Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Aanstap, Rooies

Dit was dié week 70 jaar sedert Mao Zedong  die Volksrepubliek van China uitgeroep het. Van ’n brandarm land het China ontwikkel tot ’n supermoondheid wat Amerika se status uitdaag, skryf Leopold Scholtz.

Ballistiese ballet. ’n Chinese propagandaplakkaat van die 1970’s. Foto: Getty Images

‘Daar is geen krag wat die fondament van dié groot nasie kan aantas nie. Vandag staan ’n sosialistiese China vooraan in die wêreld. Geen krag kan die Chinese volk en die Chinese nasie keer om vooruit te kom nie.”

Dit was dié week die triomfantelike woorde van die Chinese staatshoof, pres. Xi Jinping, toe hy sy mense voor die Poort van die Hemelse Vrede op die Tiananmen-plein in Beijing toegespreek het. Sowat 15 000 soldate, 580 tenks, kanonne en ander militêre voertuie en 160 vliegtuie het die land se militêre krag trots geïllustreer.

Xi het op presies dieselfde plek gestaan waar Mao Zedong die Volksrepubliek van China sewe dekades gelede uitgeroep het. China het toe pas ontwaak van ’n 38 jaar lange burgeroorlog, wat in 1911 met die omverwerping van die keiserryk begin het. Die land het daarna uiteengeval soos talle krygshere mekaar aan die keel gegryp het.

Dis in die 1930’s en 1940’s vererger toe Japan China binnegeval en Mao se kommuniste ook nog in opstand gekom het. Teen die tyd dat Mao die oorwinning in 1949 afgekondig het, was die eens hoogs ontwikkelde China by wyse van spreke terug tot die Steentydperk gebombardeer.

Die Chinese bruto binnelandse produk het sedert 1960 van byna nul tot $13,4 duisend miljard gegroei.

Die Chinese Nasionaliste het na die eiland Taiwan uitgewyk, wat vandag nog in die praktyk as ’n onafhanklike staat optree. En toe het Mao ook nog deur verskeie rampspoedige binnelandse inisiatiewe tot 40 miljoen mense van honger laat sterf en miljoene ander in konsentrasiekampe opgesluit. Dit was eers ná sy dood in 1976 dat China heel, heel versigtig effens kon begin asemhaal.

In die jare hierna is die verstikkende kommunistiese ekonomiese stelsel stadig maar seker afgetakel en kon die natuurlike saketalent van die Chinese sy vrye loop neem. Wie vandag in Chinese stede soos Beijing, Sjanghai of Guangzhou rondloop, kan nie anders as om diep onder die indruk van die ongelooflike ekonomiese ontwikkeling te wees nie.

Dit word in die syfers weerspieël. Die Chinese bruto binnelandse produk het sedert 1960 van byna nul tot $13,4 duisend miljard gegroei. Die laaste jare het hy ’n groei van gemiddeld 6% per jaar gehandhaaf, vergeleke met die huidige Amerikaanse groeikoers van 2,3%.

China se ekonomie is tans naas dié van Amerika die grootste ter wêreld, en die gaping met Amerika krimp steeds. As dit so voortgaan, sal China se ekonomie – volgens die Standard Chartered Bank – teen aanstaande jaar groter wees as dié van Amerika. Omdat daar baie meer Chinese (byna 1,4 miljard) as Amerikaners (327 miljoen) is, is eersgenoemdes se per capita-inkomste ($10 153 per jaar) natuurlik nog ver agter dié van Amerika ($55 100).

Kinders in uniform voor ’n plakkaat van Mao Zedong in 1968.

Dié enorme ekonomiese ontwikkeling het politiek-militêre gevolge.

Toe die destydse Chinese regering in die 1990’s aggressiewe geluide oor Taiwan laat hoor het, het pres. Bill Clinton twee keer ’n Amerikaanse vliegdekskip-taakmag tussen Taiwan en die Chinese vasteland laat deurvaar om Beijing te waarsku. Vir die Chinese regering was dit ’n groot vernedering, en daar is begin met ’n program om die land se weermag ingrypend te moderniseer.

Dit het die uitbreiding van die Chinese vloot ingesluit, met dosyne hipermoderne fregatte en duikbote.

Bowendien het die Chinese supersnelle missiele ontwikkel om Amerikaanse vliegdekskepe ver weg in die oseaan te vernietig.

