Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat is ‘polities korrek’?
“Politieke korrektheid” het moontlik die vernaamste skelwoord geword waarmee regse Afrikaners deesdae hul opponente links van hulle toetakel. Watter sin kan van hierdie debat gemaak word? vra Anton van Niekerk.
Grafika24

Die begrip “politieke korrektheid” verwys na ’n soort geveinsdheid in spreke en optrede wat daarvan wegskram om vermeende onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat daarom, bloot ter wille van gedienstigheid aan aanvaarde sosiale konvensies, sake só voorstel dat die waarheid omtrent wat verkeerd loop in die samelewing, verdoesel word deur wat ons sê en soms ook doen.

Dit spruit na bewering voort uit sosiale druk en gedienstigheid. Dit kom neer op ’n selfopgelegde verbod om, deur wat ons sê, gevoelens seer te maak of stereotipes te bevorder.

So byvoorbeeld is dit in die akademiese diskoers oor gestremdheid soms polities inkorrek om van “blindes” en “dowes” te praat, en word begrippe soos “gesigs- en gehoorgestremdes” verkies; die begrippe “blindes” en “dowes” wek assosiasies van hulpelose en daarom, na bewering, minderwaardige samelewingsburgers. Maar dit is ook polities inkorrek om te beweer dat “plaasmoorde” (in die sin van ’n berekende, georganiseerde aanslag van swart mense op wit boere) in Suid-Afrika plaasvind, aangesien dit die stereotipes van swartes as barbaarse moordenaars en wittes as relatief welvarende en ekonomies produktiewe landsburgers bevorder, en die idee bestendig dat swart mense en wit mense nie in vrede in dieselfde land kan saamleef nie.

Is “politieke korrektheid” in die politieke diskoers van ’n land soos Suid-Afrika ooit geregverdig? Ek wil hierdie vraag in beginsel ontkennend beantwoord. Politieke korrektheid, soos hierbo omskryf, is nie geregverdig nie. Die vernaamste rede daarvoor is dat die idee van vryheid van spraak, wat die lewensbloed van ’n liberaal-demokratiese staat is, in stryd is daarmee. ’n Liberaal-demokratiese staat is myns insiens die beste soort staat om in te bly, al kan ’n mens toegee dat so ’n staat ook enkele kenmerke het wat nie ideaal is nie.

Vryheid van spraak en die gepaardgaande instelling van ’n vrye pers is regte waaraan ons liefs nooit moet torring nie, al bring die geïmpliseerde gebrek aan politieke korrektheid wat daarmee gepaard gaan, mee dat op tone getrap en persoonlike en sosiale senuwees geïrriteer word.

Die keuse téén politieke korrektheid is terselfdertyd ’n keuse daarvóór om die waarheid te praat, eerder as om korrek te probeer wees. Die keuse vir “waarheid” eerder as “korrektheid” is egter nie filosofies oninteressant nie. Om waarheid bo korrektheid te kies vereis egter ’n noukeurige analise van die begrip “waarheid”.

Die eerste ding wat omtrent die begrip “waarheid” verstaan moet word, is dat dit nie slegs ’n kennis-kategorie is nie. In ’n kennis-konteks staan waarheid teenoor “vergissing”; die waarheid kan in die gedrang kom omdat die spreker ’n feite-fout gemaak het wat reggestel kan word. Die begrip “waarheid” is egter ook ’n morele kategorie. Hier staan waarheid nie teenoor vergissing nie, maar teenoor ’n leuen. Om ’n leuen te vertel is moreel verkeerd, veral, soos Sartre aangetoon het, omdat wanneer jy ’n leuen vertel, jy inderwaarheid tog weet wat die waarheid is, maar dit “willens en wetens” weerhou van jou gespreksgenoot. ’n Leuen kan daarom nie reggestel word nie; ’n leuen moet vergewe word.

Waarheid, veral in ’n morele konteks, kan daarom nie altyd sonder meer gelyk gestel word met “die naakte feite” nie. Die waarheid funksioneer in ’n konteks wat nie altyd bloot “meegedeel” kan word nie, maar wat dikwels geïnterpreteer moet word. Tot die waarheid behoort naamlik die sin van feitelike gegewens, dit wil sê die belang of die waarde wat sulke gegewens het vir die mens wat lewensoriënterend daarmee gemoeid is.

