Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans: ‘Boetie, ek gaan jou seermaak!’

Dit is jammer dat taal jong mense in Suid-Afrika op die oomblik verdeel, want dit is iets wat hulle eerder kan verenig, is op die laaste aktuele gesprek op die Aardklop-kunstefees gehoor. Gert van der Westhuizen doen verslag.

Lynthia Julius glo taal moet jong Suid-Afrikaners eerder verenig as wat dit hulle verdeel. Foto: Argief

Is Afrikaans iets wat steeds gesien moet word as die taal van die onderdrukker en word dit deesdae weer gebruik om mense uit te sluit? Dít is van die kwessies wat ter sprake gekom het op die laaste aktuele gesprek op vanjaar se Aardklop-kunstefees in Potchefstroom.

Die tema van die gesprek was “Kultuur en erfenis in ’n jong demokrasie: voel jy steeds vry om jou kultuur en erfenis te beoefen?” Heindrich Wyngaard, aanbieder op kykNET Verslag wat die gesprek in samewerking met Beeld aangebied het, was die gespreksleier. Ingrid Jones, een van die aanbieders van die geselsprogram “Tussen Ons” op kykNET&kie, dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, en Lynthia Julius, digter en filosofiestudent, het dié vraag saam met Wyngaard probeer ontrafel.

Wyngaard wou in ’n stadium by Julius weet wat sogenaamde “born frees” soos sy dink oor grootmense wat so angstig is oor die kultuur en die taal en die toekoms van die kultuur en die taal.

Sy het as antwoord iemand aangehaal wat vir haar gesê het as jong mense werklik gelukkig wil wees in die land, moet hulle almal ouer as 50 wegjaag. Maar sy het as jong vrou sterk gevoelens oor die taal, het dit geblyk nadat die gehoor se gelag bedaar het.

“As dit kom by taal, raak ek baie kwaad,” het Julius gesê voordat sy vertel het van ’n gesprek wat sy onlangs met ’n meisie in Afrikaans gehad het. “Een wit Engelse man sê vir my: ‘Oh, you’re speaking the language of the oppressor?’ Ek sê vir hom: ‘Boetie, ek gaan vir jou seer maak. Ek gaan vir jou seer maak!

“Die ANC en die EFF, veral daar by Kovsies, is so bitterlik kwaad oor Afrikaans,” het Julius gesê voordat sy vertel het hoe sy nie te lank gelede gesien het hoe iemand ’n vrou uittrap wat in ’n winkel Afrikaanse gepraat het. “So, hulle het hierdie woede in die studente gesit oor Afrikaans en die politiek en taal op universiteite is ’n ander ding. Dit is vir my so ’n vreemde ding dat taal, dit wat ons so mooi een kan maak, ons as jong mense so baie skei.”

Wees inklusief en reik uit

Dr. Leslie van Rooi sê ’n kultuur kan nie stilstaan nie, maar moet deurentyd vernuwe. Foto: Argief

Van Rooi sê Afrikaans is níé ’n taal wat nie kan bevry nie, of wat mense nie kan vry maak nie, of waarin mense nie oop en eg en eerlik kan wees nie.

“Ons gebruik soms taal om seer te maak, maar dit is nie soos Afrikaans inherent is nie. Dit is nie hoe ek Afrikaans se oorsprong verstaan nie. Dit is nie iets wat enige aard van kommunikasie ooit wil wees nie, behalwe as ons dit só gebruik.

“Die beste manier waarop ons ons kan verskans teen ’n Afrikaans wat met mag wil seermaak, is juis om te verstaan dat Afrikaans nooit die enige taal kan wees nie en dat ek in my taalgemeenskap nie net Afrikaans moet wees nie en net Afrikaans moet praat nie. Dis waarskynlik die beste teenmiddel.”

Volgens Jones het Afrikaanse mense wat positief is oor die land besef dat hulle inklusief moet wees wanneer dit gaan oor iets wat vir hulle kosbaar is, soos die taal.

Sy het onder meer verwys na Afrikaanse kunstefeeste. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is byvoorbeeld vandag iets heeltemal anders as die oorspronklike fees. “Dit is baie meer inklusief en reik uit na ander. Die bestuur van die KKNK is meer divers is as wat dit in die begin was.”

Jones het ook verwys na Solidariteit se nuwe kampus vir sy tegniese kollege, Sol-Tech, wat onder meer tot ’n bohaai gelei het op wat sy woke-Twitter noem. Sy meen mense moet eerder ophou kla en self moue oprol.

