Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrika steun al meer op China in onsekere tye

In deesdae se onsekere tye is daar elders in die wêreld weinig belangstelling in Afrika en daarom behoort samewerking met China verwelkom te word, skryf Gert Grobler.

Die son sak oor Wuhan, die stad in China waar die gevreesde koronavirus meer as ’n jaar gelede uitgebreek het. China wil Afrika nou help om dié virus te bekamp. Foto: AP

Vroeg in die nuwe jaar is media-opskrifte oorheers deur verbete pogings deur regerings om entstowwe teen Covid-19 te bekom. Pres. Donald Trump se stormtroepe was besig om die Amerikaanse demokrasie af te takel en die Europese Unie het ná Brexit steeds probeer om tot verhaal te kom.

In dié dae het Afrika en China die tyd benut om hul bestaande vriendskapsbande en samewerking verder uit te bou.

Die Chinese minister van buitelandse sake, Wang Yi, het tussen 4 en 9 Januarie ’n produktiewe besoek aan vyf Afrikalande gebring. Tydens hierdie 31ste opeenvolgende tradisionele “nuwejaars”-besoek aan Afrika deur ’n Chinese minister van buitelandse sake, het Yi Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Botswana, Tanzanië en die Seychelle besoek.

Dit was ’n logiese opvolg van die reeks positiewe interaksies tussen Afrika en China vandat Covid-19 die wêreld begin teister het. Dit het gegaan oor die volgehoue samewerking tussen Afrika en China in die bekamping van die virus.

China het in hierdie tydperk benewens die voorsiening van mediese toerusting aan feitlik alle Afrikalande agt mediese spanne na 16 Afrikalande gestuur en kundige bystand aan 46 hospitale in 42 Afrikalande verleen.

Gert Grobler

China en Afrika se beraad oor solidariteit en samewerking in die bekamping van Covid-19 is op 17 Junie verlede jaar onder die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa en pres. Xi Jinping gehou.

China het destyds grootskaalse hulp aan Afrika beloof om te help met ekonomiese herstel ná Covid-19. Trouens, China het sedertdien skuldverligtingsooreenkomste met 12 Afrikalande gesluit en ’n verdere 15 is van hul Chinese skuld kwytgeskeld.

China het ook ’n leidende rol binne G20-verband gespeel om Afrika se skuldverpligtinge te verlig.

Die Afrika-Unie (AU) en China het verder ’n ooreenkoms onderteken oor die doelgerigte bevordering van China se omvattende ekonomiese en sosiale projek, die “Gordel-en-padinisiatief” van Desember 2020.

Dié projek, waarby 138 lande (waarvan 46 Afrikalande) en 31 internasionale organisasies (onder meer die Verenigde Nasies) reeds betrokke is, het die potensiaal om die wêreldekonomie op kort tot mediumtermyn ’n beduidende hupstoot te gee.

Tydens Wang se besoek het Botswana en die DRK ’n “Gordel-en-padinisiatief”-samewerkingsooreenkoms met China gesluit.

Hulp met bekamping van virus en ekonomie

Wang Yi, China se minister van buitelandse sake, aan die woord op sy onlangse besoek aan Indonesië. Foto: Reuters

Na wat berig is, is Yi deurgaans hartlik tydens sy druk besoek aan Afrika ontvang, en in produktiewe gesprekke met die betrokke lande se leiers is ooreengekom om bilaterale verhoudinge, ook in die konteks van die Forum vir Samewerking tussen China en Afrika asook die “Gordel-en-padinisiatief”, daadwerklik te bevorder.

Die samesprekings het verskeie tasbare resultate opgelewer.

• China het ook onderneem om die betrokke lande, asook Afrika as geheel, verder in die bekamping van Covid-19 asook met die verkryging van die nodige entstof by te staan. Daar is ook gewag gemaak van die nuwe sentrum vir die voorkoming en bestryding van siektes in Addis Abeba, wat China eersdaags namens die AU teen $80 miljoen gaan bou.

• Leiers van die betrokke lande het deurlopend China se “Een China-beleid” gesteun, wat beteken dat hulle China se benadering jeens die Taiwan-kwessie steun. Trouens, dit was Afrika se stem wat deurslaggewend was om China se regmatige terugkeer tot die VN in 1971 te bewerkstellig.

China het sy volgehoue steun aan die regering van die DRK belowe om eenheid en stabiliteit in die land te bevorder.

• Pres. Muhammadu Buhari het in Lagos verwys na China as ’n “strategiese vennoot” en daar is ooreengekom om ’n nuwe interregeringskomitee tussen China en Nigerië in die lewe te roep om momentum aan hul samewerking te gee. Aangesien daar nog baie ruimte is vir die uitbreiding van handel tussen Nigerië en China, het die twee leiers besluit om ekonomiese samewerking te bevorder en om regstreekse vlugte tussen Lagos en stede in China in te stel.

• China het sy volgehoue steun aan die regering van die DRK belowe om eenheid en stabiliteit in die land te bevorder. China het byvoorbeeld beloof om die uitstaande lenings van $28 miljoen aan die DRK af te skryf. Hoewel China reeds betrokke is by 53 infrastruktuurprojekte in die DRK, is besluit om onverwyld die bilaterale gesamentlike komitee oor ekonomie en handel byeen te roep met die doel om bilaterale ekonomiese bande verder te versterk. China sal die DRK ook vanjaar in sy hoedanigheid as die nuwe roterende AU-voorsitter bystaan.

