Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrika op ’n nuwe pad?

Daar is ’n nuwe poging om van Thabo Mbeki se inisiatiewe te laat herleef, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Oudpres. Thabo Mbeki loop nooit ’n leiersberaad van die Afrika-Unie (AU) mis nie. Hy sit gewoonlik heel voor, in die banke gereserveer vir voormalige staatshoofde.

Hy praat min in die openbaar, selfs al het hy die laaste paar jaar hard gewerk as AU-bemiddelaar in Soedan en Suid-Soedan. Nou en dan hoor jy Suid-Afrikaanse diplomate sê: “Mbeki het ons aangeraai om hierdie standpunt in te neem . . .” of “Op advies van Mbeki . . .”

Hy is immers een van die skeppers van die AU, wat in 2002 die Organisasie van Afrika-Eenheid vervang het. Hy weet waarvan hy praat.

Die laaste paar jaar het van sy planne vir die AU egter vasgeval in ’n moeras van probleme, die weerspieëling van ’n vasteland met ’n lae peil van ekonomiese en politieke ontwikkeling.

Het dit enige impak gehad op die manier waarop lande soos Zimbabwe die afgrond in bestuur is?

Nou is daar ’n nuwe poging om van Mbeki se inisiatiewe te laat herleef.

Die afgelope naweek het Baleka Mbete, speaker van die parlement, en ’n rits gesiene mense soos Hailemariam Desalegn, Ethiopië se voormalige eerste minister, byvoorbeeld in die Sheraton-hotel in Pretoria byeengekom vir die bekendstelling van ’n nuwe verslag van die Afrika-portuurhersieningsmeganisme (APRM).

Vir die meeste Afrikane, veral jongmense, beteken die APRM en sy sake-eweknie Nepad (die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling) nie veel nie.

Aan die begin van die 2000’s is dié instellings egter voorgehou as die fondamente van ’n nuwe Afrika.

Mbeki het die APRM aangebied as ’n nuwe manier van doen op ’n vasteland wat onder die juk staan van internasionale finansiële instellings soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds.

Dit het ’n nuwe ooreenkoms met Afrika se skuldeisers en skenkers behels: Afrika sou self sy sake in orde kry deur selfevaluering, op grond van sy eie maatstawwe vir goeie regering.

In ruil daarvoor sou ontwikkelde lande genooi word om te belê in interkontinentale infrastruktuurprojekte wat deur Nepad geadministreer sou word.

Afrika – potensieel een van die rykste vastelande – wou nie meer bakhand staan nie. Afrikalande wou ook nie gedurig na die pype dans van buitelandse moondhede wat vir hulle dikteer nie.

Voortaan sou die nuwe “vennootskap” tussen Afrika en die res van die wêreld op ’n sake-grondslag funksioneer.

Dit het aangesluit by die konsep van die Afrika-Renaissance – ’n herwaardering van Afrika uit die oogpunt van Afrikane.

Die APRM en Nepad is albei vrywillige organisasies en aanvanklik het net ’n twintigtal lande by hulle aangesluit. ’n Baie burokratiese proses met interne en eksterne evaluasies is toe begin en die verslae is dan op vergaderings van die APRM deur staatshoofde bespreek. Die idee was dat leiers daarna kon teruggaan en regmaak wat fout is.

Ongelukkig het dinge toe nie heeltemal so uitgewerk nie.

Een van die vernaamste skuldiges was Mbeki self.

Suid-Afrika se eerste verslag in 2007 is deur Mbeki verwerp. Hy het geweier om te erken dat misdaad en xenofobiese geweld ernstige probleme is, en het die skrywers van die verslag erg getakel. Vir Suid-Afrikaners was dit nie ’n groot verrassing nie, aangesien Mbeki berug was vir sy ontkenning van die land se werklikhede.

Die geloofwaardigheid van die APRM is hierdeur ondermyn. ’n Hele reeks ander probleme, insluitend die lang proses om verslae te publiseer – soms jare nadat die probleme wat dit bekyk al gekom en gegaan het! – het die APRM ook geknou.

In 2016 het prof. Eddy Maloka, voormalige uitvoerende hoof van die Afrika-instituut, die APRM oorgeneem en probeer dit nou weer in ere herstel.