“As jy byvoorbeeld Venda wil preserveer, begin goed te doen vir Venda. Bou ’n universiteit, bou ’n skool, hou ’n fees. Begin innoverend te dink oor hoe jy hoe dít waaroor jy sterk voel kan promoveer pleks van om die hele tyd na ander mense te kyk en na die Afrikaners te kyk.

“In ’n land wat veeltalig is, moet elke taal in my opinie dieselfde aandag kry as die ander, maar daar is soveel maniere om jou taal en kultuur uit te leef. As jy minder benepe is dan gaan die wêreld vir jou oop.”

Gevangenes van die verlede

Ingrid Jones sê Suid-Afrikaners hou daarvan om hulself in “boksies” of “dosies” te plaas. Foto: Argief

Jones sê Suid-Afrikaners hou daarvan om “bedoosd” te wees, om hulself “in dosies te sit waaruit hulle sukkel om te kom” en waarin hulle gevangenes van die verlede word.

Haar “dosie” is bruin. Sy kan nooit vergeet dat sy uit ’n plaasagtergrond op Bonnievale kom nie en hoewel sy middelklas was met ’n pa wat ’n onderwyser is en ’n ma wat ’n verpleegster is, het sy aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword.

Deesdae beskou sy haarself as ’n wêreldburger wat in Suid-Afrika bly.

Van Rooi sê Suid-Afrikaners is in die verlede “gebreinspoel” om te glo “jy het niks met die ander te doen nie, jy is nie só nie en hierdie resep werk net vir jou, en hierdie geskiedenis is net joune en hierdie aard van dink en doen is net joune”.

Gelukkig kon Suid-Afrikaners die afgelope 25 jaar begin verstaan dat jy jou erfenis beter kan verstaan in verhouding tot ander verhale, stories en identiteite.

“Jy is nie net gebonde aan ’n skraal verstaan van jou eie storie en erfenis en identiteit nie; ons het die kans om meer te verstaan van mekaar. Ons hoef nie meer in ons eie hoekie te sit nie.”

Kultuur en erfenis bly egter ’n komplekse kwessie het dit deurentyd in die gesprek geblyk en van een erfenis en kultuur vir almal, ’n Suid-Afrikaansheid, is daar nog nie sprake nie.

Heindrich Wyngaard was die gespreksleier wat met paneellede oor Suid-Afrikaanse kultuur en erfenis gesels het. Foto: Argief

Julius beskou haarself as ’n Nama van Namakwaland. Ouer mense het haar egter met niks gelaat waarmee sy haar kultuur kan uitleef nie en sy moes gaan nalees daaroor.

Sy het vertel van haar gedig “Ontheemding” en dit later vir die gehoor voorgelees. Daarin sê sy haar ma kon tot tien in Nama tel.

“En toe ek nou die dag try, toe kom ek by drie – twee generasies, sewe minder Nama-woorde. Met wat het julle my gelos om vry te wees? Hoe kan ek vry wees as julle my met niks gelos het nie?

“Ja, ek kan gaan oplees, ja ek kan met ou mense gaan praat. Ja, ons is ’n generasie met ’n klomp vrae, ja ons is ’n generasie wat kwaad is, maar wat se erfenis is daar vir ons gegee om verder te kan vat?”

Van Rooi sê erfenis gaan beslis ook oor wat jy aan ander nalaat. En, soos sy ervaring as koshuisvader op die Universiteit Stellenbosch hom geleer het, kan jy nie net stilstaan nie.

“As jy stilstaan, gaan jy eintlik agteruit. Jy moet gedurig vernuwe. Die maklike daarvan is dat jy vir mense kan wys jy is beter af deur ’n stap vorentoe te neem, dat jy nie iets verloor nie. Die moeilike daarvan is om seker te maak dat jy diversiteit kan behou, dat jy nie net een taal gebruik nie of nie net een verstaan het van dinge nie.”

Jones meen Suid-Afrikaners moet “hul boksies” weggooi en hulself definieer.

“Dan gaan ons vinniger by ’n Suid-Afrikaansheid uitkom. Maar dit gaan nog ’n lang pad wees.”

Meer oor:  Aardklop  |  Heindrich Wyngaard  |  Suid-Afrika  |  Afrikaans  |  Kultuur  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.