Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrika móét deel wees van pogings om entstof te vind

Afrika mag nie ’n passiewe toeskouer wees in die soektog na ’n entstof vir Covid-19 nie, skryf Gale Ure.

’n Jong Malawiese vrou wag ir haar inspuiting as deelnemer in ’n kliniese studie vir die eerste entstof teen malaria. Foto: AP

Die soektog na ’n Covid-19-entstof het vandeesmaand die spilpunt van ’n internasionale mediakontroversie geword, toe twee Franse dokters op regstreekse televisie voorgestel het dat die toetse vir korona-entstof op mense in Afrika gedoen word omdat hulle so blootgestel is.

Daar was dadelik kommer oor die potensiële skade wat deelnemers aan die kliniese toetse kan opdoen wanneer die navorsing sy menslike toetsfase ingaan.

Die Franse dokters Camille Locht en Jean-Paul Mira, wat as kenners in hul veld gereken word, het later verskoning gevra vir hul voorstel dat Covid-19-entstoftoetse gedoen moet word op ’n vasteland waar baie mense onder die broodlyn leef en hulself nie kan beskerm nie.

Locht en Mira se voorstelle het nog ’n dieper wig ingedryf in ’n wêreld wat reeds deur diepgewortelde rasse- en ekonomiese diskriminasie verdeel word.

Die voorstel het weer die kollig geplaas op kolonialisme in Afrika-lande en wetenskaplike navorsing het die teiken van populistiese retoriek geword.

Afrikane is nie proefkonyne in ’n laboratorium nie, het die sokkerster Didier Drogba van die Ivoorkus beklemtoon. Samuel Eto’o, ’n voormalige sokkerspeler van Kameroen, het na die dokters as “moordenaars” verwys.

Die redenasie is dat 'farmaseutiese maatskappye Afrika en die ontwikkelende wêreld as hul toetsterrein gebruik' en arm mense inspan 'as proefkonyne, ten bate van die rykes'.

Die kommentaar het ook gelei tot ’n veldtog op sosiale media in die vorm van ’n Change.org-petisie om korona-entstoftoetse in Afrika te staak.

Die redenasie is dat “farmaseutiese maatskappye Afrika en die ontwikkelende wêreld as hul toetsterrein gebruik” en arm mense inspan “as proefkonyne, ten bate van die rykes”.

Die resultate van die dokters se rassistiese kommentaar was egter nie ver van fopnuus nie.

Vandag word mediese en wetenskaplike navorsing en kliniese toetse streng gereguleer. In ’n Covid-19-wêreld word die wetenskaplike aktiwiteite om ’n entstof wat vir globale gebruik geskik is omtrent onder ’n vergrootglas geplaas.

Benewens ’n kuur is ’n entstof die enigste lewensvatbare manier om die vernietigende gevolge van die siekte te bestuur.

Die dokters se opmerkings het Afrika egter net weer herinner aan voormalige uitbuiting aan die hand van Europese lande. Die gevolg hiervan is ’n ongevraagde aanval op wetenskaplike navorsing.

Om ’n entstof teen Covid-19 te vind, is ’n globale mediese noodgeval en noodsaaklik om te voorkom dat miljoene mense sterf.

Afrika en entstowwe

Moet Afrika deelneem aan ’n wereldwye kliniese toets?

Beslis. As Afrika deelname weier, sal hy sy kans verkwis om ’n belangrike rolspeler te wees in die stryd teen die virus.

Die ergernis oor Locht en Mira se voorstelle is nie sonder rede nie. Daar is lande op die kontinent waar entstowwe en mediese navorsing met agterdog bejeën word en waar albei met hoogs onetiese aktiwiteite verbind kan word – alles in die naam van medisyne.

Die geskiedenis van misbruik en wanpraktyk in Afrika – in die naam van wetenskap en mediese navorsing – kan nie ontken word nie.

Tydens ’n meningitis-uitbreking in Nigerië in 1996 het die farmaseutiese maatskappy Pfiser Trovan sonder die nodige toestemming ’n eksperimentele antibiotika op 200 kinders getoets.

In die 1990’s, in Malawi tydens ’n kliniese toets van die MIV-middel AZT, het swanger vroue wat aan die toetse deelgeneem het, ’n plasebo gekry ondanks die beskikbaarheid van alternatiewe behandelings.

Daar is ’n etiese standaard in navorsing waar ’n plasebo (basies ’n “suikerpilletjie” met geen terapeutiese voordele nie) nie toegedien mag word nie as die doeltreffendheid van ’n nuwe middel of behandeling ondersoek word in gevalle waar daar reeds geskikte behandeling bestaan. Dit is waarom sommige mense bang is hulle gaan met nuwe siektes besmet word as hulle ingeënt word.

Die geskiedenis van misbruik en wanpraktyk in Afrika – in die naam van wetenskap en mediese navorsing – kan nie ontken word nie. Kliniese toetse in die 21ste eeu is egter ’n heel ander storie.

