Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AfriForum oor vlag: ‘Verbied in die naam van Mandela . . .’

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sou na verwagting Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg weens beweerde minagting van die hof verskyn, maar die saak is nie aangehoor nie, omdat die hofrol vol is. Die Nelson Mandela Stigting (NMS) het 'n dringende hofaansoek teen Roets aanhangig gemaak vir minagting van die hof nadat hy 'n foto van die ou landsvlag op Twitter geplaas het. Die saak sal nou na verwagting Woensdag voorkom.


AfriForum gebruik nie die ou vlag nie omdat hy besef dat dit ’n deel van die samelewing kwets, maar om dit te verbied kom neer op ’n inperking van burgerlike vryheid, skryf Kallie Kriel.

Ernst Roets, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof, en Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, buite die hof nadat uitspraak oor die ou landsvlag gelewer is. Foto: Isabel Venter

Oudpres. Nelson Mandela ontvang wêreldwyd erkenning vir sy rol in die stryd teen apartheid. Tydens dié stryd het die destydse minderheidsregering ook skerp deurgeloop weens sy inperking van burgerlike vryhede en die staat se gebruik van verbanning en sensorskap om die teenstanders van apartheid te muilband. ’n Voorbeeld hiervan is dat die ANC en die SAKP en hul simbole tydens die apartheidsera verbied is.

Dit is daarom ’n skokkende ironie dat die Nelson Mandela-stigting, wat hulle daarop roem dat hulle as vaandeldraers van Mandela se nalatenskap optree, nou soortgelyke metodes as destyds gebruik om burgerlike vryhede in te perk en verbanning en sensorskap op hedendaagse Suid-Afrika af te dwing deur die hofsaak om die 1928- Suid-Afrikaanse vlag (beter bekend as die ou vlag) te verban.

Benewens die gevaar wat die inperking van burgerlike vryhede inhou, lei die onverdraagsaamheid wat verbiedaksies onderlê, ook tot onaanvaarbare vlakke van polarisasie in die land.

AfriForum gebruik nie die ou vlag nie, onder meer omdat die organisasie besef dat daar ’n deel van die samelewing is wat deur die vlag se vertoon gekwets voel.

AfriForum is en bly verbind tot die bou van ’n samelewing op die grondslag van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe.

Hierdie strewe word duidelik uiteengesit in AfriForum se burgerregtemanifes, wat op AfriForum se webwerf verskyn.

Binne die konteks van AfriForum se strewe na wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe het AfriForum in die aanloop tot die vlaghofsaak reeds op 4 September 2018 ’n brief aan die Nelson Mandela-stigting gestuur waarin teen die polariserende uitwerking van ’n hofgeding gewaarsku word en ’n gesprek aangevra word om ’n wedersyds aanvaarbare oplossing vir die geskil te vind.

Die Nelson Mandela-stigting het egter geantwoord dat hy AfriForum se versoek tot dialoog “verwerp”.

Ten spyte hiervan het die stigting ná die hofsaak op oneerlike wyse aangevoer dat AfriForum pogings tot gesprekvoering van die hand gewys het. Dit terwyl die teenoorgestelde waar was.

Tog bly AfriForum ondanks die Nelson Mandela-stigting se leuens verbind tot gesprekvoering sou die stigting herbesin oor die dwase rigting wat hulle ingeslaan het om dialoog te verwerp.

AfriForum gebruik nie ou vlag

Die ou landsvlag gee baie mense aanstoot – soos dié studente van Stellenbosch in 2015. Foto: Gallo Images

Anders as wat oningeligte kritici probeer voorgee, gebruik AfriForum geen vlae by sy byeenkomste nie en het die organisasie ook nie die ou vlag met die Swart Maandag-protesaksie gebruik nie. Die joernalis Nickolaus Bauer, wat destyds valslik beweer het die ou vlag is gebruik, het later vir sy wanvoorstelling om verskoning gevra.

AfriForum gebruik nie die ou vlag nie, onder meer omdat die organisasie besef dat daar ’n deel van die samelewing is wat deur die vlag se vertoon gekwets voel. Daar is tog geen sin daaraan om op byeenkomste soos Swart Maandag, wat gehou word om standpunt teen hedendaagse vergrype soos plaasmoorde in te neem, simbole te betrek wat sommige mense aanstoot gee nie. Dit sal die aandag van AfriForum se strewe om ’n beter en veilige toekoms te bou aftrek.

