Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
#FeesMustFall
Waar’s die Boere?
Afrikaanse wit studente moet sáám met swart studente die strate invaar, skryf Heinrich Bohmke.
Dit was studente teen polisielede by die protesoptog na die parlement. Foto: Luigi Bennet

Gedurende die protesaksie van studente teen die voorgestelde verhoging van studiegelde sien ek ’n plakkaat wat 1976 in herinnering roep: “We’re not looking for a new struggle, we are finishing what started in ’76.”

Die oproer in 1976 het begin as verset teen Afrikaans as onderrigmedium in swart skole, maar geëindig as veel meer. Ná ’n dekade van relatiewe stilte het die studente uiteindelik die sweep gevind waarmee hulle die regering van die dag kon pakgee. Hulle kon nie meer wag op die vryheidsvegters nie, wat in kampe ver van hulle af gesit het. Hulle het geweet bevryding kom nie deur ander nie, maar deur hulself.

Daar was egter nog ’n datum, amper ewe belangrik as 1976, wat by my opgekom het. Dié keer was dit wit mense wat die spreekwoordelike pot geroer het. In 1992 het die wit bevolking in ’n referendum ja gestem vir grootskaalse hervorming, wat uiteindelik sou lei tot die geboorte van ons demokrasie.

Ook hier het jong mense ’n bepalende rol gespeel. Die “Voëlvrygenerasie” van destyds was immers baie meer bereid om die ooms met die snaakse hoede te bevraagteken en ten gunste van ’n nuwe toekoms te stem.

Vandag loop die afstammelinge van sowel die 1976- as die 1992-generasie sáám klas. En so seker as die dans wat die son en die maan in die oggend doen as hulle op die horison skofte ruil, is die politieke landskap om ons weer aan die verander.

Ons land se vervaardigingsektor het reeds sy laaste asem uitgeblaas, die res volg teen ’n spoed. Ons ekonomie lê aan skerwe.

Korrupsie vier hoogty en word aangehits deur onbevoegde leiers wat skaamteloos die koekblik plunder. Dit ten aanskoue van ’n volk wat daagliks op die mespunt van eeue-oue verdeeldheid dans en wat met die kleinste hupstoot tot die afgrond kan daal. Verandering is noodsaaklik, dringend.

Wat ons die afgelope week gesien het, is nog grootliks die afstammelinge van die kinders van 1976 wat besig is om hulle ding te doen. Wat ’n blye dag sal dit wees as die kinders van 1992 ook op hul eie manier ten volle betrokke raak.

Hierdie is nie ’n melodramatiese oproep vir ’n simunye-oomblik nie, ook nie vir ’n ewige alliansie tussen die twee nie.

Wees net jouself. Ignoreer die linkse hipsters wat dink die hele ding gaan nuwe lewe blaas in hul vervalle fantasieë van kommunisme.

Tog: Sekerlik is die jong geleerdes van Tukkies, Maties en Pukke volwasse genoeg om te sien dat hierdie ’n geregverdigde geveg is en een waarby hulle betrokke moet raak. Dit kan tog nie reg wees om te sien hoe ’n jong meisie se drome voor haar oë verkrummel net omdat haar ouers nie die hoë koste van haar studies kan dek nie.

Dis ’n kwessie wat almal raak. Families in die laer range van die middelklas moet deesdae twee keer dink voordat hulle hul A-kandidaat-kind universiteit toe stuur. Elke jaar word ’n magdom van potensiaal die hek gewys omdat universiteitsgelde onbekostigbaar is.

Tot drie keer die gewone man se maandelikse salaris word gevra. Wie kan dit bekostig? Studente betoog ook vir verligting vir hul ouers – ouers wat nie hul aftrede kan bekostig nie omdat Jannie se BCom hulle noop om hul moeë hande verder tot die been te werk. En as sy sussie ook besluit om dieselfde rigting in te slaan, staar ’n onmoontlike besluit hulle in die gesig.

Die ryker studente mag miskien dink hulle word nie geraak nie, maar dit raak wel iemand wat hulle ken. Wat beteken dat dieselfde vraag ook plat voor húlle deure kom lê. Om deel te wees van die protes is om op te staan vir jou vriend wat deur magte groter as hy geboelie word.

