Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Vir my was jy nog altyd net lig en liefde’
Die verhouding tussen die skrywer André P. Brink en die digter Ingrid Jonker is sekerlik die bekendste liefdesverhouding in die Afrikaanse literêre geskiedenis. Die boek Vlam in die sneeu met hul meer as 200 briewe aan mekaar word in November uitgegee.
Ingrid Jonker

Die twee se verhouding het van 1963 tot 1965 geduur. Jonker se laaste brief is gedateer 18 April 1965 – drie maande voordat sy haar lewe geneem het deur in die see by Drieankerbaai te loop.

Brink het die briewe in Desember verlede jaar, drie maande voor sy dood, vir publikasie aangebied. Dit is nog nooit voorheen gepubliseer nie.

Hieronder is uittreksels uit van die briewe.

(Jack Cope was ’n Engelse digter met wie Jonker tegelykertyd ’n verhouding gehad het.)


Grahamstad

Donderdag 29 Augustus 1963

Liefling-Kokon:

Baie groot dankie vir die brief en vir gisteraand se gesprek, en vir jou sagte laggie wat maak dat ek jou nét daar lewendig kan verorber. Dankie dat jy weer bly is. En tog: in die gesprek én in jou brief skuil daar ’n soort wanhoop. Jy sê Jack [Cope] dink my liefde is destruktief omdat ek jou nood nie in ag neem as ek terugkom nie; en jy skryf: “Al kom jy maar vir ’n ‘gesteelde’ of ‘ondergrondse’ paar uur, is daar gevolge. En ons sal baie duidelik na die een kant toe of die ander kant toe moet besluit.”

Ek moet tot helderheid probeer kom – dis ’n proses wat in al ons laaste briewe amper meedoënloos aan die gang is. Ek wil niks rasionaliseer nie, maar ek wil probeer nugter wees – met die gedagte dat mev. [Juliana] Bouws se “moet niks forseer nie” eintlik die heel suiwerste houding van almal is. Ek wil verduidelik dat daar nie in my laaste twee briewe ’n teenstrydigheid is nie.

Vir my is daar twee belangrike aspekte: ten eerste, dat ons in volle verantwoordelikheid besluit het dat ons nóú, in óns omstandighede, nie kan voortgaan met ’n verhouding wat gerig is op ’n huwelik nie.

André P. Brink

En die tweede is nou moet ons besluit of ons met kontak mag voortgaan, of, glad nie. Mý oortuiging het ek jou al geskryf: dit lyk vir my sinloos, én veroorsaak onnodige lyding, om alles af te breek terwyl ons binne die beperkte sirkeltjie wat daar vir ons oorbly, tog die kans het om so baie vir mekaar te gee en te wees. Máár: as die futiliteit alles oorheers, as ons gefrustreerde liefde wedersyds vir mekaar giftig word (“Jy was soveel gif in my / soos ek gif was in jou”) – soos Jack dink dit is – dan mag ons nie daarmee voortgaan nie.

En uit dié situasie het dan my oortuiging gekom: uit die bietjie wat ons het, kan ons veel kweek wat baie kosbaar is en wat onontbeerlik kan word. Maar dan moet ons konsentreer op die positiewe.

Die vraag is: waar pas die moontlike Septemberkuier in? Dis nie ’n “terugkom” in die sin van ’n hervat van alles nie – dít sou destruktief wees; dis dus geen “kansellering” van ons besluit (soos wat juis Jack ’n week na sy “onherroeplike” besluit al weer by jou terug was nie!). Vir my is dit eenvoudig die gebruik van ’n wonderlike en toevallige kans om weer bymekaar te kom, te wees, soos ons mekaar nodig het – sónder om dit aan ’n toekoms te verbind.

Of is dit ’n illusie? Is die “gevolge” waarvan jy praat vir jou veral só bedreigend dat dit onwys en selfs verkeerd sou wees om te kom? Dit kan net jy besluit. Ek self sien kans om die gevolge vir mý lewe te hanteer. Maar ek sou onvergeeflik selfsugtig wees as ek my liefde vir jou toelaat om jou posisie verder netelig te maak.

Liefling, liefling, ek weet jy sal weer sê dit klink alles so verskriklik nugter. Maar ons moet met basiese gegewens werk. Want die vraag is eintlik heel eenvoudig: sien jy ons kans, is dit vir ons kosbaar en nodig genoeg, om só voort te gaan al het ons geen sekerheid vir ’n toekoms nie? My eie antwoord is ja; dis vir my ’n onontbeerlikheid. Dis al kosbare ding wat in my lewe nog oorgebly het – daarbuite om is alles afgebreek.

Maar dit sal alles vir my niks beteken nie as ek weet dat dit vir jou net verwarring en duisternis besorg. As dit jou posisie daar al meer onhoudbaar maak – hoe kan ek dan gelukkig wees?