Vergelyk byvoorbeeld die debat oor regstellende aksie in Suid-Afrika. Dit is so dat, as ons onsself bloot vasstaar teen “die naakte feite”, swart mense sonder die gepaste kwalifikasies en ervaring ten gunste van wit kandidate in poste aangestel of tot prestige-studierigtings soos geneeskunde aan universiteite toegelaat word. Dit is meermale ’n onverstandige en onregverdige praktyk wat nouliks goed te praat is, veral as dit blyk dat die ooreenkomstige werksprestasie of uitkomste van dié praktyk benede peil is.

Terselfdertyd kan ons ons egter nie eenvoudig blindstaar teen die “naakte feite” van wat tans waargeneem word in hierdie verband nie. Ons kan veral nie oor die onderliggende problematiek wat regstellende aksie in die oë van die oorgrote meerderheid van die bevolking ’n ononderhandelbare vereiste van die Suid-Afrikaanse samelewing maak, praat asof ons onlangse geskiedenis in Suid-Afrika weggewens kan word nie.

Ons geskiedenis is ’n verhaal van een van die die mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur wat die wêreld nog ooit gesien het. Terwyl wit mense in regse kringe fulmineer oor slim, wit jongmense wat deesdae nie meer so maklik toegang tot ’n studierigting soos geneeskunde kry nie, vergeet ons veels te vinnig dat swart mense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies.

Terwyl baie wit mense woedend is oor die voorkeur wat soms aan swart mense in die werkplek gegee word – al bly dit ’n feit dat die oorgrote meerderheid van bestuursposte in die ekonomie steeds deur wit mense beklee word, en al gaan dit tans met wit mense ekonomies beter as in enige stadium onder apartheid – vergeet ons veels te maklik al die dekades toe werkreservering die meeste gesogte poste in die ekonomie vir swart mense belet het.

Die diskoers wat ons uiteindelik in staat sal stel om ’n nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika te vorm, sal nie een wees waarin ons mekaar onophoudelik met die “naakte, brute feite” van die hede probeer toetakel nie.

My punt is dat “die waarheid” nie so eenvoudig is soos “die harde feite” nie. Neem grondhervorming as ’n verdere voorbeeld. Dit is so dat talle swart boere aan wie landbougrond verniet verskaf is, as ekonomiese landbouprodusente misluk het. Ons kan ook saamstem dat dit onverstandig is om landbougrond uit te deel aan mense wat nie genoeg opleiding en kennis van landbou het nie. Maar agter hierdie “kliniese feite” wat ons graag ophaal van agter die oogklappe wat ons slegs die hede laat raaksien, staan die beskuldigende horison van die geskiedenis toe swart mense slegs 13% van Suid-Afrika se grond kon besit – en daarvan baie min privaat kon besit.

Om “die waarheid te praat” is daarom nie ’n alte eenvoudige saak nie. Wat saak maak in die wyse waarop ons oor die Suid-Afrikaanse werklikheid praat, is nie bloot die resonansie van die “feite” nie, maar ook die geloofwaardigheid van sowel dit wat gesê word as van die spreker self – kortom, die waarheid van wat die geval is, nie slegs in ’n kennis-konteks nie, maar ook in ’n morele konteks.

Die diskoers wat ons uiteindelik in staat sal stel om ’n nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika te vorm, sal nie een wees waarin ons mekaar onophoudelik met die “naakte, brute feite” van die hede probeer toetakel nie. Daardie soort diskoers maak geen indruk nie en vererger die konflik net. Om die waarheid te praat, vereis ’n nuwe verstandhouding met mekaar waarin wat die geval is en kan wees, voortdurend geïnterpreteer moet word teen die agtergrond van ’n geskiedenis wat ons nie sal uitlos totdat ons geleer het om saam met mekaar sin daarvan te maak nie.

As ’n verstandige diskoers wat na ’n sodanige waarheid strewe, soms vir sekere mense na politieke korrektheid klink, is dit ’n prys wat ons bereid moet wees om daarvoor te betaal.

 Hierdie is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat in die jongste uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.

Prof. Van Niekerk is direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.