Die boelie is die rektor, die administrateur van ’n stelsel wat minderbevoorregtes uitspoeg en wegskop. En die boelie word op sy beurt geboelie deur ’n regering wat versuim om geld vir hoër onderwys beskikbaar te maak.

Ons land se toekoms hang van hierdie klomp studente af en enigiets wat hul opwaartse vordering in die lewe bedreig, moet met alle mag teengestaan word.

Waar sal die geld vandaan kom om al hierdie studente te finansier, word gevra?

Die antwoord is maklik. Die regering sal dit êrens vind.

Wat daarvan om minder geld te bestee aan die Guptas se ontbytkonferensies op televisie?

Of miskien kan hulle die president se helikopterreise na sy vesting in Nkandla ’n bietjie inperk?

Of waarom kanselleer hulle nie die bou van ’n duur kernkragsentrale nie?

As dít nie werk nie, kan die regering dalk iets doen om groot maatskappye te dwing om hul belasting te betaal. Want nog onlangs het koerante berig oor ’n selfoonoperateur en een van die mynreuse wat geld onwettig uit die land neem deur sustermaatskappye. Miljarde rande wat gebruik kon word om die studentevraagstuk aan te spreek.

Ondanks die feit dat hierdie ’n kwessie is wat álmal raak, sit sommige Afrikanerjongelinge ongelukkig steeds op die kantlyn, dikbek en gefrustreerd.

Maar dink net watter hartkloppings Blade Nzimande sal hê as julle ook opstaan en jul plakkate omhoog swaai saam met jul medestudente. Ons land is gewoond aan toi-toi – kom spring in, julle sal dit baie meer verfrissend vind as om te sit en kyk.

Dit is sommer ook ’n geleentheid om die woorde van jul geliefde “De la Rey” nuwe lewe te gee, “ ’n handjie van ons teen ’n hele groot mag”.

Sien die ANC en sy uitlander-bedmaats aan as die Kakies en staan en val soos een man saam met jou studentebroers en -susters.

Daar sal nie van jou verwag word om ’n bohaai te maak as jy nie lus het nie. Wees net jouself. Ignoreer die linkse hipsters wat dink die hele ding gaan nuwe lewe blaas in hul vervalle fantasieë van kommunisme. Niemand verwag dat jy namens hulle moet praat nie. Of dat jy verskoning moet vra dat jy wit is nie. Ook nie dat jy polities korrek moet wees wanneer jy saam met hulle staan of sit of dans nie. Studente verlang net jou teenwoordigheid en die teenwoordigheid van ander wit studente. Vir hulle lê die slaankrag in getalle.

Baie dinge het oor die jare gelei en bygedra tot verdeling tussen die kinders van die kinders van 1976 en 1992.

Maar kom ons staan nou saam oor dit wat vir ons almal belangrik is. Want wanneer hierdie oorlog verby is en jy ook die soete vrugte van ’n gewonne stryd smaak, sal jy jou medestudente in die oë wil kyk as iemand wat daar was die dag toe daar op jou nommer gedruk is.

■ Heinrich Böhmke is ’n forensiese ondersoeker en was ’n studenteaktivis op Wits in die vroeë 1990’s.

Ons moet eerder vir iets anders baklei

Dit was studente teen polisielede by die protesoptog na die parlement. Foto: Luigi Bennet

Studente moet nie vir gratis onderrig baklei nie, maar eerder vir onderrig vry van staatsinmenging, skryf Martin van Staden.

In sy boek A Time Traveller’s Guide to our Next Ten Years skryf Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge dat Suid-Afrika aan ’n “krisis van stygende verwagtinge” ly.

Cronjé meen baie van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese ontwikkeling oor die afgelope 21 jaar het plaasgevind weens die herverdeling van rykdom deur die staat. Grootskaalse bemagtiging van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners deur die skep van rykdom en die uitbreiding van individuele verantwoordelikheid, het egter nie plaasgevind nie.

Cronjé is reg deur te sê dat dié stand van sake baie gevaarlik is.

Hoe beter die regering voldoen aan die verwagtinge van Suid-Afrikaners, hoe ­hoër sal die eise later word. Die regering misluk dus nie in die voorsiening van onderwys nie, maar hy kan slegs nie byhou met die “bewegende teiken” van sosio-ekonomiese eise nie.

