Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans. . . in bruin hande: Regtig?

Waarom staan die grootste groep Afrikaanssprekendes buite die debat oor Afrikaans en wat is bruin mense se rede om nie die wapen vir Afrikaans saam met wit mense op te neem nie, vra Michael le Cordeur.

In die onlangse verlede was daar verskeie uitsprake oor bruin mense se apatiese houding teenoor Afrikaans; ten spyte daarvan dat hulle die grootste getal Afrikaanssprekers is.

So skryf Tim du Plessis in Rapport (27.08.17) dat “bruin mense nou die toekoms van Afrikaans in hul hande hou”. Hierop vra Heindrich Wyngaard “Waarom is bruin mense so stil?” (Rapport, 21.01.18) na aanleiding van bruin mense se stilswye ná die howe se uitspraak oor die status van die taal aan die Universiteit Stellenbosch (US) en dié van die Vrystaat. Leopold Scholtz (25.01.18) reageer met: “ . . . dis ons almal se moeder wat in die konstitusionele hof tot ’n langsame dood gevonnis is en ons moet almal inspring om haar te red.”

Telkens word die getalle van bruin Afrikaanssprekendes bygesleep as iemand ’n argument ten gunste van Afrikaans wil staaf.

Toe die Gautengse LUR vir onderwys aankondig Afrikaanse skole gaan verander na Engels, was sommige gou om daarop te wys meer bruin mense praat Afrikaans as wit mense. Dikwels moet ons hoor dat Stellenbosch nie sy Afrikaansheid durf prysgee nie omdat dit die onderrigtaal van baie bruin studente is (wat terloops net 18% van die studentepopulasie uitmaak).

Laat my toe om my bona fides te stel: Ek is in Afrikaans ontvang en gebore. My ouers (Michael sr. en Sylvia) praat albei steeds Standaardafrikaans. My oupa Willie, wat as hy nog geleef het vanjaar 105 jaar oud sou gewees het, is Afrikaans gebore en een van die eerste ses matrieks aan die plaaslike (Afrikaanse) Hoërskool Bergrivier.

Dis dieselfde skool waar ek gematrikuleer het danksy skitterende onderwysers soos mnre. Ivan Samaai. Patrick Mettler, Bill Meyer, Thys Adams en Cupido Cupido. Dieselfde skool waar ek Afrikaans onderrig het, en waar my vrou steeds Afrikaans onderrig en verlede jaar 100% behaal het met haar Afrikaans-matriekklas vir tweedetaalleerlinge. Anders as talle van my bruin tydgenote het ek my kinders Afrikaans grootgemaak en in ’n plaaslike Afrikaanse skool gesit met die opdrag: Sorg dat jy jou huistaal so goed moontlik bemeester. Maar sorg ook dat jy Engels vlot kan praat.

Dis dieselfde boodskap wat ek aan my studente by die US gee. Vandag is albei my kinders suksesvol, gegradueerd en ekonomies onafhanklik.

Teen die einde van die fees kon die feesgangers ’n eenvoudige gesprek met hul Xhosa-landgenote voer!

Danksy talle tydelike werkies (want die staatsbeurs het slegs klasgeld betaal) kon ek aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer en ’n Afrikaansonderwyser word. Ek was van vroeg af reeds betrokke by Afrikaanse vakverenigings en is vandag steeds betrokke by Afrikaanse organisasies. Tog was geen Afrikaanse instansie bereid om vir my ’n beurs te gee vir my doktorale studie oor Afrikaanse onderwys nie. Elke sent het uit my sak gekom.

Ek gee hierdie breedvoerige agtergrond sodat niemand moet twyfel oor my liefde en passie vir Afrikaans of my moet verdink dat ek Afrikaans versaak oor wat ek nou gaan sê nie.

Dat bruin mense “stil” is oor Afrikaans is myns insiens nie heeltemal waar nie. Ek het reeds 26 jaar gelede in hierdie einste koerant geskryf die “Bewaring van Afrikaans vereis ’n nuwe benadering op skool” (DB, 21.05.92).

En ’n jaar later skryf ek “Afrikaans se toekoms het lank laas so seker gelyk as nou” (DB, 23.07.93). Die meeste van die studente wat nou in my Afrikaanse klas sit, was tóé nog nie eens gebore nie.

Sedertdien het meer as 250 artikels oor Afrikaans en my liefde vir die taal uit my pen verskyn (dis nou volgens my 80-jarige moeder wat ál my artikels die afgelope 26 jaar sorgvuldig uitknip en liasseer). Ek het Afrikaans se saak gestel in byna elke Afrikaanse dagblad en tydskrif; selfs in Engelse en oorsese publikasies. Vandag is ek een van slegs ’n handjievol Stellenbosse akademici wat nog skryf en publiseer in Afrikaans – tot my nadeel.

