Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans het regmatige plek op Potch-kampus

Die owerhede van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n historiese en morele verantwoordelikheid om Afrikaans ’n regmatige plek op die Potchefstroom-kampus te laat behou, skryf Theuns Eloff.

Die Potchefstroom-kampus van die NWU het ’n geskiedenis van meer as 100 jaar. Foto: Verskaf

Die saamgesmelte NWU het ’n paar belangrike kenmerke gehad.

Die eerste hiervan was eenheid in korporatiewe bestuur met een raad, een senaat, een institusionele bestuur, een korporatiewe logo, een stel reëls, een kwaliteitsraamwerk en een stel akademiese standaarde.

Die tweede was gedesentraliseerde bestuur op die drie kampusse, eie kampusidentiteite en funksionele meertaligheid. Die NWU was ’n historiese en werkbare skikking tussen die twee voormalige universiteite en was ’n weerspieëling van ons land se leuse van eenheid in diversiteit.

Die tendens aan die NWU is téén diversiteit. En dit geld veral die Potchefstroom-kampus, met ’n geskiedenis van meer as 100 jaar.

Met nuwe leierskap in 2014 is begin om die NWU se bestuur te sentraliseer, en ’n groot klem is op rasgedrewe transformasie gelê. Kampusbesture is afgeskaf, die logo het pers geword en kampusidentiteite word nie meer toegelaat nie.

In die Varsitybeker-reeks word selfs Kovsies (met twee kampusse) nog die UV-Shimlas genoem, maar die naam NWU-Pukke mag – in die naam van die “nuwe eenheid” – nie meer gebruik word nie. Die punt is: Die tendens aan die NWU is téén diversiteit. En dit geld veral die Potchefstroom-kampus, met ’n geskiedenis van meer as 100 jaar.

Dit is hoekom daar met soveel agterdog gekyk word na die huidige proses om die taalbeleid van die NWU te hersien.

Afrikaans deel van kampus se identiteit

Die naam NWU-Pukke word nie meer in die Varsitybeker-reeks gebruik nie. Foto: Jaco Marais

Dat Afrikaans op die Potch-kampus gebruik word, is ’n inherente deel van die diversiteit van die NWU en van die kampusidentiteit. Dit definieer die kampus met die beste georganiseerde studentelewe in die land.

Die hersieningsproses het begin op ’n senaatsvergadering in 2017, waarna ’n konsepbeleid aanvaar en drie weke gelede vir konsultasie met belanghebbers, onder wie oudstudente, gepubliseer is.

Die uitslag van die konsultasie sal in Mei 2018 deur die senaat en daarna in Junie 2018 deur die raad oorweeg word. By die lees van die konseptaalbeleid, wonder ’n mens waaroor die bohaai gaan.

NWU-Potch is letterlik die laaste plek in die wêreld waar ’n mens nog ’n hele graad in Afrikaans kan verwerf.

Dis grootliks gebalanseerd, geskoei op die beleid van 2012, met groter beklemtoning van die regmatige plek van Afrikatale.

Dis ook grootliks in ooreenstemming met die nuwe konsep-taalbeleid van die minister van hoër onderwys wat onlangs gepubliseer is en waarin Afrikaans as ’n inheemse taal beskryf word wat ’n volwaardige plek moet hê.

Hoekom dan die bohaai? Vir Afrikaanssprekendes en oudstudente is daar ’n paar oorsake.

Afrikaans as hoër onderwystaal verkeer onder ontsaglike druk. Dis by UP en UV grootliks vernietig en aan Stellenbosch tot sekondêre taal verdoem. NWU-Potch is letterlik die laaste plek in die wêreld waar ’n mens nog ’n hele graad in Afrikaans kan verwerf.

Probleem by mense wat nuwe taalbeleid toepas

Dan was daar swak kommunikasie vanaf die NWU en agterdog teenoor die bestuur en die raad van die NWU. En dan is daar die uitgelekte Balfour-dokument, wat na die vermeende outeur, prof. Robert Balfour, die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, genoem is.

Die Balfour-dokument is ’n bestuursinset in die proses van taalhersiening. Dit is nie ’n besonder goeie, samehangende dokument nie en duidelik ’n sameflansing van verskillende en selfs teenoorgestelde standpunte. Maar dit sê duidelik dat Engels binne ’n paar jaar die enigste of hooftaal van die NWU moet wees.