Die studentebetogings wat tans oor die land heen plaasvind, is deel van dié glybaan. Soos baie sulke linksleunende bewegings, kyk hulle onwetend verby die bron van die klaarblyklike probleem. Die leiers van hierdie bewegings kritiseer aldag hul medestudente van dinge soos “wit bevoorregting” omdat dit glo nie vir húlle so moeilik gaan wees om die universiteitsgeld te betaal nie.

Hierdie postmodernistiese denkwyse, wat sy oorsprong in vroeë 20ste-eeuse kritiese teorieë het, beskou die bestaan van alle mense as relatief tot mekaar. Dus is dit nie vir hulle so erg dat arm studente nie die verhogings in klasgeld sal kan bekostig nie, maar dat die meer welvarende studente wél sal kan.

Dié denkwyse lê ook nie klem op feitlike en logiese redenasie nie, maar fokus op narratiewe. Hulle sal byvoorbeeld sê al is van hul argumente nie volgens die reëls van die ekonomie waar of konsekwent nie, is dit belangrik dat ons steeds “daaroor praat”. Volgens hulle sit ’n groep wit kapitalistiese skelms agter die lot van arm studente en dat hierdie groep veral swart studente uit universiteite wil hou.

Dit is logies nie waar nie. Universiteite verhoog nie hul registrasie- en onderriggelde arbitrêr nie. Inderdaad, Suid-Afrikaanse universiteite soek júis arm studente om hul “transformasieprofiel” te pas.

Suid-Afrika het in die vroeë 1990’s op alle vlakke ’n totale transformasie (nie slegs reformasie nie) ondergaan, maar daar is steeds ’n korrelasie tussen arm wees en swart wees.

Tog kry meer swart as wit studente elke jaar hul grade in Suid-Afrika. Inderdaad, in 2013 was daar 662 123 swart mense aan Suid-Afrikaanse universiteite ingeskryf teenoor slegs 172 654 wit mense. Ja, dit is duidelik nie proporsioneel tot die grootte van die bevolking nie, maar die argument dat swart mense uitgesluit word, is onsinnig.

Blade Nzimande. Foto’s: Jaco Marais
Dit was studente teen polisielede by die protesoptog na die parlement.

Maar wat is die bron van die probleem dan – as daar wel ’n probleem is?

Dit is die swaar hand van die staat, veral dié van ons kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande. Dit veroorsaak regstreeks én onregstreeks die hoë koste van hoër onderwys en die wrok wat voortdurend gesaai word tussen wit en swart, arm en ryk, en nou ook tussen gegra­dueerd en nie-gegradueerd.

In die vorige eeu het die regering universiteite gebruik om sy duur sosiale eksperiment van apartheid te vestig.

Deesdae het ons te doen met die volgende sosiale eksperiment van transformasie. Om transformasie te bewerkstellig het die staat geen keuse as om intiem betrokke te wees op universiteitskampusse nie.

Private universiteite sal nie toegelaat word om te floreer nie want – soos in die geval van Akademia, Solidariteit se nuwe private universiteit – is hulle nie altyd bereidwillig om die staat se program van sosiale manipulasie in werking te stel nie.

Die oplossing lê egter by hierdie private universiteite. Daar is al getoon dat markmededinging werk, asook groeiende kapasiteit en die noue verhouding tussen die universiteit en sy kliënte (sonder die middelman-regering).

Die idee van gratis hoër onderwys is ewe dwaas. Die buitelandse voorbeelde van gratis onderwys soos in Duitsland en Finland wat die betogers noem, het byna altyd ’n ryk kapitalistiese geskiedenis wat voorsiening maak vir die staatsbesteding wat toegewy word aan gratis onderwys.

Dit beteken Suid-Afrika moet eers beduidende ekonomiese groei en ontwikkeling ervaar.

Die sosialistiese droom van gratis onderwys sal nie werk nie.

As ons, as ’n land, regtig van die erflating van apartheid en sosiale manipulasie wil wegbeweeg, moet ons “vrye” onderwys kies, eerder as gratis onderwys.

Dit is onderwys wat nie deur die oorwegings en eksperimente van die politieke klas beheer word nie, maar wat reageer op die vraag en begeertes van alledaagse individue.

Vir dié vrye onderwys sal die staat se rol drasties verminder moet word.

 Martin van Staden is ’n LLB-student in sy derde jaar aan die Universiteit van Pretoria en streekdirekteur van African Students for Liberty in Suider-Afrika.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.