Ek wil so graag vir die proewe kom. Maar dan moet ek wéét dit gaan nie net lei tot ’n nuwe breuk met Jack en Uys [Krige] en almal nie. Daarom sal Jack moet wéét wat die aard van ons skeiding is, dat dit nooit bedoel was dat ons “afsien” van mekaar nie, maar dat ons vir mekaar dít beteken dat ons in aanraking wíl bly, en die kosbare oomblikke saam wíl geniet wat daar aan ons gegun mag word.

Skryf vir my van die verwikkelinge met die verdomde Veiligheidspeurder as hy weer sou kom.

Ek stuur vir jou ’n klein bietjie geld; laat weet as jy nog moet hê.

Met al my liefde,

André.

{Het uitgevind Aug. het 31 dae.}

Castella. [Losieshuis waarin Jonker gewoon het.]

31 Augustus.

1 September Lentedag

My liefste André

Dankie vir jou brief wat net nou so skattig in my deur gesteek het toe ek tuiskom belaai met pakkies, dis baie sonnig op straat en gemaak vir daardie dag in die veld of die duine. As die wit volksie hier was, sou ons kon uitry na Stellenbosch of Paarl, of Houtbaai?

Die omslag van Vlam in die Sneeu.

Het jy my mismoedige brief van Donderdag gekry? Jou brief van vanoggend is baie duidelik en ek verstaan volkome hoe jy voel, my skatkind. En tog . . .

Ek het jou oor die telefoon en in my brief vertel van Jack ­[Cope] se besoek, en wat ek aan hom gesê het, dat jy my wil kom sien, en sy reaksie. Sedertdien het ek hom nie weer gesien nie, en toe ek gister vriendskaplik bel, vra hy: “How are the matrimonial plans going?” Dis ook gevolg. En die gevolge word al meer en meer, en die gevolge in ons sodat jy later miskien hoegenaamd niks daar op Grahamstad sal kan red nie. As dit vir ons albei net ’n avontuur was (want dis óók ’n avontuur) sou alles natuurlik minder ingewikkeld gewees het. Maar ik zal bij jouw [je] blijven. Omdat ek moet en omdat ek wil en omdat dit nie anders kan nie en omdat jy my kosbare ontdekte skat is en omdat jy my liefhet. “The moment you are influenced you are corrupt[ed].” Dis wat Tolstoi sê, en dáárom waak ek soos ’n leeu oor haar kleintjies, oor jou in my. En daarom miskien spot Jan [Rabie] my gisteraand, “Liewe hemel, Ingrid, as ek André Brink se naam noem, verander jou uitdrukking!”

Liewe skat, ons moet regtig meer lag, ook oor hierdie chaos wat ons in die literêre sirkels gestig het, want dit ís eintlik snaaks in sekere opsigte.

Kom in September. Miskien is jou voorstel tóg net ’n manier van lewe, ’n kuns, dan gaan ons weg, sonder dat iemand daarvan weet, en kom terug met geheime geheime. En miskien is dit ’n uitdaging. My hele natuur (en joune ook) druis in téén geheimhouding, omdat ons moet deel en omdat ons moedswillig is – maar miskien kán dit tog as dit moet.

Ek wil jou sien. Het nou die hele nag van jou gedroom, en van L. Ons was êrens op ’n wonderlike strand saam, en wou bymekaar probeer kom, maar ons was byna vyandiggesind teenoor mekaar. Dit was aaklig! En in die werklikheid het ek nog nooit éénmaal gevoel: Jy was soveel gif in my etc nie. Vir my was jy nog altyd net lig en liefde, ten spyte van alles. Ek wil nie hê jy moet my verkeerd verstaan in die opsig nie. Jy het my tog eintlik “terug gegee aan die lewe”, (onthou jy die eerste naweek?)

Onthou jy daardie brandewyn-middag in die Clifton? Ag, onthou jy alles? Ek is so lief vir jou. En ek het jou so verskriklik nodig, té nodig. Nou gaan ek my mooimaak en bruinbrand vir September.

Liefling.

Baie dankie vir tjek vir Kasteel en vir telegram vanmiddag.

Kokon.

NS Weer my André, die skrale kansie op ons moesiekind is vandag buite die kwessie –

Tydelik.

IJonker.

Uittreksel van ’n brief van André aan Ingrid.

Die lyf onthou beter as die geheue . . .

Ingrid wens André in ’n telegram geluk met sy boek Orgie.

