Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SOMME VAN VERTEENWOORDIGING WERK NIE UIT NIE
Waar is die bruin mense se stem?
Die Afrikaanse gemeenskap moet deeglik besin oor hoe hy gaan seker maak dat hy altyd in sy volle verskeidenheid verteenwoordig word wanneer Afrikaans-sprekendes bymekaarkom, skryf Wannie Carstens.

Die Beeld- joernalis Carryn-Ann Nel se artikel “Hoekom is net wit Afrikaanses hier?” in April het heelwat reaksie ontlok. Dit is goed so, want dit is ’n vraag waaroor indringend in die Afrikaanse gemeenskap besin moet word. Want Nel is heeltemal reg: Te dikwels bestaan ’n byeenkoms van Afrikaanssprekendes net uit wit mense.

Ons sal die demografie van Afrikaans in ag moet begin neem as ons Afrikaanse aktiwiteite reël, as ons Afrikaanse verteenwoordiging op plekke het, as met die Afrikaanse gemeenskap in gesprek getree word – wat ons ook al in Afrikaans doen. So dikwels skitter die grootste groep moedertaalsprekers van Afrikaans in hul afwesigheid by sulke geleenthede. Dit kan tog nie!

As ’n mens kyk na die demografie (samestelling) van die Afrikaanse gemeenskap (huistaal) van 6,8 miljoen mense is die Afrikaanse gemeenskap nie net wit nie. Net 2,7 miljoen is wit, 3,4 miljoen bruin, 602 100 swart en 58 700 van die Indiër-gemeenskap. Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie. Hiervan is meer as 50% van die totale Afrikaanse huistaalsprekers bruin.

Waarom dan die wit verteenwoordiging van Afrikaans op so baie plekke? Op soveel plekke waar Afrikaanse mense bymekaarkom om te praat oor Afrikaanse sake is die gehoor meestal oorwegend wit, soos in Junie vanjaar by ’n byeenkoms waar die ANC met die Afrikaanse gemeenskap wou praat. Van die bykans 50 aanwesiges was daar nie meer as agt mense uit die bruin gemeenskap nie. Dan werk die somme mos nie lekker uit nie. Dit gebeur ook op talle ander plekke.

As ons na Afrikaanse feeste in die land gaan, is die oorgrote meerderheid van die aanwesiges wit Afrikaanssprekendes. Dit is asof die bruin Afrikaanse gemeenskap gepaai moet word met die Suidoosterfees in die Kaap en gedeeltelik met die KKNK. Hiermee word die bruin verteenwoordiging eintlik gelokaliseer in die Wes- en die Suid-Kaap. Maar wat van die ander feeste? Aardklop, Innibos, die Vrystaat Kunstefees (voorheen die Vryfees) en ander.

Dan word Afrikaans nie in sy volle verskeidenheid verteenwoordig nie.

Dan word die bruin gemeenskap se stem nie gehoor nie.

Want die grootste groep van die bruin gemeenskap wil ook Afrikaans wees, wil hul lewe in Afrikaans leef, wil hul kinders in Afrikaans laat leer (op skool en op universiteit), wil in Afrikaans aanbid, wil in Afrikaans werk, wil in Afrikaans op verhoë en in teaters deelneem – wil dus volledig Afrikaans wees daar waar dit saak maak.

Dan word die bruin gemeenskap se stem nie gehoor nie.

Vir die bruin gemeenskap is Afrikaans ook van belang, die behoud van Afrikaans as skooltaal en as universiteitsonderrigtaal is net so belangrik vir bruin Afrikaanssprekendes as wat dit vir wit Afrikaanssprekendes is. Baie skole wat oorwegend bruin leerlinge het, vaar net so goed as skole met wit leerlinge. Daar is ’n groot persentasie funksionele bruin Afrikaanse skole wat jaarliks, selfs daagliks, ’n bydrae lewer tot akademiese prestasie in Afrikaans, maar wat geen erkenning daarvoor ontvang nie.

As daar gepraat word oor beurse vir Afrikaans of vir Afrikaanssprekende studente, word meestal net wit studente in ag geneem. Maar wat van die bruin gemeenskap se behoefte aan beurse, aan geld om te kan studeer? Wat hierdie beurse wil gebruik om te studeer ten einde uit die siklus van armoede en wanhoop in ’n gemeenskap geteister deur bendes en daaglikse geweld te probeer kom. Wat van hul lewe iets beters wil maak as om te verval in ’n patroon van armoede en gebrekkige geleenthede.

Soos vir wit ouers wat hul kinders wil laat leer, is onderwysgeleenthede vir bruin ouers ook duur. Om ’n leerling van die platteland universiteit toe te stuur, is ’n groot geldelike uitgawe. Danksy beurse en geldelike steun van instellings, soos die ATKV, Fedsas, die Rapport-Onderwysfonds en die SAOU kan baie Afrikaanssprekende kinders verder gaan leer – dit geld vir wit en bruin. Maar die nood is besonder groot in die bruin gemeenskap.

Die bruin gemeenskap is die gemeenskap met die laagste deelnamekoers aan tersiêre onderrig, maar omdat hulle Afrikaanssprekend is, word hulle verder benadeel deur die departement van onderwys se Funsha Luzaka-beursskema, wat Afrikaans as ’n voorheen bevoordeelde taal beskou en sprekers van hierdie taal kom dus nie in aanmerking daarvoor nie.

En in die woonbuurte waar bruin mense steeds woon, benodig hierdie gemeenskap tekens van hoop – soos geleenthede om te kan deelneem aan die voorregte van die nuwe Suid-Afrika, soos beter opleiding en beter werkmoontlikhede.

Prof. Wannie Carstens

Maar wat van die bruin gemeenskap wat ook deel van die vroeër gemarginaliseerde gemeenskap was, maar wat hul hele lewe in Afrikaans lewe? Vir wie Engels ’n vreemde taal is. En in Afrikaans wil studeer. Maar hulle kan ook nie van hierdie beurse kry nie omdat hul moedertaal toevallig Afrikaans is.

Op Genadendal en Elim en Mitchells Plain en Atlantis en Eersterust is daar min geleenthede vir bruin kinders om te gaan studeer. Tydens ’n besoek aan Genadendal het die ouers gesmeek: Gee ons kinders hoop, laat hulle in hul eie taal leer. Help hulle om uit te styg. Enkele gelukkiges kom tereg op Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Maar wat van die res? Die kampus wat vir die bruin gemeenskap die gerieflikste is, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het volledig Engels geword. Is ’n omgekeerde proses nie hier nodig nie? Dat die UWK weer primêr voorsiening maak vir Afrikaanssprekendes?

Wat kan ons doen om dié patroon te verander? Wat kan ons doen om seker te maak die Afrikaanse gemeenskap word altyd in sy volle verskeidenheid verteenwoordig daar waar Afrikaanssprekendes bymekaarkom? Dit is ’n vraag waaroor in die belang van Afrikaans deeglik besin moet word.

In ’n onlangse brief op www. praag.co.za is ek daarvan beskuldig dat ek die “bruin stem in Afrikaans ingebring het”. Dankie vir hierdie kompliment! Dit beteken ek help op my manier om regstelling in die Afrikaanse gemeenskap mee te bring en dat ek sukses behaal. Dit is egter nie genoeg nie.

Ander moet ook saamwerk om dit te laat slaag. Daar is werk wat op ons wag.

 Prof. Carstens is direkteur van die Skool vir Tale aan die NWU se Potchefstroom-kampus en oudvoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.