Ek gee hierdie breedvoerige agtergrond sodat niemand moet twyfel oor my liefde en passie vir Afrikaans of my moet verdink dat ek Afrikaans versaak oor wat ek nou gaan sê nie.

Ek is ook nie die enigste bruin mens wat passievol oor Afrikaans is nie. Kyk maar na die talle uitsprake deur bruin kol­legas op sosiale media: Alles in pragtige welluidende Afrikaans. Die vraag is dus: Waarom staan (die meeste) bruin mense buite die debat van Afrikaans?

Heel eerste is ek van mening, en ek het dit reeds vantevore geskryf, dat bruin mense minder blootstelling kry in die media.

Dat die artikels wat deur hulle geskryf word, nie so geredelik aanvaar word as hulle dit vir ­

publikasie voorlê nie. Die gevoel is omdat bruin mense se standpunt oor Afrikaans van die hoofstroom verskil, word hul standpunt geïgnoreer.

Die tweede rede waarom bruin mense versigtig is om by ’n taaldebat betrokke te raak, is omdat hulle van nature “nie van moeilikheid hou nie”. Dit is ’n oorblyfsel van hul slawenalatenskap toe hulle geleer is om hul mond te hou en net te doen wat die “baas” sê. Daarom dat hulle só lank stilgebly het onder apartheid. Selfs toe die bruin jeug in 1976 die inisiatief geneem het, moes ons dikwels hoor: “Julle moet uit die moeilikheid bly.”

’n Derde en baie legitieme rede vir bruin mense se onbetrokkenheid by die taaldebat is hul stryd om oorlewing. Daar is soveel ander probleme, soos armoede, onderwys en veiligheid in die bruin gemeenskap, sal hulle vir jou sê. Die meeste bruin mense se eerste prioriteit is en was nog altyd om saans kos op die tafel te sit.

Dit is byvoorbeeld nie vreemd dat jy Christene en Moslems in een familie kry nie. Ek is die produk van so ’n familie.

Baie (maar nie alle) wit mense kan nie begryp waarom die grootste groep Afrikaanse sprekers nie die wapen vir Afrikaans saam met hulle wil opneem nie. Aan die ander kant kan bruin mense nie verstaan waarom wit mense alewig wil oorlog maak oor taal terwyl hulle geen snars omgee vir die werklike oorlog tussen die bendes op die Kaapse Vlakte nie.

’n Belangrike rede hang saam met die apartheidsregering se klassifikasiebeleid. Deur almal wat nie wit of swart is nie onder die skelwoord “kleurling” te groepeer, het wit mense onwetend ’n lat vir hulself gepluk.

Bruin mense se natuurlike instink om te oorleef het daartoe gelei dat hulle iets só negatief omgeskakel het in die positiewe. Khoi en San, Griekwa en Moslem en Indiër het binne ’n relatief kort tydperk ’n manier gekry om met mekaar saam te leef.

Hulle het mekaar se gewoontes, waardes en selfs godsdiens begin aanvaar en aangeleer. Dit is byvoorbeeld nie vreemd dat jy Christene en Moslems in een familie kry nie. Ek is die produk van so ’n familie.

Ons het saam Kersfees en Labarang (Eid) gevier. Ons het ons sosiale en sportkalender rondom kerktyd (Sondagoggende) en moskeetyd (Vrydagmiddae) georganiseer. Samoesas, brijani, roti en kerrie het ons rondom die kostafel verenig. Tot vandag toe geniet ons koesiesters (nie koeksisters nie) vir ontbyt op Sondae.

Ondertrouery het plaasgevind. Ons het mekaar se taal aangeleer. Daarom is die meeste bruin mense ewe gemaklik met Kaapse Afrikaans as Standaardafrikaans. Ook met Afrikaans én Engels, want ons het met albei tale grootgeword.

Soos Jo-Ann Floris skryf: “Afrikaans en Engels het nog altyd handjies vasgehou en openlik gevry” (DB, 14.02.18). Die een kant van die familie was die Engelse van Distrik Ses (my ma) en die ander kant was die Afrikaanse mense van die Boland (my pa). Daarom praat bruin mense tot vandag toe nie van oom en tannie nie, maar van auntie Sony en uncle Mikey. Om dus teen Engels uit te vaar is om teen die taal van ’n deel van jou familie te diskrimineer.

Dan was (is) daar ook die bruin elite onder ons. Diegene wat by die politiek betrokke geraak het. Wat alles van die apartheidsregering gehaat het. Wat mense aangemoedig het om niks te doene te hê met die “boere” nie. Dit sluit in sport en taal.

Vandag is ek een van slegs ’n handjievol Stellenbosse akademici wat nog skryf en publiseer in Afrikaans – tot my nadeel.

Hulle kinders is Engels grootgemaak. Die sportboikot van die apartheidsera is hoofsaaklik in Engels gevoer. Vergaderings en notules is in Engels gehou (al het ons tydens teepouses net Afrikaans gepraat).