(Grahamstad)

21 April 1963

Heerlike klein mens,

Ek het eintlik ’n paar neutrale “in transit”-dae nodig gehad tussen die Kaap en terug-wees, net om die oorgang geleideliker te maak. Ná die week – en veral die drie dae – van verandering, moet ek nou met heelwat renons die óú bedreiging van die vaste, “veilige”, burgerlike bestaan van vooraf belewe. Respectability. Die voorafbepaalde reaksie op die voorafbepaalde prikkel. Daar’s mense vir wie so ’n bestaan nooit ’n bedreiging is nie omdat hulle in hulleself te vry is om vasgekeer te kán word; maar ek moet my voortdurend verset juis omdat dit so maklik sou wees om maar dié opium te neem. Die Kaapse week, jý, het darem ’n teë­middel gegee. Moet ek beleefd daarvoor “dankie” sê? Dit sou dit alledaags maak. Veral “ons” nag. Wat [T.S.] Eliot gesê het – “poetry can communicate before it is understood” – kan in sekere sin ook vir mense geld wat só, vry, deur seks bymekaar uitkom. Dis juis ’n kommunikasie wat goddank anderkant die woorde bly. Want waaruit sou my klein inventaris (veral in dié nugter daglig) kan bestaan?: ’n geur, herinneringe aan hande, hare en borste, stem, trane, sinisme, spel, rooiwyn; twee dubbele brandewyne; oë: wat spot, wat nee sê, wat vloek, wat minag, wat speel, wat ja sê, wat soet en bly is, of de-moer-in en bedonnerd . . . ! Só kom mens nêrens uit nie. Maar gelukkig is dié dinge net beginpunte; is herinnerings en liggame net ­titels van lang gedigte; en is ons “bymekaar slaap” ’n soort Mis-hou waarin die transsubstansiasie volkome is. (Is dít dalk ons “ongelowiges” se suiwerste religie? Waarom sou jy anders juis dán Here-God sê? – Giuseppe di Lampedusa se mooiste meisiekarakter sê dan: “Gésumaria!”)

Kan ’n liggaam self onthou? Ja. Ek dink dis ’n beter onthou as die onbetroubare “geheue”. Myne onthou joune. En dis nie vanweë die paar strategiese pyntjies of ’n merkie aan my skouer nie. Ook nie – hoop ek! – omdat ek maar “deel uitmaak van jou verdriet” nie: dis meer positief. Die liggaam se onthou, teenoor die brein s’n, is soos beeldspraak ­tussen nugter woorde.

’n UIttreksel uit brief van Ingrid aan André.

Tot tyd en wyl ek weer by jou kom, moet ek my tevrede hou met jou manuskrip. Gelukkig is daar ’n onverwagte vooruitsig dat dié terugkeer gouer sal wees as wat ek gemeen het.

Intussen is my grootste werk – en hoofbrekens – nou die tik van Die ambassadeur/Die ongedurige kind. Ek wil die ding nou klaarkry – as daar nie so baie veranderings met die oortik gemaak moes word nie, het ek jou as professionele tikster gehuur. Nou snork ek maar self op – en jy bars as jy moan oor foute. Ek wil hê jy moet kennis maak met Gillian en Nicolette. (Gelukkig weet ek jy sal nie doekies omdraai nie!) Daar kom darem ’n fragmentjie in die tweede 60. Maar wanneer kom dié? Bartho [Smit] het juis in sy jongste brief taamlik huiwerig geklink oor die finansiële vooruitsigte. Hy kom oor ’n paar dae hier aan; dan sal ek eerstehands meer uitvind.

Ek het Rob [Antonissen] vanoggend gesien, en sonder dat ek daarna gevra het, het hy verwys na jou gedigte in 60 (wat hy blykbaar nou eers gelees het). Hy voel “baie opgenome” daaroor. Jy’t gesê jy steur jou nie aan kritici nie, maar dalk bring dit tog ’n kolletjie warmte. Jy het genoeg winterse dinge beleef. Ek weet ons staan vry teenoor mekaar, bind mekaar aan niks, verbind mekaar tot niks: maar ek wens ek kon by jou wees; en help. Nie net om ’n woonplek te kry en al die peuterighede van ­elke dag te deel nie; maar – dalk – om te help “om van alleenwees langsaam te genees”.

Moenie – Here, Ingrid – in Jan [Rabie] se huis doen wat jy wou doen nie. Daar is geen redelike gronde waarop ek jou kan – of wil – oortuig nie. Dalk dring ek daarop aan uit suiwer selfsugtige oorwegings. Maar moenie. Jy moet nog dinge maak soos “Begin somer”, “Dood van ’n maagd”, “Bitterbessie dagbreek”, “Art poétique”, [“L’art poetique”] die reeks “Intieme gesprekkies”; en ons moet saam weer maak wat nie in Afrikaans “gemaak” kan word nie: liefde.

Die son roep my uit (dis hier al behoorlik winter); ek wil in die tuin gaan sit en [Paul] Éluard en Jonker lees. Skryf, Ingrid. En laat my doen net wat ek moontlik kan om te help. Waarmee ook al.

Sê groete vir Chris [Lombard], en sê vir hom weer dankie. En skryf – vir ons – ’n gedig oor: “Die herinnering aan ’n aand is ’n appel”; en verbind dit met Adam-en-Eva se appel; en eet die appel aan die einde; en vra dan: En nou? Jy sal weet hoe. Ek is nie ’n digter nie.

Met liefde, André.

’n Jong André P. Brink in die vroeë 1960’s.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.