Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kop & Hart-blog:
Abel Pienaar: Paasfees se gevaarligte flikker
Dr. Abel Pienaar

Ons is weer midde in Paastyd. Paasfees is natuurlik een van die belangrikste gelowige feeste in die Christelike kerklike jaar en word gewoonlik enige tyd tussen laat Maart tot vroeg April gevier. Paasfees vier die opstanding van Jesus Christus, wat, volgens sy volgelinge, op die derde dag ná sy kruisiging uit die dood opgestaan het (ongeveer 27 n.C. tot 33 n.C.).

Hartseer genoeg bring hierdie feestyd nie noodwendig vrede nie. Want sien, ons wêreld is toenemend verskeurd tussen verskillende ideologieë, gelowe en oortuigings. En daarmee saam die feit van ’n kleiner wordende wêreld, selfs genoem ‘n “global village,” wat nou botsende belange binne mekaar se sigveld bring.

’n Hartseer voorbeeld is die begin van die week se terreuraanval in Brussel, België, waarvoor die ekstremistiese Islamitiese groep, die Islamitiese Staat (IS), verantwoordelikheid aanvaar het. Ongelukkig niks nuuts nie. Skokgolwe deur Europa weens soortgelyke terreur het Frankryk en Brittanje al die afgelope paar jaar in ’n greep van vrees. Om nie eens van die res van die wêreld se gedurige konflikte te praat nie.

Dit is hartseer om te dink dat gelowe wat kernwaardes soos vrede en harmonie verkondig, juis die grootste rede tot terreur in ons moderne wêreld geword het.

Is daar nog ’n plek vir verskillende godsdienste in ons diverse en kleiner wordende wêreld?

Toegegee, godsdienste kon ons dalk in die verlede gehelp het om deugde, waardes en lewensin beter te verstaan, maar dit was ook darem nooit godsdienste se alleenreg of skepping gewees nie. Daarom is die byvoeglike naamwoord van “Christelik” of “Moslem” as voorbeeld, by die term “waardes,” eintlik niksseggend. Want nie een morele waarde is eie of uniek aan enige spesifieke godsdiens of waarheidstelsel nie.

Nee, ’n goeie en morele samelewing is eerder ’n samelewing waarin die innerlike werklikheid van mense uitvloei in uiterlike deugde en waardes soos: liefde, deernis, medemenslikheid, verdraagsaamheid, oopheid, vertroue, kreatiwiteit, die skepping van welvaart, vriendelikheid, regverdigheid, en ander menseregte wat die ideaal is van ‘n vreedsame samelewing.

Niemand kan vir iemand anders instaan of namens hulle dit besluit of doen nie, selfs nie enige offers van sogenaamde gode nie. Elkeen moet self kies. En elkeen moet self verantwoordelikheid neem. En hiervoor kan geen godsdiens of religie instaan nie, net bystaan en ondersteun.

Ja, godsdienste kan wonderlike rigtingwysers wees tot die verstaan dat elke mens – ongeag kultuur, godsdiens, ras, geslag of seksuele oriëntasie – vry is om hul innerlike waarheid te ontdek en uit te leef.

Dat elkeen van ons ’n innerlike lig het wat soos die son op ’n bewolkte dag nie kan wag om deur te breek nie. En dat ons vryheid en ons moraliteit binne ons lê en wag om gebore te word in ons dade.

En hierdie waarheid is binne elkeen te vind, daarom is ons menslikheid en ons moraliteit in mekaar te vind. Dit wat Mikhail Bakunin so mooi verwoord: “Freedom, morality, and the human dignity of the individual consists precisely in this; that he does good not because he is forced to do so, but because he freely conceives it, wants it, and loves it.”

As godsdienste dus nie ’n agent van spiritualiteit, vryheid en liefde kan wees nie, en steeds dogma, vrees en verdeeldheid gaan bewerk, is dit tyd dat hulle hul staanplek in die samelewing nou moet prysgee.

Meer oor:  Abel Pienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.