Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Forum
Vanwaar, Belhar?
Braam Hanekom kyk na enkele vrae wat opduik in die stemmery oor die Belydenis van Belhar.

Die Belydenis van Belhar en die stemproses wat hieroor in die NG Kerk aan die gang is, het, soos verwag, heelwat reaksie uitgelok. Uit die terugvoering blyk dit dat sommige mense steeds met vrae sit en met aannames werk wat onses insiens nie altyd korrek is nie.

Die laaste tyd is onder meer die volgende gehoor. Ons antwoord graag daarop:

“Julle dwing iets op ons af.”

Die presiese teendeel is waar. As die sinode dit wou doen, sou daar nie soveel moeite met die kerkordelike proses en die formulering van die voorstel gedoen word nie. Die formulering was juis ’n eerlike en ernstige poging van die sinode om vir ons lidmate te sê dat ons nie sonder meer mense wil uitsluit of vervreem nie. Enigeen wat by die sinode van 2013 was, sal dit kan beaam.

Die teendeel het baie jare gelede by Dordt gebeur toe meer as 200 predikante die kerk moes verlaat omdat hulle Dordt nie dadelik wou aanvaar nie.

In ons gereformeerde tradisie glo ons in elk geval dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie.

“Julle maak Belhar minderwaardig.”

Dit is belangrik om te verstaan dat die voorstel die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van die kerk maak.

Die voorstel impliseer dat dominees voortaan, soos met die ander belydenisskrifte die geval is, met vrymoedigheid daaroor sou kon preek en kinders in die kategese die inhoud daarvan sou kon leer.

Omdat dit ’n nuwe belydenisskrif is, dwing ons egter nie die aanvaarding daarvan op mense af nie. ’n Versigtige en verantwoordelike proses word gevolg – wat ook seker maak dat ons die vereistes nakom wat die siviele reg aan ons stel.

“Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) sal nooit jul besluit aanvaar nie.”

Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die VGK nie. Daar is en was reeds leidende stemme in die VGK wat met groot begrip gepraat het oor die NG Kerk se besluit oor artikel 1.

Verder moet ons dit goed verstaan dat ’n mens nie ’n belydenis aanvaar of afwys ter wille van ander nie. Dit is ’n innerlike oortuiging of nie. Ons sê dit in die mooiste gesindheid. Wat ons nóú doen, doen ons omdat ons glo dit is die regte ding. Ons doen dit omdat ons glo die belydenis kan ons kerk help, ook met reuse-uitdagings wat tans ons land in die gesig staar. Ons doen dit nie ter wille van die VGK nie.

Ironies genoeg word tans in die kritiek op artikel 1 min verwys na die NG Kerk in Afrika en die Re­formed Church in Africa. Ons is oortuig daarvan dat artikel 1 ook vir hulle ruimte laat om tuis te kom in ’n groter NGK-familie.

“Die leiers het besluit en is verwyderd van die mense.”

Die vraag is: Wie is hierdie mense? Daar is tans baie sterk opponerende stemme in die kerk. Mense het gewaarsku dat die kerk kan skeur as ons Belhar aanvaar. Tans vrees ons dat die kerk kan skeur as die kerk Belhar sou afwys.

Met die huidige proses doen die kerk moeite om lidmate te betrek. Daar is selfs diegene wat ons daarom kritiseer deur te sê dat ons nou van die kerk ’n demokrasie gemaak het en ’n referendum hou. Nog nooit in die geskiedenis van die kerk is só wyd deur lidmate oor ’n saak gestem nie.

Wat met die proses bereik wil word, is om die profetiese taak wat aan die leierskorps (met inbegrip van kerkrade) toevertrou is, te balanseer met die inset van lidmate.

Dit is ’n komplekse proses, en ons kry inderdaad soms mense wat die proses enersyds wil interpreteer asof die lidmate die laaste sê het en andersyds asof die leiers ál die seggenskap het. Nie een van dié standpunte is binne ’n gereformeerde tradisie korrek nie.

“Julle mislei die mense.”

Die sinode se posisie is duidelik. Ons wil graag hê dat die Belydenis van Belhar aanvaar word omdat ons oortuig is dat dit Skrifgetrou is en dit die ander belydenisskrifte uitstekend aanvul rakende die uitdagings wat ons land en wêreld tans in die gesig staar.

Ons stel voor dat dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk moet wees, maar sal niemand verguis of wegjaag wat dit nie wil aanvaar nie. Ons meen daar is niks onduidelik of oneerlik aan die standpunt nie.

“Hoe kan ons stem oor iets wat in elk geval opsioneel is?”

Dit is nie opsioneel nie. Die voorstel is dat Belhar, soos reeds gesê, deel word van die belydenisgrondslag van die kerk, maar op ’n manier wat die eenheid van die kerk ten beste wil bewaar.

Ons sê nie die formulering van artikel 1 is perfek nie. Ons glo egter dat dit nóú die beste manier is om die saak op ’n verantwoordelike manier te hanteer.

“Julle gaan binnekort die ander belydenisse ook opsioneel maak.”

In geeneen van die vergaderings waarin ons in soveel jare oor Belhar was, is hierdie moontlikheid genoem, voorgestel of selfs net gesuggereer nie. Mense wat dít nou beweer, skep vals persepsies. Waaroor ons wel ernstig dink, is watter rol belydenisskrifte vandag in ons lewe as ’n belydende kerk behoort te speel. Hieroor behoort ons in hierdie dae ernstig met mekaar te bly praat.

Ten slotte moet ons dalk vra: Maak die vaskyk in die ontstaansgeskiedenis van Belhar nie dalk dat ons blind geword het vir dít wat die Belydenis van Belhar vandag vir ons kan beteken nie? Luister net na enkele woorde uit die Belydenis en dink na oor Suid-Afrika in 2014:

“Ons glo . . . dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid, sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom . . . Jesus Christus is die Heer.”

Ons vra mooi dat almal die proses biddend, in liefde en met wedersydse respek sal hanteer.

■ Dr. Hanekom is die moderator van die NG sinode van Wes- en Suid-Kaapland.

Waaroor word gestem?

 Die Belydenis van Belhar is in 1986 deur die NG Sendingkerk aanvaar nadat ’n konsepbelydenis in 1982 aan die sinode voorgelê is.

 Dit is bekend dat prof. Dirkie Smit die grootste aandeel in die finale skryf van die belydenis gehad het.

 Die belydenis het ontstaan in ’n konteks van “geskeidenheid” en “aparte kerkvorming” en wou onder meer wys op die onaanvaarbaarheid van onversoendheid, verskeurdheid en onreg.

 Die sinode van Wes- en Suid-Kaapland het in 2011 met ’n oorweldigende meerderheid besluit om die algemene sinode te versoek om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te maak.

 Die algemene sinode van 2011 het hierdie versoek ontvang en besluit dat hy die versoek ondersteun en het toe begin om ’n korrekte kerkordelike proses vir aanvaarding aan die gang te sit.

 Die algemene sinode van 2013 het besluit op die veranderde formulering van die Kerkorde se artikel 1, sodat dit voorstel dat die Belydenis van Belhar op ’n spesifieke wyse deel van die belydenisgrondslag van die kerk word.

 Dit is oor hierdie wysiging van die Kerkorde dat tans gestem word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.