligheid en ’n sorgelose bestaan het in 2015 vir die meeste mense in Suid-Afrika ’n luukse geword. Vir Afrikaners is dit nog meer so en dit is van wesenlike belang dat hulle vir hulself ’n veilige toekoms skep.

Vierdens moet Afrikaners ’n stad tot stand bring omdat dit politieke besluitnemingsmag aan hulle sal verleen. In so ’n stedelike omgewing sal Afrikaners ’n besliste meerderheid wees en die maghebbers sal dit moeilik vind om in die interne sake van so ’n gebied in te meng.

Vyfdens is daar ’n baie eenvoudige rede waarom die bou van ’n stad ’n haalbare politieke ideaal is. Dit lê daarin dat Afrikaners oorwegend verstedelik is en dus nie sal sukkel om in ’n nuwe stedelike omgewing aan te pas nie.

Deur ’n stad te bou kan Afrikaners aansluit by ’n eeue oue tradisie van selfstandige stede of stadstate. Hier word gedink aan Athene in die klassieke Griekse tyd, die Hansastede in Duitsland in die Middeleeue, Florence en ander Italiaanse stede in die Renaissance en in die moderne tyd Singapoer. Die Romeinse Ryk het al eeue gelede vergaan, maar Rome staan vandag nog. ’n Afrikanerstad sal ook die huidige politieke bedeling kan oorleef.

Stadsbou

Die dorpsraad van Orania neem die leiding met die inwerkingstelling van die strategie vir die ontwikkeling van Orania van ’n dorp tot ’n stad. Die eerste stap was om in November 2014 ’n omvattende sosiaal-ekonomiese ondersoek van Orania te doen, wat sal dien as grondslag vir die opstel van Orania se ekonomiese ontwikkelingsplan, wat in 2016 bekend gestel sal word.

Die dorpsraad, in samewerking met Orania se instellings, sal die nodige ondersteuning en hulpbronne mobiliseer om die ekonomiese ontwikkelingsplan te begin. Die doel is om kollektiewe dienste en uitnemende infrastruktuur te voorsien wat die grondslag sal lê vir suksesvolle ekonomiese ontwikkeling en vestiging.

Dit is nóú die geleentheid vir Afrikaners om op groot skaal by Orania betrokke te raak, om saam te bou aan die ideaal van ’n selfstandige ruimte wat kan dien as ’n waarborg vir ’n veilige toekoms. Die bereiking van die ideaal sal bepaal word deur Orania se vermoë om sy idee as ’n geloofwaardige politieke alternatief te formuleer, massa-ondersteuning daarvoor te monster en die nodige ontwikkelingsplanne in werking te stel. Die Orania-proefneming is ’n sukses. Die uitdaging is om nou na ’n volgende vlak te beweeg.

Die pad vorentoe

Vir die meeste Afrikaners was die tyd ná die oorgang van 1994 baie onseker. Baie het verkies om te emigreer, sommige het met heimwee terugverlang na die era voor 1994 terwyl ander hul hoop op die land se nuwe Grondwet en die howe gevestig het vir ’n geborge toekoms. Selfs Orania moes in dié tyd sy eie strategie herbedink in die werklikhede van die nuwe bedeling.

Wat egter nou nog duideliker as ooit uitstaan, is dat die enigste roete vir oorlewing die pad van selfstandige handeling is. Afrikaners moet self verantwoordelikheid aanvaar en hul eie toekoms skep.

Die pad moet egter nie in afsondering geloop word nie. Orania is deel van Suid-Afrika en beskik oor die unieke vermoë om ’n bydrae te lewer tot die land en die oplossing van sy probleme.

Die samewerkingsooreenkoms wat tussen Orania en die Xhosa-gemeenskap Mnyameni tot stand gekom het, is ’n bewys dat die Orania-ontwikkelingsmodel as voorbeeld kan dien vir ander gemeenskappe wat werkloosheid wil takel en selfstandig wil ontwikkel. So kan Orania dit regkry om nie net vir homself te sorg nie maar ook sy plek vol te staan in ’n dinamies veranderende land.

 Frans de Klerk is die uitvoerende hoof van die Orania-dorpsraad en skrywer van die boek Orania: Van dorp tot stad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.