Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AfriForum verpolitiseer plaasmoorde

Die gebrek aan empatie vir plaasmoorde kan aan die voete van AfriForum en Steve Hofmeyr gelê word. As jy “white genocide in South Africa”  google word jy onmiddellik deur regse webwerwe gebombardeer met gruwel-foto’s van plaasmoordslagoffers. Dié webwerwe spoeg rassehaat en gebruik die foto’s as ammunisie oor die beweerde volksmoord wat kwansuis hier aan die gang is.

Dit is die gevolg van ’n jarelange poging van AfriForum en sy meelopers om van plaasmoorde rasseaanvalle te maak. Meer as ’n dekade gelede het AfriForum begin om plaasmoorde uit verband te ruk en dit ’n velkleur te gee wat dit onmoontlik maak om gebalanseerd daaroor te praat. AfriForum bombardeer mense met verwronge statistieke om die probleem as ’n politieke knelpunt voor te hou om simpatie onder regses in (veral) Europa te mobiliseer. In die proses het hulle bedmaats geword met ekstreme haatgroepe en verregse politieke partye. 

As daar al ooit enige twyfel was oor AfriForum se politieke kleure, moet ’n mens net kyk na die drie hoofspelers daar. Dirk Hermann kom uit die wit Mynwerkersunie, ’n organisasie met ’n lang geskiedenis van rassisme sedert dit net ná die Anglo-Boereoorlog gestig is. Kallie Kriel was ’n lid van die KP-jeug, en Cornelius Jansen van Rensburg het die eer gehad om geskors te word uit die VF Plus ná ’n onderonsie met Mulder en kie (laasgenoemde is seker ’n pluspunt).

Ondanks AfriForum se beweringe, kom plaasmoorde in dieselfde verhouding voor as wat daar boere is. Met ander woorde, dieselfde persentasie swart boere word vermoor in verhouding tot die getal swart boere wat daar is. AfriForum se syfers sluit natuurlik nooit die dooie swart plaaswerkers in nie, wat die syfers nog verder verwring.

Ons het te doen met die polarisering van ons land wat deur sowel die regering as regse wit groepe gedryf word.

In baie gevalle speel velkleur nie ’n rol nie. Plase is afgeleë, daar is gewoonlik vuurwapens en kontant. Daar is ’n verskil tussen ’n loongeskil wat op ’n plaas gebeur en ’n plaasaanval. Wel, dit is soos regdenkendes dit sien, regsdenkendes nie. In húl oë is alles ’n komplot om wit mense uit te moor.

Dit is nie net plaasmoorde wat meer geword het nie, alle geweldsmisdade se syfers is hoër. Dit is ’n teken van ’n samelewing wat gewelddadiger word. Ons het te doen met die polarisering van ons land wat deur sowel die regering as regse wit groepe gedryf word. 

Die een ding van regses is natuurlik dat hulle in twee kategorieë kom: Daar is die kneukels-op-die-grond-gorilla-soort (of is dit guerrilla?) en dan is daar die slimmes. Kriel val in die slim kategorie. Dit is wat hom en sy botterbulletjies so gevaarlik maak. Ek wou hom met Goebbels vergelyk, maar ek is bang hy beskou dit as ’n kompliment.

AfriForum speel die Afrikaner soos ’n viool terwyl Rome brand. Eers voorspel hulle die situasie, dan skep hulle die situasie en dan reageer hulle op die situasie. Plaasmoorde was nooit polities van aard nie, maar AfriForum het mense oortuig dat dit polities is. Noudat dit die politieke speelbal geword het – wat hulle veroorsaak het – vertel hulle ons dat hulle reg was in hul voorspelling dat dit polities van aard is.

Soos regse politiek die Afrikaner-psige meer en meer gaan beïnvloed gaan hierdie meer en meer gebeur. As die eerste wit bloed vloei (en dit gaan) gaan die rassiste ook vir ons vertel dat hulle dit voorspel het, terwyl hulle die eintlik veroorsaak het.

Meer oor:  Deon Maas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.