Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ace is die troefkaart

Die toekoms van die ANC se korrupte netwerke hang af van wat met Ace Magashule gebeur, skryf Dirk Kotzé.

Ace Magashule (heel links) het in ’n groot mate ’n monopolie oor die administrasie van die ANC. Foto: Getty Images

Die feit dat Ace Magashule die ANC se sekretaris-generaal is – in feite die party se uitvoerende hoof – maak hom feitlik onaantasbaar.

Niemand, insluitende die hoogste amptenare in die ANC, kan eintlik aan hom raak nie.

Magashule is nie die produk van die ANC se Nasrec-konferensie van Desember 2017 toe hy met ’n meerderheid van 24 stemme verkies is nie. Hy het sy magsbasis in die vroeë 1990’s in die Vrystaat gevestig, in ’n magstryd wat hom kop aan kop te staan gebring het teen die destydse premier, Mosiuoa Lekota.

Sy politieke ster het egter eers werklik helder begin skyn in die nasionale politieke hemel toe hy saam met die premiers van Noordwes en Mpumalanga lid geword het van die sogenaamde “premiersliga”, die meganisme waardeur oudpres. Jacob Zuma die ANC se provinsiale strukture aan sy kant wou kry om homself binne die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) teen sy interne kritici te beskerm.

By Nasrec was die magsewewig binne die ANC delikaat gebalanseer – soos wat ons in die uitslae van die verkiesing van die topses-poste gesien het. Magashule was deel van die Zuma-faksie wat Zuma se eksvrou dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as hul openbare gesig gebruik het.

Dit verduidelik waarom Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture soveel aandag kry.

Hoe dit gebeur het dat al pres. Cyril Ramaphosa se kandidate nie tot hoë ampte verkies is nie, is steeds nie heeltemal duidelik nie. Veral adj.pres. David “DD” Mabuza van Mpumalanga (voorheen ’n geswore Zuma-man) se rol in die konferensie is steeds nie duidelik nie – veral omdat hy nie daarin kon slaag om dieselfde steun as Ramaphosa op hom te verenig nie (nadat hy op die laaste oomblik sy steun aan Ramaphosa toegesê het).

Nou, 16 maande later, is die ANC-sekretariaat (Magashule en sy adjunk, Jessie Duarte) waarskynlik die sterkste magsentrum in die ANC wat buite die Ramaphosa-dampkring staan. Supra Mahumapelo is nie meer die premier van Noordwes nie en sy posisie as provinsiale leier is onseker. Dlamini-Zuma is nie meer die openbare stem van die Zuma-faksie nie, maar ’n lojale minister in Ramaphosa se kantoor.

Zuma self volg ’n pragmatiese benadering: Hy maak baie staat op kerkgroepe in KwaZulu-Natal, op openbare ondersteuning deur die party Black First Land First (BLF), op wegbreekpartytjies soos Hlaudi Motsoeneng se ACM en op ’n gedeelte van die ANC in KZN om sy vlag wapperend te hou. Hy weet dat hy nie meer die institusionele en politieke mag van ’n president, selfs ’n ongewilde een, geniet nie. Dlamini-Zuma is nou vierkant in die Ramaphosa-kamp en dus is Magashule nou die de facto-leier van die Ramaphosa-opposisie.

Dit verduidelik waarom Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture soveel aandag kry. Magashule is waarskynlik die belangrikste faktor wat gaan bepaal tot watter mate Ramaphosa die ANC agter hom sal verenig en die faksiegevegte kan uitroei.

Magashule het in ’n groot mate ’n monopolie oor die administrasie van die ANC. Hy is in beheer van die daaglikse werksaamhede in Luthuli-huis, wat insluit beheer oor die ANC se amptelike woordvoerders en al die party se mediakonferensies.

Op ’n daaglikse grondslag is hy die skakel tussen die ANC se hoofkantoor en hul provinsiale strukture. Dit skep vir hom die geleentheid om ’n onaanvegbare institusionele posisie binne die ANC te ontwikkel.

