Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afganistan: Is dit nog ’n Viëtnam?

Dálk, net dálk is ’n einde aan die voortslepende oorlog in Afganistan ná meer as 18 jaar se bloedvergieting in sig. Maar iemand sal moontlik ’n hoë prys daarvoor moet betaal, skryf Leopold Scholtz.

Spesiale magte in Afganistan tydens ’n teikenskiet-oefening buite die Shindand- militêre basis in die Herat-provinsie. Foto: Franz J. Marty/SOPA Images/LightRocket via Getty Images

Elke Februarie word ’n internasionale veiligheidskonferensie in München gehou. Daar kom belangrike politici, hoë militêre offisiere en internasionale politieke kenners byeen om gedagtes oor die stand van die wêreldpolitiek te wissel.

Soms is daar langs die kantlyn van die beraad ook interessante inisiatiewe. Die een waaroor dit tans in die internasionale gemeenskap gons, is ’n voorlopige beginsel-ooreenkoms tussen Amerika en die Afgaanse terreurbeweging, die Taliban, wat moontlik op vrede kan uitloop.

Dié voorlopige ooreenkoms is gesluit tussen pres. Donald Trump se spesiale Afganistan-verteenwoordiger, Zalmay Khalilzad, en verteenwoordigers van die Taliban. Daarnaas was die Amerikaanse ministers van buitelandse sake en verdediging, Mike Pompeo en Mark Esper, asook pres. Ashraf Ghani van Afganistan, betrokke.

Die ooreenkoms kom in breë trekke op die volgende neer:

*Allereers kom daar ’n sewe dae lange tydperk van “verminderde geweld”. (Om verwagtings nie te veel te wek nie, word dit geen vuurstaking genoem nie).

*Binne 15 dae moet onderhandelings tussen die Afgaanse regering en die Taliban oor ’n politieke oplossing vir die konflik begin.

*Daarna volg ’n proses van 135 dae waarin die Amerikaanse troepemag in die land in fases van 12 000 tot 8 500 man verminder word. Elke troepe-onttrekking hang af van die mate waarin die “verminderde geweld” stand hou. Vlam die geweld op, kan die onttrekkings gestaak of selfs omgekeer word;

*Intussen behou die bevelvoerder van die Navo-magte in die land, die Amerikaanse genl. Austin Miller, die reg om militêre operasies teen die Taliban voort te sit as die situasie dit regverdig; en

*In die afgesproke tyd beloof die Taliban om (naas die staak van aanvalle op Navo- en Afgaanse regeringsmagte) ook geen steun aan terreurgroepe soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat te gee nie.

Politieke risiko’s

Die ooreenkoms is belangrik. Dit is die eerste keer dat hoë verteenwoordigers van Amerika en die Taliban van aangesig tot aangesig onderhandel en, al was dit maar in beginsel, ooreenstemming oor die pad vorentoe bereik.

Verskeie struikelblokke moet nog oorwin word, en terselfdertyd is daar ook heelparty politieke risiko’s vir alle partye tot die ooreenkoms.

Ná ’n konflik waarin sowat 150 000 mense gesterf het, is dit nie niks nie. Onder hulle is 2 409 Amerikaanse soldate.

Dit beteken nie dat pais en vree voor die deur lê nie. Verskeie struikelblokke moet nog oorwin word, en terselfdertyd is daar ook heelparty politieke risiko’s vir alle partye tot die ooreenkoms.

Kom ons kyk na ’n paar.

Militante van Isis by hul wapens nadat hulle oorgegee het aan die regering in Jalabad, Nangarhar, in Afganistan op 17 November 2019. Foto: Wali Sabawoon/NurPhoto via Getty Images

In die eerste plek is dit nie duidelik dat die Taliban (wat ook maar uit verskeie faksies bestaan) volledig aan boord is nie. As ’n fanatieke groep besluit – sê maar – dis teen die Koran om ’n ooreenkoms met Satan (soos Amerika beskou word) aan te gaan, kan hulle die hele ooreenkoms deur terreuraanslae kelder.

Ten tweede kan ook die Amerikaners foutiewe militêre besluite neem. Net voordat die akkoord gesluit is, het Amerikaanse bomwerpers ’n voertuig, wat hulle gemeen het Taliban-vegters vervoer het, verwoes.

Dié bewind is aansienlik erger as selfs dié van die ANC, en dit sê baie.

Agterna het bekend geword dat die insittendes onskuldige burgerlikes was, van wie agt dood is. Dit was ’n fout wat reeds telkemale herhaal is en wat nie bydra tot die Navo-magte se sukses in die oorlog nie.

Derdens word Afganistan al sedert die val van die Taliban in 2001-’02 deur ’n ondoeltreffende, korrupte regering geregeer. Dié bewind is aansienlik erger as selfs dié van die ANC, en dit sê baie.

Die Afgaanse bevolking het bitter min, indien enige, vertroue in die regering. In soverre ’n staatsapparaat funksioneer, gebeur dit in eiebelang; die bevolking trek feitlik geen voordeel daaruit nie.

