Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Aardklop: Die begin, die hoogtepunte... die einde?
Martie Retief-Meiring

Einde 1997 kuier ’n klomp Noordelinge saam. Dis nuwe tye. Hulle dink aan die toekoms van Afrikaans.

Hulle dink (effens afgunstig) as ’n Afrikaanse fees op Oudtshoorn gehou word, waarom nie dieselfde doen in die Noorde nie?

As Afrikaans/kultuur genoem word, kom name en persone na vore; etes word gehou, skemerkelkies, en selfs gebraai, om te besluit hoe en waar vir so ’n Noorde-fees.

Oudtshoorn, waar Karen Meiring aan’t woel was met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, is deeglik ingelig, asook Moeder Naspers en met baie waarskuwings en huiwerige geldbeloftes staan Karen haar vennoot, Giep van Zyl, aan ons af. Bingo! Giep kom van Potch af en hoeka is Potchefstroom die feesplek wat ons samesweerders in gedagte het.

Tydens die eerste vergadering in Potch, met indrukwekkende belangstelling (Giep is besonder oorredend!) word die nuwe fees verwelkom met die steun van die plaaslike owerheid.

Neil van Heerden, gesiene voormalige diplomaat met ’n keurige kennis van die kunste, musiek, teater en selfs moderne pop, het daarop klem gelê dat die fees ’n vernuwende karakter moet hê. Maar ons moes ’n naam kry!

Giep gaan na die foendies. Hy bring voorbeelde terug.

Dit blyk dat ons grote direksie elkeen ’n kenner van handelsmerke is.

Uiteindelik en teen die onvergeetlike (maar enkele) verset van Otto Krause is die woord Aardklop bedink. Die ontwerp en die naam is deur niemand minder ontwerp en benaam as Iaan Bekker, dieselfde man wat die nuwe Suid Afrikaanse landswapen ontwerp het.

Die aarde daar rondom Potch klop mos soos daar gemyn word. Maar ons verkoopslagwoord is: KLOP-KLOP. WIE’S DAAR? AARDKLOP. AARDKLOP WIE ? ART KLOP RUGBY ENIGE DAG. (Ons het weggekom daarmee in ons heel eerste blad van die feesgids vir 24-27 September 1998. Daarna het ons dit maar gelos.)

Grootsus Klein Karoo Nasionale Kunstefees het kom help met kundigheid en opvoerings en onder leiding van Awie van Wyk van die Potchefstroomse Universiteitskoor en met die Nasionale Kamerorkes is die Faure Requiem aangebied – hierdie konserte sou ’n spesiale kenmerk van die fees word.

In die tweede jaar verwerk Ilse van Hemert die oorweldigende boek Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz, geskryf deur Christoffel Coetzee. Hier bereik die fees regtig teaterwasdom. Van Hemert het met ou truuks amper ’n regte oorlog op die verhoog laat gebeur. Ook in daardie jaar kom Deon Opperman se Magspel, met dieselfde spelers pas van die Grahamstad-fees. Heerlike hekelende stukke kom uit Mamelodi – in Afrikaans en Tswana met Tsotsitaal.

Aardklop bou stewige Diskoersreekse. Gwede Mantashe kom praat. Pallo Jordan. Die gesprekke raak soms driftig. Hermann Giliomee stuit nie vir die vrae nie. Hy word ook gelak.

Mamma Medea word groots, aangrypend aangebied. Later kom Maria de Buenos Aires met sy tango en bandaneon (toe is ’n trekklavier gebruik).

Die “Noorde” maak kennis met Antoinette Kellerman en Marthinus Basson as regisseur.

Aardklop stel nuwe produksies voor; metteryd word nuwe tekste “geskool” en ’n vernuftige stelsel van verskeie vereistes aan ’n toneel word dan gebruik deur die toneellesers en -kenners om ’n stuk vir opvoering aan te bied.

Potch se konservatorium kon die bestes lok en was altyd stampvol wanneer Zorada Temmingh en Elna van der Merwe hul “Blondes” – ’n energieke mengsel van klassiek en jazz aangebied het.

Die Boekeparadys was inderdaad ’n paradys. Druk besoek, druk bespreek en ’n verleidelike rak vir tweedehandse boeke ook altyd teenwoordig.

In Ikageng is die Sol Plaatje-vertaling in Tswana van As You Like It opgevoer voor meer as ’n duisend mense wat almal op die grond gesit het, sommige met babas, borsvoedend.

Engelssprekende vriende het gekom vir die atmosfeer, die lewerkoekies, die boere-gevoel. Ons het hulle selfs in ’n teater gekry waar een en almal Sandra Prinsloo wou ontmoet.

Die visuele kuns het baie gou ’n besondere Aardklop-kenmerk gekry. Groots, omvangryk en baie verteenwoordigend het dit ook ’n merkwaardige inkomste gelewer.

’n Spesiale kunssafari met latere rondleidings het aan hierdie afdeling ’n besondere Aardklop-kenmerk verleen.

Frederik van Zyl Slabbert sou na Neil se aftrede oorneem as voorsitter waar hy hom veral verkneukel het aan die ligter musiek en herinneringe aan ou songs wat hy dan sommer self sou ingesit het. Na hom het Theuns Eloff as voorsitter besliste uitbreidings toegelaat en die fiskale leisels sterker probeer intrek.

Dis asof daar nooit ’n einde kan kom aan die opwinding, nuwighede en gróót planne nie.

Soos met enige fees is die eerste hoofpyn geld, die tweede hoofpyn geld en die derde ene, raai wat?

Maar die wonder bly steeds die vindingrykheid van die tegnici om verhoë in te rig, vervoer te reël, te onderhandel, veral met owerhede oor onder meer of daar genoeg latrines is en ook, asseblief tog, genoeg sekuriteitspersoneel. Hierdie “oorlogskamer” van ’n fees is eintlik die groot wonderwerk dat die hele grote fees eintlik plaasvind.

Omdat Aardklop se DNS een van “die besondere” is, in terme van ’n soeke na nuwe ervarings, nuwe tegnieke en nuwe uitdagings, glo ek Aardklop gaan nou op ’n ander ritme klop. Kan nie wag nie!

Ai, ek gaan darem daai lewerkoekies mis. Selfs daardie kwaai Schoeman-mampoer.

*Martie Retief-Meiring was ’n stigterslid, sameroeper en programkeurder van Aardklop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.