Die geleentheid by die Sheraton-hotel waar die eerste wêreldverslag oor goeie regering in Afrika bekendgestel is, was deel van hierdie poging.

By die onlangse AU-beraad in Addis Abeba verlede maand het die APRM ook daarin geslaag om twee redelik onlangse evaluerings, van Mosambiek en die Ivoorkus, te publiseer.

Maar van werklike portuurevaluering was daar nie veel sprake nie.

Terwyl hierdie twee lande bespreek is, was daar net ’n handjievol Afrikaleiers in die saal. Hulle het duidelik beter dinge om te doen.

Vir Maloka en sy span lê daar nog baie werk voor.

Uiteindelik gaan dit oor meer as spoggerige seremonies in luukse hotelle en verslae wat iewers op ’n rak beland.

Nepad, wat nou verander word na die AU-Ontwikkelingsagentskap, sukkel ook maar net so met min geld en min belangstelling. Ibrahim Mayaki, Niger se voormalige eerste minister, is al jare lank aan die stuur van die instelling en sal meer dinamika moet toon as hy die storms wil oorleef.

Die kernvraag oor hierdie instellings is of hulle uiteindelik ’n verskil gemaak het aan die manier waarop die vasteland ontwikkel en regeer word.

Wat beteken die APRM-verslag vir menseregte-stryders in die Demokratiese Republiek van die Kongo wat in die tronk sit? Of vir gewone mense in Tsjad wat al maande lank geen toegang het tot sosiale media nie?

Het dit enige impak gehad op die manier waarop lande soos Zimbabwe die afgrond in bestuur is?

’n Mens moet onthou die AU is nie die Europese Unie nie.

Geen land het sy soewereiniteit aan die AU oorgedra nie en min van hulle – behalwe dalk die klein of oorlogsgeteisterdes lande – steur hulle aan wat die AU doen of dink.

Daarom kan ’n mens nie te ambisieus oor die AU wees nie. Dit kan wel norme daarstel en hoop dat leiers daarna sal luister.

Afrika is ook net so goed soos sy leiers. Dit het wel al gebeur dat Afrikaleiers mekaar kritiseer. Ian Khama, Bo­tswana se oudpresident, was byvoorbeeld een van die enigstes wat Zimbab­we se Robert Mugabe getakel het.

In Wes-Afrika het leiers voorverlede jaar met ’n groot spanpoging ontslae geraak van die Gambiese diktator Yahya Jammeh. In die algemeen is leiers wel skrikkerig om mekaar op die vingers te tik.

Die planne vir ’n “nuwe Afrika” moes dus tred hou met die werklikhede van ’n vasteland met 54 lande en baie problematiese leiers.

Aan die positiewe kant is dit egter duidelik dat gewone Afrikane al hoe meer smag na ’n Afrika-Renaissance gegrond op vryheid en demokrasie. Die beginsels vervat in die APRM is nou nog meer aktueel as ooit tevore.

Jongmense skroom nie om die strate in te vaar om hul regte op te eis nie. Die massabetogings deur Algeryne die afgelope paar dae teen die poging van pres. Abdelaziz Bouteflika om vir ’n vyfde termyn aan te bly, is tekenend hiervan.

Daar is ook nou hoop dat Suid-Afrika se ondersteuning in die Ramaphosa-era die AU-instellings kan help. Suid-Afrika lewer wel ’n finansiële bydrae aan die APRM en huisves die organisasie in Midrand, maar nadat Mbeki weg is, het Suid-Afrika nooit weer werklik ’n rol gespeel nie.

Aanstaande jaar gaan Suid-Afrika die voorsitterskap oorneem van sowel die AU as die APRM. Dit is ’n gulde geleentheid om hierdie nuwe dinamiek in die AU te ondersteun.

Van die grootste uitdagings gaan wees om Afrikaleiers te oortuig van die belang van hul kontinentale instellings en dat goeie regering wel belangrik is.

As hulle vergeet, is daar altyd sosiale media en massa-optogte deur jongmense in die strate van Algiers, Kinshasa en Harare om hulle daaraan te herinner.

Meer oor:  Thabo Mbeki  |  Afrika-Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.