Toeskouers by ’n krieketwedstryd swaai die ou Suid-Afrikaanse vlag. Foto: Gallo Images

Die grondslag van die Nelson Mandela-stigting se verbanningshofsaak en hul ongevraagde optrede om AfriForum as respondent by die saak in te trek, is dus ook op leuens gebou.

Nadat AfriForum op kwaadwillige wyse deur die Nelson Mandela-stigting by die saak ingetrek is, het AfriForum in die hof aangevoer dat gemeenskappe uit respek vir mekaar uit eie beweging en deur dialoog daaraan moet werk om nie mekaar te beledig en aanstoot te gee nie.

Hierdie benadering beteken egter beslis nie dat enigiets wat aanstoot gee, verbied moet word nie.

Mense wat ná die uitspraak in die vlagsaak dalk hoogs tevrede is met die verbied van die ou vlag, moet besef wat die gevolge sal wees as iemand in die toekoms aanstoot neem rakende iets anders wat vir hulle belangrik is.

Sodra die staat die mag kry om te bepaal wat aanstootlik is en verbied moet word, beweeg ons in die rigting van ’n polisiestaat wat vryheid van spraak inperk tot in jou eie huis. Dit is dus uit beginsel belangrik om teen enige polities gedrewe verbanning te veg, self al besef ’n mens dat die prys daarvoor hoog is omdat die veldslae vir vryheid van spraak ongelukkig inherent net rakende omstrede onderwerpe geveg word.

Mandela-stigting en Zindzi Mandela

Ernst Roets, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof, se berugte twiet oor die ou landsvlag. Foto: Twitter

AfriForum ondersteun ook die feit dat geen reg, ook nie die reg op vryheid van spraak, onbeperk is nie. Die beperkings op vryheid van spraak moet egter goed omskryf word om te voorkom dat hierdie beperkings deur ’n staat misbruik word om mense wat van die owerheid verskil, se denke en idees te onderdruk.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet omskryf die beperkings op vryheid van spraak wel goed in art. 16(2). Hier word dit duidelik gestel dat vryheid van spraak nie vir propaganda vir oorlog, aanstigting tot geweld en die verkondiging van haat wat aanhits om leed te veroorsaak geld nie.

Die land kan nie weer ’n sensuurraad bekostig nie.

’n Verbod op iets wat aanstoot kan gee, sonder dat daar ’n oproep is om iemand leed aan te doen, strook dus nie met die Grondwet se uitdruklike bepalings nie.

Daar bestaan dus geen grondwetlike gronde vir die Nelson Mandela-stigting se polities gedrewe heksejag teen Ernst Roets en die stigting se aanslag op vryheid van spraak nie. AfriForum sal onder meer op hierdie grondwetlike bepaling steun om die Nelson Mandela-stigting se verdere aanslae op vryheid van spraak in die howe teen te staan.

Die Nelson Mandela-stigting se benadering dat aanstootlike en kwetsende uitsprake verbied moet word, selfs al gaan dit nie met aanhitsing tot leed gepaard nie, is problematies – veral weens die dubbele standaarde wat die Nelson Mandela-stigting self en die regerende elite toepas wanneer dit kom by wat aanstootlik is en wat nie.

Kallie Kriel

Terwyl die stigting ’n vlag aanstootlik vind, vind hulle geen fout met Mandela se dogter, Zindzi Mandela, se uitsprake dat wit mense “diewe”, “lafaards”, “verkragters” en “onwelkome gaste” in die land is nie. Die Nelson Mandela-stigting het in reaksie op Zindzi se kwetsende uitsprake selfs so ver gegaan as om aan te kondig dat hulle geen noodsaak sien om eens met Zindzi daaroor in gesprek te tree nie. Hierdeur het hulle duidelik gewys dat hulle nie werklik daartoe verbind is om alle kwetsende optrede te pak nie, maar dat hulle daarop uit is om net diegene wat van die Nelson Mandela-stigting en die regerende elite se sienings verskil, se spraakvryheid in te perk.

AfriForum steek ’n hand van vriendskap uit na almal in die land wat uit innerlike oortuiging en deur dialoog wil saamwerk om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder maar ook besef dat verbannings en die inperking van burgerlike vryhede in niemand van ons se belang is nie.

Die land kan nie weer ’n sensuurraad bekostig nie, selfs nie al funksioneer sodanige raad nou onder die naam van die Nelson Mandela-stigting nie.

* Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. Dié artikel het aanvanklik op News24 verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.