As jy twyfel hieroor, kyk waar die vorige bekleërs van die pos geëindig het: Rama­phosa, Kgalema Motlanthe en Gwede Mantashe. Almal van hulle was ook leier van die National Union of Mineworkers. Magashule is die uitsondering, maar hy het ’n baie sterk magsbasis in die Welkom-mynvelde. Magashule se magsbasis is dus nie nasionaal soos Motlanthe of Mantashe voor hom nie, maar baie spesifiek provinsiaal. In dié opsig is hy ’n produk van die Zuma-benadering om die provinsies die belangrikste magsbasis binne die party te maak – iets wat Mbeki heeltemal onkant gevang het.

Enige pogings om Magashule se invloed in die ANC te verminder, sal dus beteken dat jy die mag van provinsies in die ANC se besluitnemingsprosesse moet verminder. ’n Alternatief is om twee of meer magsentrums te ontwikkel: Sentrale mag gesetel in die NUK, groter prominensie aan regeringsmag (wat Mbeki se benadering was) en meer mag vir die ANC- parlementêre koukus.

Laasgenoemde verduidelik die beskuldiging teen Magashule dat hy die ANC se kandidatelyste vir die komende parlementêre verkiesing wou beknoei. Die benadering is nodig omdat faksiegevegte op provinsiale vlak (waarvan dié in Noordwes die beste voorbeeld is) die Magashule-kamp se mag binne die party erg benadeel het.

Dit beteken dat ’n “premiersliga” nie meer dieselfde invloed kan hê soos wat dit in 2017 onder Zuma gehad het nie.

Met Zuma se vertrek word Magashule nou deur sommige beskou as die nuwe gesig van korrupsie in die ANC. Die media-aandag wat Myburgh se boek geniet, het baie hiertoe bygedra – natuurlik aangehelp deur die fanatiese dreigemente van die jeugliga in die Vrystaat.

Enige perspektief op ANC-korrupsie moet egter steeds die onthullings van die Gupta-e-posse, die getuienis oor Bosasa by die Zondo-kommissie, die gebeure by die Inkomstediens soos blootgelê by die Nugent-kommissie, in ag neem. Myburgh se onthullings oor Magashule verdiep bloot ons begrip van wat korrupsie in die Zuma-era beteken het. Dit verplaas dit nie. Magashule het nie skielik die hooffiguur in die staatskapingsdrama geword nie. Hy is bloot ’n belangrike akteur.

Is dit moontlik om Magashule uit die ANC uit te werk of vir Ramaphosa om van hom ontslae te raak? Die ANC-grondwet blyk nie geformuleer te wees met die moontlikheid om van enige van sy “topses” ontslae te kan raak nie.

Nóg die NUK, die hoofraadsvergadering nóg die integriteitskomitee kan dit doen nie. Slegs die nasionale dissiplinêre komitee (volgens reël 25) kan persone van hul poste onthef, soos wat met Julius Malema gebeur het. (Hierdie interpretasie geld natuurlik ewe veel vir die idee dat Zuma-ondersteuners ná die verkiesing van Ramaphosa ontslae gaan raak).

Die eerste werklike geleentheid om van Magashule (of Ramaphosa) ontslae te raak, is by die volgende nasionale konferensie in 2022 – of as Magashule deur ’n hof aan korrupsie skuldig bevind word.

Wat motiveer Magashule se groep op die oomblik om die Ramaphosa-bestuur uit te daag? Twee redes is moontlik. Die eerste is dat hulle invloed in belangrike sentrums van ANC- en regeringsmag moet behou om hulle teen vervolging te beskerm. Dit geld in die eerste instansie vir Zuma, maar nou ook vir Magashule.

Die tweede rede is dat die netwerke wat in die Zuma-era gevestig is, sover moontlik beskerm moet word. Dit sluit ook privaat sakebelange in. Met Zuma uit die Uniegebou is dit moeilik om nuwe netwerke te vestig, maar dit is steeds moontlik om bestaandes te probeer beskerm.

Die toekoms van baie ondernemings en die lewenstyl van baie mense is hiervan afhanklik. Dit is een van die redes waarom volgende maand se verkiesing belangrik is, omdat dit sal bepaal wie die lede van die nuwe kabinet of parlementslede gaan wees wat óf parlementêre ondersoeke teen korrupsie kan lei – óf anderpad gaan kyk.) Prof. Dirk Kotzé doseer politieke wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Ace Maga­Shule  |  Nasrec  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.