• Tydens die gesprekke tussen pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana en Yi in Gaborone is ’n samewerkingsooreenkoms oor die “Gordel-en-pad”-inisiatief onderteken, en China het onderneem om Botswana met die industrialisasie en diversifikasie van sy ekonomie by te staan.

• Die Tanzaniese regering het ná samesprekings tussen pres. John Magufuli en Yi in Dar es Salaam bevestig dat kontrakte ter waarde van $1,31 miljard aan Chinese maatskappye vir die bou van die strategies belangrike Mwanza-Isaka-spoorlyn toegeken is. China het reeds ’n sterk gevestigde ekonomiese teenwoordigheid in Tanzanië, onder meer vanweë sy aanvanklike betrokkenheid by die befaamde Tazara-spoorlyn. China het ook onderneem om Tanzanië aktief met die vestiging van die land as ’n logistieke en vervoer-spilpunt in Afrika te ondersteun. Hulle het ook onderneem om onverwyld Sinopharm, China se entstof teen Covid-19, aan die Seychelle te verskaf.

Samewerking moet Afrika se doelwitte nastreef

’n Gesondheidswerker in Beijing verduidelik aan ’n pasiënt hoe ’n entstof teen die koronavirus werk. Foto: AP

Afrika word weens Covid-19 deur beduidende ekonomiese en ontwikkelingsuitdagings in die gesig gestaar.

Dié vasteland is besig om “Agenda 2063” van die AU in werking te stel ten einde ’n vooruitstrewende en stabiele Afrika te skep.

Afrika die samewerking van al sy internasionale vennote broodnodig om dié doelwit, asook die VN se Agenda 2030 se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te bereik.

Dit is ongelukkig so dat daar tans weens vele uitdagings in ’n onsekere wêreld met sy gebrekkige leierskap, swak ekonomiese groei en verdeeldheid weinig belangstelling in Afrika is. Trouens, in die VSA en die Europese Unie is dit onvermydelik dat daar weens interne kwessies in die afsienbare toekoms bitter min aandag aan Afrika gegee sal word.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die groeiende samewerking tussen Afrika en China, soos vergestalt met Yi se besoek, verwelkom moet word.

Volgens die Wêreldbank herstel China se ekonomie merkwaardige en sal dit na verwagting vanjaar met tussen 7% en 8% groei.

Twee mense doen inkopies in ’n winkelsentrum in Beijing, die Chinese hoofstad. Die Chinese ekonomie is aan die herstel ná die verwoesting van Covid-19 en groei van tot soveel as 8% word vanjaar verwag. Foto: AP

China het trouens tydens Yi se besoek sy onomwonde steun aan Afrika verleen wat die bereiking van die vasteland se onmiddellike prioriteite binne die raamwerk van Agenda 2063 van die AU betref. Dit behels onder meer:

• Verdere bystand aan Afrika rakende Covid-19, die verbetering van gesondheidsdienste en toegang tot ’n entstof vir Afrika.

• China is reeds verreweg Afrika se grootste handelsvennoot en het doelgerigte hulp ten opsigte van ekonomiese herstel aangebied. Dit sal bewerkstellig word deur die transformasie van Afrika se ekonomie deur verhoogde Chinese beleggings en handel. Sterk steun sal ook aan Afrika se nuwe vryehandelsooreenkoms gegee word wat op 1 Januarie 2021 in werking getree het.

• Voortgesette hulp aan Afrika om konflik op die vasteland te verminder.

China en Afrika is besig met voorbereidings vir die belangrike beraad oor samewerking wat later vanjaar in Senegal sal plaasvind.

Uit Afrika se oogpunt is dit belangrik dat samewerking met China toenemend in ooreenstemming met Afrika se doelwitte moet geskied. Dis noodsaaklik dat ooreengekome projekte tasbare voordele vir Afrika moet inhou met ’n toenemende fokus op ekonomiese industrialisasie en diversifikasie, volhoubare en verantwoordelike finansiële samewerking, plaaslike werkskepping en verkryging asook ’n sterker omgewingsbewustheid.

Wat die onmiddellike toekoms betref, is China en Afrika besig met voorbereidings vir die belangrike beraad oor samewerking wat later vanjaar in Senegal sal plaasvind, en wat onder meer as gevolg van die effek van Covid-19 talle nuwe geleenthede vir uitgebreide betrekkinge sal skep.

Trouens Afrika en China staan tans inderdaad op die drumpel van ’n “nuwe tydperk” van ’n hegter vriendskap en meer omvattende samewerking.

Grobler is ’n voormalige ambassadeur en tans besoekende lektor aan die Instituut vir Afrikastudies aan die Zhejiang-Normaaluniversiteit in Jinhua, China. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afrika-Unie  |  Xi Jinping  |  Wang Yi  |  Cyril Ramaphosa  |  China  |  Afrika  |  Entstowwe  |  Ekonomie  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.