Die feit dat die raad van die NWU ’n teiken van 51% nie-Afrikaanssprekende studente vir 2022 vir die Potch-kampus gestel het, maak totale verengelsing reeds amper onomkeerbaar.

Uit die dokument is dit duidelik dat daar verskille en selfs spanning in die universiteitsbestuur is. Dat só ’n dokument ’n bestuursinset kan wees, sê baie van die NWU-bestuur. Dit wys dat daar ’n probleem is – juis by dié mense wat die nuwe taalbeleid sal moet toepas.

Die debat oor Afrikaans aan die NWU lê op verskillende vlakke. Die makrovlak fokus op die vraag of daar werklik in ’n land met oor die 40 kampusse en 13 miljoen Afrikaanssprekers nie plek mag wees vir één kampus waar dié taal nog die primêre onderrigtaal is nie. Is dit redelik dat ook dit op die altaar van transformasie en toegang geoffer word?

En hoe kan dit met die grondwetlike reg op onderrig in die taal van keuse versoen word?

Tweedens is daar die internasionaal aanvaarde kantelpunt vir taalgebruik: As daar meer as 30% nie-moedertaalgebruikers in ’n minderheidstaalomgewing (NWU-Potch) is, val die taalgebruik onkeerbaar na die meerderheidstaal (in hierdie geval Engels).

Die feit dat die raad van die NWU ’n teiken van 51% nie-Afrikaanssprekende studente vir 2022 vir die Potch-kampus gestel het, maak totale verengelsing reeds amper onomkeerbaar. Die vraag wat in belanghebbers se gemoedere woed, is of hierdie hersiening bloot ’n bespoediging van daardie algehele verengelsing is.

Ander tale het ook ’n plek

Die derde vlak van die debat is hoedat Afrikaans behou kan word op een kampus van ’n driekampus-instelling as daar ’n gesentraliseerde bestuur is.

Hoe kan verwag word van ’n dekaan van byvoorbeeld lettere en wysbegeerte wat in Mafikeng sit, wat Setswanasprekend is en haar akademie in Engels bedryf, om Afrikaans op een van “haar” drie kampusse te bevorder of selfs toe te laat?

Oudstudente vra nie ’n kampus waar in ’n selfgespinde kokon slegs Afrikaans gepraat word nie. Dit het al 15 jaar gelede verander.

Die kiem van Afrikaans se dood in Potchefstroom lê reeds in die bestuursmodel. En die Balfour-dokument bewys dat die nuwe aanstellings in terme van transformasie vere vir Afrikaans (of die Potchefstroom-kampus se ryk geskiedenis) voel.

Oudstudente vra nie ’n kampus waar in ’n selfgespinde kokon slegs Afrikaans gepraat word nie. Dit het al 15 jaar gelede verander. Sedert 2005 is daar al naamborde in drie tale op die Potch-kampus.

Maar almal wat pro-Afrikaans is, wil ten minste weet dat dit op een van die NWU-kampusse moontlik is om ’n eerste graad volledig in Afrikaans te kan volg. Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika wil weet dat daar één kampus in die land is waar hul kinders tuis sal kan voel en hul moedertaal kan hoor en gebruik – binne ’n konteks van veeltaligheid.

Theuns Eloff

In die Balfour-dokument en ander transformasiegeskrifte word wel baie gemaak van tuisvoel – solank dit in Engels is!

Die hersiening van die NWU se taalbeleid maak Afrikaanssprekendes tereg onrustig.

Die NWU se senaat, bestuur en raad het ’n historiese en morele verantwoordelikheid om nie net duidelikheid te bring nie, maar om hulle plig teenoor tienduisende oud-Pukke te doen en Afrikaans ’n regmatige plek op die Potchefstroom-kampus te laat behou.

Daar is ook ’n plig, wat die groot meerderheid oud-Pukke en Afrikaanses ondersteun, om Setswana en Sesotho tot volwaardige akademiese tale te laat ontwikkel.

As die NWU-bestuur en raad hul plig versaak en die NWU volledig verengels, sal albei hierdie take misluk.

* Dr. Eloff is ’n uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting en skryf hier in sy hoedanigheid as ’n oud-Puk.

Meer oor:  Nwu  |  Theuns Eloff  |  Potchefstroom  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.