’n Omgewing wat verander

’n Malawiese baba ontvang ’n inspuiting van ’n potensiële entstof vir malaria. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku dat malaria nog meer sterftes in Afrika kan veroorsaak as ál die hulpbronne gebruik word om Covid-19 te bestry. Foto: AP

Globalisering die afgelope paar dekades het daartoe gelei dat navorsingsaktiwiteite in ontwikkelde lande ook na lae-en mediuminkomste-lande geskuif het.

Die vrese dat ontwikkelende lande nie die institusionele vermoë het om navorsing teen dieselfde etiese standaarde as hul Westerse eweknieë te doen nie, het verdwyn.

Pleks daarvan is globale samewerkingsooreenkomste in die gesondheidsektor oor vastelande heen aangegaan. Dit het gelei tot beter samewerking tussen Europese en Afrika-navorsingsorganisasies.

Navorsing in Afrika het meestal finansiering uit die Noordelike Halfrond, met plaaslike akademici en klinici wat deel vorm van die navorsingsproses.

Dit help om ’n balans te handhaaf – projekte met finansiële steun uit die Noordelike Halfrond help navorsingsinstellings uit Afrika om die nodige finansiering vir hul eie projekte te bekom, om hul navorsing te publiseer en so plaaslike navorsingskennis te verbeter.

Niemand deel kan vorm van kliniese toetse sonder om ingeligte toestemming te gee nie.

Die etiese raamwerk vir die toetse is baie streng en internasionale navorsingsorganisasies gee ook die nodige leiding om seker te maak dat die deelnemers in die toetse beskerm word.

Navorsing gaan gepaard met risiko, daarom is daar internasionale protokol wat die deelnemers beskerm.

Elke land het ook sy eie wetgewing en standaarde wat verseker die navorsingsproses is eties.

Dit beteken dat niemand deel kan vorm van kliniese toetse sonder om ingeligte toestemming te gee nie. Om ingeligte toestemming te gee moet die hele proses van die projek aan die deelnemer verduidelik word. Dit sluit in alle potensiële risiko’s en skade wat die deelnemer kan ly, asook die verwagte resultate. Dit moet gedoen word in ’n taal, en op ’n vlak wat die deelnemer verstaan.

Deelnemers kan ook enige tyd hul deelname aan die kliniese toetse staak.

Hul persoonlike inligting is streng vertroulik en die navorser mag nie ’n deelnemer se persoonlike inligting gebruik as hy verkies het om die studie te verlaat nie. Daar is ook instansies waar deelnemers ’n formele klag kan lê as hulle voel hulle word uitgebuit of oneties behandel.

Ná ’n navorsingsprojek moet opgevolg word ten opsigte van die deelnemers se welstand. Daar moet ook gebeurlikheidsplanne wees, sou ’n deelnemer ekstra sorg benodig weens deelname aan die toets.

Covid-19 toetse

Heather Hoppe, ’n verpleegster, ontvang ’n Bacillus Calmette-Guérin (BCG)-inenting ten tyde van ’n kliniese studie in die Sir Charles Gairdner hospitaal in Perth, Australië. Gesondheidswerkers in Wes-Australië neem tans deel aan ’n studie wat ten doel het om te bepaal of die BCG-entstof, wat oorspronklik vir tuberkulose gebruik is, die kans kan verlaag om Covid-19 op te doen.Foto: Getty

Oor die wêreld heen is daar reeds talle kliniese toetse aan die gang om ’n entstof teen Covid-19 te probeer vind. In Asië is daar reeds 1 000 deelnemers wat deel is van ’n kliniese toets van die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy Gilead om die doeltreffendheid van die middel Remdesivir te toets. (Remdesivir, wat voorgehou is as een van die beste vooruitsigte vir die behandeling van Covid-19, het egter in die eerste volledige kliniese toets geen uitwerking gehad nie.)

In Amerika word die eerste toetse van ’n entstof tans op 45 gesonde deelnemers gedoen.

Wettige mediese navorsing is noodsaaklik om te verseker dat pandemies soos Covid-19 doeltreffend bestuur word.

As Afrika nie toetree tot die stryd teen die virus nie, sal dit ’n aanklag wees teen mediese navorsing se mees basiese grondslag – om mense die kans te gun om deel te wees van die oplossing, of deelname te weier op grond van ’n ingeligte besluit.

Die alternatief is om passief op die globale kantlyn te wag vir iemand anders om Afrika te red.

Dr. Gale Ure is ’n navorsingspesialis van die Life Healthcare Group en verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Gale Ure  |  Camille Locht  |  Jean-Paul Mira  |  Europa  |  Afrika  |  Entstof  |  Kolonialisme  |  Covid-19-Pandemie  |  Rassisme  |  Kliniese Toetse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.