Dié groter ekonomiese en militêre spierkrag word ook in politieke opsig omgesit. China gebruik sy elmboë taamlik kragdadig om sy invloedsfeer in die Suid-Chinese See tot vlak voor die kuste van Viëtnam, die Filippyne, Maleisië, Indonesië en Broenei uit te brei en vlootbasisse op uitgebaggerde eilande te vestig.

Die land se ekonomiese tentakels strek nou al diep in Oos- en Sentraal-Asië en selfs in Afrika en Europa. Wanneer die dag kom, sal Beijing daarvan gebruik maak om die arm van die res van die wêreld tot sy eie voordeel te draai.

Reeds pres. Barack Obama het ingesien dat China vinnig besig is om Rusland se plek as grootste geostrategiese mededinger in te neem, en het dus ’n beleid aanvaar, bekend as die “Skarnier na Asië”, weg van Europa en die Midde-Ooste. Sy opvolger, Donald Trump, gaan ’n stap verder. Trump het willens en wetens ’n handelsoorlog met China begin, ondanks waarskuwings dat niémand ooit só ’n stryd wen nie. Dis nie dat China onskuldig is nie; inteendeel. Of ’n stomp wapen soos ’n handelsoorlog egter die aangewese weg is, is te betwyfel.

Nietemin, afgesien van wie in die Withuis woon, die internasionale momentum beweeg in die rigting van konfrontasie. Politieke wetenskaplikes praat van die “Thukydides-val” (Thukydides was ’n antieke Atheense historikus wat die Peloponnesiese Oorlog tussen Athene en Sparta, 431-404 v.C., noukeurig opgeteken het).

Die kern van die verhaal is dat een moondheid (Sparta), wat oppermagtig was, bedreig gevoel het deur die opkoms van ’n ander moondheid (Athene), en dat dit noodwendig op ’n oorlog moes uitloop. Uiteindelik het dit albei uitgeput gelaat en die weg vir nóg ’n moondheid, Macedonië, gebaan om oppermagtig te word.

Dié tema is ook met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 geïllustreer. Die vrees is dat dit opnuut met China en Amerika bewaarheid kan word.

Maar die geskiedenis is vol onverwagte wendings. China is ver van onoorwinlik; hy het kleivoete wat tans elke dag voor die oë van die wêreld ten toon gestel word.

Terwyl die soldate in Beijing fier voor Xi verby gemarsjeer het, terwyl Xi ’n trotse vuis aan die wêreld gewys het, het die rotte in Hongkong aan sy voete geknaag. Dis nou al maande lank dat tienduisende inwoners van dié gewese Britse kroonkolonie verbete straatgevegte met die polisie voer uit protes teen die manier waarop hul vryheid stelselmatig weggevreet word.

Toe Brittanje Hongkong in 1997 aan China teruggegee het, is dit gedoen met die verstandhouding dat die demokrasie in Hongkong nie aangetas sou word nie. Dit gebeur wel, weliswaar millimeter vir millimeter, maar die Hongkongers verdra dit nie.

Dis opvallend dat dieselfde soort opstande nie in die res van China voorkom nie. Die rede is waarskynlik dat die gewone Chinese – uitsonderings daargelaat – die demokrasie nie ken nie.

Die stelselmatige afskaffing van die kommunistiese stelsel het naamlik slegs op ekonomiese vlak gebeur. Die totalitêre diktatuur is gehandhaaf, en sedert Xi in 2013 die bewind oorgeneem het, is dit selfs verskerp.

In ’n sekere sin het China terug na die Konfusiaanse staatsfilosofie van die keiserryk beweeg. Dié stelsel bepaal (in teorie altans) dat die regering soos ’n vader streng leiding gee, maar wel regverdig en billik moet wees. Xi en sy onmiddellike voorgangers het groot ekonomiese vooruitgang en rykdom gebring, al is die verskil tussen ryk en arm plek-plek gevaarlik groot.

Die Hongkongers is gewoond aan vryheid en demokrasie: Twee wêrelddele bots teen mekaar.

Uiteindelik het ons hier met ’n teenstrydigheid te make. Enersyds met ’n land wat teen ’n verbysterende tempo groei en selfs die Amerikaanse oppermagtigheid gaan uitdaag; andersyds met ’n supermoondheid waarvan die fondamente wankelrig is.

Dis absoluut fassinerend.  

* Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

* Lees ook Sonja Loots se kritiek op China hier.

Meer oor:  Mao Zedong  |  China  |  Kommunisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.