Afrikaans is tot die taal van die onderdrukker verklaar. Enigeen wat toenadering tot Afrikaans en wit sport gesoek het, is verguis en gemarginaliseer.

Scholtz stel dit baie goed wanneer hy sê: “Wanneer wit mense hulle begin uitspreek oor bruin mense se verhouding met Afrikaans, moet jy versigtig trap.”

Bruin mense het nie vergeet hoe wit Afrikaanstaliges hul bruin taalgenote in die tande geskop het nie, as ek Du Plessis mag aanhaal. Die Afrikaner-Natte se beskamende optrede toe hulle bruin mense in die 1950’s van hul stemreg ontneem het, is nog vars in die geheue.

“Moet bruin mense se getalle al weer die wit mense en hul taal kom red?” vra ’n bruin onderwyser nou die dag by ’n Woordfeesgesprek oor ’n nuwe boek oor Adam Small.

Voeg hierby die Afrikanerna­sionaliste wat talle onregte teenoor hul bruin familie gepleeg het, en Afrikaans as hul alleenbesit beskou al het bruin mense net soveel tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra, en dit is te verstane dat bruin mense hierdie skielike toenadering met agterdog sal bejeën en op enkele uitsonderings na nooit dieselfde oor Afrikaans sal voel as hul wit taalgenote nie.

Maar ons is nou hier, so wat doen ons daaraan?

“Ons kan begin deur bruin mense se gevoelens veel meer te respekteer as wat tot nou toe die geval was,” sê Scholtz. En, wil ek byvoeg: Bruin mense kan begin om positief op hierdie uitreiking te reageer. 26 jaar gelede moes ek oor my eie vrese kom en die sielkundige Rubicon oorsteek wat my jare lank passief en stom gehou het. “Na die duiwel met diegene wat my wil verguis oor ek trots Afrikaans is,” het ek besluit. Ek wil hoop dat ek ander bruin Afrikaanses sal motiveer om dieselfde te doen.

Maar dit beteken nie dat ek met Du Plessis saamstem as hy die verantwoordelikheid van Afrikaans se toekoms terstond aan bruin mense wil oorhandig nie. Daar is eenvoudig te min van ons. Daardie mantel moet eenvoudig op die jeug val. Let wel, die verenigde jeug van die nuwe Suid-Afrika.

Foto:

Die volwassenes wat die Beloofde Land in 1994 binnegegaan het, het verstrengel geraak in hul eie argumente, hul alewige stryery en geheime agendas. Die verantwoordelikheid wat op die skouers van die jeug rus, is dus baie meer as net die toekoms van Afrikaans. Dit vereis respek vir alle tale. Want in die proses van nasiebou het almal wat werklik help bou aan ’n nuwe Suid-Afrika, lank reeds agter­gekom dat ons toekoms meer­talig is.

Die jeug van 2018 leef naas mekaar en kommunikeer in vele tale – anders as ons voor 1994. Ook die pas aangekondigde taalbeleid vir hoër onderwys vereis van ons om meertaligheid te bevorder. Pleks dat ons vashaak by die debat tussen Afrikaans of Engels, sal ons meer as net lippediens moet bewys aan die inheemse moedertale van ons land.

Sodoende sal die toekomstige Suid-Afrikaner respek vir mekaar se tale en dus ook vir mekaar kry. Dit vereis nuwe inisiatiewe en kreatiewe denke.

Een so ’n inisiatief is die Amagama-projek, wat twee jong Xhosa-dosente in my departement (Jana Nel en Pumla Kese) by die onlangse Woordfees bekend gestel het. Feesgangers wat hieraan deelgeneem het, kon elke dag tien nuwe Xhosa-woorde leer.

Teen die einde van die fees kon die feesgangers ’n eenvoudige gesprek met hul Xhosa-landgenote voer! Dis dié soort kreatiewe denke wat benodig word in die nuwe Suid-Afrika.

Pleks van onsself verlam deur te tob oor ons foute van die verlede, kan ons die bietjie energie wat ons nog oor het gebruik om jongmense te beklee met vaardighede om hul plek in die nuwe Suid-Afrika vol te staan. Een hiervan is meertaligheid. Ons sal ná dese die diskoers oor taal in ’n ander rigting moet stuur.

Terwyl ons as Afrikaanssprekendes moet voortgaan om Afrikaans te bevorder, moet ons nie blind en onsensitief wees vir die gelykmakende rol wat Engels en veral ons inheemse tale kan speel op ’n baie ongelyke speelveld nie. Slegs dán sal ons as ’n nasie in harmonie met mekaar kan leef in hierdie mooi land.

  • Prof. Michael le Cordeur is hoof van die departement kurrikulum­studie in die fakulteit opvoedkunde aan die US. Hy is ook lid van die direksie van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging en Het Jan Marais Nationale Fonds.
Meer oor:  Wit Mense  |  Taal  |  Afrikaans  |  Rasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.