Dié ondoeltreffendheid geld ook vir die amptelike Afgaanse weermag en polisie. Sedert 2002 het Navo groot moeite gedoen om dié instansies behoorlik toe te rus en op te lei, maar by tye lyk dit meer soos ’n swart gat wat alles opsuig en verteer.

’n Soldaat van die spesiale magte in Afganistan rus met sy hand op M249 ligte masjiengeweerkoeëls gedurende ’n oefening net buite die Shindand- militêre basis in die Herat-provinsie.Foto: Franz J. Marty/SOPA Images/ Light Rocket vir Getty Images

Boonop is die Navo-mag gefragmenteer. Elke regering met soldate in Afganistan behou die politieke beheer oor sy troepe en beding uitsonderings vir byna elke situasie – dié een se soldate mag nie aan sulke operasies deelneem nie, ensovoorts.

Dit alles maak ’n geïntegreerde strategiese aanpak, waar die militêre operasies deel vorm van ’n omvattende burgerlik-militêre benadering, onmoontlik.

Dit gaan terselfdertyd gepaard met ’n siniese, maar intelligente benadering van die Taliban. Dit is ’n kombinasie van brute dwang en intimidasie, gepaard met ’n sekere sorg vir die bevolking in die gebiede wat die beweging oorheers.

Kyk, ek bring jul seuns huis toe

Dit gaan om die harte en verstande van die mense. Dít, en nie militêre resultate nie, is uiteindelik die toetssteen vir ’n suksesvolle oorlogspoging.

Hierin slaag die Taliban beter as die Afgaanse regeringsmagte. En die verskil wat Navo maak, is nie groot genoeg nie.

Vir die Amerikaners is verskeie risiko’s hieraan verbonde, soos die minister van verdediging, Mark Esper, trouens openlik erken het: “Dit is my siening dat ons vrede ’n kans moet gee, dat die beste, dalk die enigste, pad vorentoe is deur ’n politieke ooreenkoms, en dit beteken dat ’n sekere risiko geneem moet word,” het hy op die veiligheidsberaad in München gesê.

Sukses in Afganistan beteken dat pres. Donald Trump kan spog dat hy die kiesers se seuns huis toe gebring het. Mislukking beteken dat dit teen hom kan boemerang. Foto: Kevin Dietsch/UPI/Bloomberg via Getty Images

Wat sake kompliseer, is dat dit vanjaar verkiesingsjaar in Amerika is. Sukses in Afganistan beteken dat pres. Donald Trump kan spog dat hy die kiesers se seuns huis toe gebring het. Mislukking beteken dat dit teen hom kan boemerang.

Met ander woorde, hy is deels aan die Taliban oorgelewer, wat geen maklike posisie is om te beklee nie.

’n Tweede risiko is dat die Afgaanse regering nie regstreeks by die ooreenkoms betrokke is nie. Pres. Ghani is weliswaar deurgaans ingelig, maar het geen seggenskap oor die besonderhede gehad nie.

Net soos in Afganistan is Amerika dáár (in Viëtnam) in ’n oorlog ingesuig wat nie gewen kon word nie ...

’n Vorige Amerikaanse poging om vrede met die Taliban te bewerkstellig het juis misluk omdat die Afgaanse regering nie behoorlik geken is nie.

Intussen wys doemprofete op die voorbeeld van Viëtnam. Net soos in Afganistan is Amerika dáár in ’n oorlog ingesuig wat nie gewen kon word nie – altans nie sonder om ’n prys te betaal waartoe geen Amerikaanse regering bereid was nie.

Uiteindelik het pres. Richard Nixon ’n vyeblaar opgetower om sy nederlaag te bedek: Amerikaanse troepe is onttrek; die korrupte en ondoeltreffende Suid-Viëtnamese weermag het grootskaalse wapenhulp ontvang, maar die oorlog teen die Noord-Viëtnamese kommuniste is aan hulle oorgelaat.

“Viëtnamisering” was die wagwoord.

Leopold Scholtz Foto: Foto24

Dit het misluk. Die ikoniese televisiebeelde van die laaste Amerikaanse helikopter wat die laaste mense op dié dag van die land se ambassadegebou in Saigon oppik en vlug, is vandag nog op die retina van talle mense aanwesig.

Niemand kan die toekoms in Afganistan met enige sekerheid voorspel nie. Dalk slaag die waagstuk skouspelagtig, wie weet.

Die wêreldgeskiedenis van die volgende jaar of vier, vyf kan ingrypend deur die uitkoms bepaal word.

Maar die ooreenkomste met die Amerikaanse onttrekking aan Viëtnam is wel opvallend. Destyds het dit tot ’n yslike slag vir die Amerikaanse prestige in die wêreld gelei, iets wat Kuba en die USSR onder meer die gaping gegee het om in 1975 in Angola in te gryp. Dit het ook ons geskiedenis diepgaande beïnvloed.

Sake in Afganistan is op ’n naaldpunt. Die wêreldgeskiedenis van die volgende jaar of vier, vyf kan ingrypend deur die uitkoms bepaal word.

*Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Vrede  |  Afganistan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.