Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans gered deur sy sprekers
Leopold Scholtz

In die doodsnikke van 2016 het Die Burger ’n lesersbrief gepubliseer van Charl Linde, ’n jongerige Suid-Afrikaner, wat nogal krities was oor wat sekere Afrikaanse akademici in November op ’n konferensie aan die Universiteit van Gent oor die situasie van hul taal kwytgeraak het.

(Laat ek eers dít van my hart kry: Agter Linde se naam het “Gent, Nederland”, gestaan. Gent is natuurlik nie in Nederland nie; wel in België. Maar dit daar gelaat.)

Die brief – soos ook een van die reaksies daarop, van Ingrid Glorie uit Haarlem (dié stad is darem wel in Nederland!) – was ’n bedekte aanval op die reguit toespraak van onder andere prof. Wannie Carstens van Potchefstroom. Daarin het Carstens oor die uitwerking van die ANC se taalpolitiek op die posisie van Afrikaans op universiteite gepraat. Die toespraak is op LitNet gepubliseer. Of jy nou daarmee saamstem of nie, gaan lees dit gerus.

Dis uiteraard die reg van mense soos Linde om daarmee te verskil. Waarop hulle nié reg het nie, is hul eie feite.

Verskillende studies het empiries na leerlinge en studente se punte gekyk, en ’n onomwonde korrelasie tussen prestasie en moedertaalonderwys gevind.

Wat is dié feite? Ten eerste, talle akademiese studies het bo alle redelike twyfel bewys moedertaalonderwys lewer verreweg die beste resultate op.

Dit geld sowel die ontvanger van die onderwys (wat sy eie taal die heel beste verstaan) as die persoon wat die klas gee (wat sy taal met alle nuanses die beste praat). Dít geld ook alle onderwysvlakke – laer- en hoërskool; selfs universiteit.

Verskillende studies het empiries na leerlinge en studente se punte gekyk, en ’n onomwonde korrelasie tussen prestasie en moedertaalonderwys gevind. Dít is nie ’n vertolking nie, dit is ’n harde feit.

Waar ’n mens moontlik wel sou kon verskil, is die vraag watter gewig jy hieraan heg. Dit kan wees dat jy “versoening” en kennismaking oor taalgrense heen belangriker as prestasie ag. Maar wees dan ten minste eerlik daaroor en sê dit reguit – dan kan ’n mens ’n saaklike gesprek daaroor voer.

Tweedens, dat die ANC slegs lippediens aan die belang van taal betuig. In my navorsing oor die ANC in ballingskap het ek afgekom op aanduidings dat Umkhonto weSizwe (MK) se opleiding in kampe in Angola grotendeels in Engels geskied het.

Dalk was dit, gesien die taalverskeidenheid van die MK-vegters, die beste praktiese oplossing, maar dit wys dat die ANC inheemse tale toe al ten gunste van Engels onderbeklemtoon het.

Die voorstel meer as 20 jaar gelede om 11 amptelike tale in die Grondwet op te neem, was agterna bloot ’n slenter om Engels voor te trek. Vandaar dat die ANC sedertdien geen vinger gelig het om die inheemse tale, waaronder Afrikaans, te bevorder nie.

Prakties gesproke het Suid-Afrika vandag slegs één amptelike taal: geradbraakte Engels.

Wat ten derde hieruit voortvloei, is dat die toekoms van Afrikaans van die belegging van sy sprekers afhang. Dit beteken die stryd om die behoud van Afrikaanse skole en universiteite moet met verdubbelde ywer gevoer word.

Daarvan hang naamlik die sogenaamde hoër funksies af. Verdwyn die Afrikaanse skole en universiteite, kwyn Afrikaans terug tot waar hy begin het – die kombuis van arm, afgeleë gemeenskappe.

Hoe seer dit ook al maak, Afrikaans is klaarpraat aan die universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch – en dit grotendeels deur die toedoen van Afrikaanssprekendes. Potchefstroom hou nog, en Akademia begin homself laat geld.

Die geveg moet egter ook op skoolvlak gevoer word. Sonder Afrikaanse skole kan Afrikaans op universiteit nie oorleef nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Gent  |  Sake Van Die Dag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.